Die gemiddelde gewig van die vyf swaarste spelers in die Wêreldbeker-toernooi in Japan is ’n raps minder as hul eweknieë van die 2015-toernooi, maar is steeds sowat 13 kilogram per speler swaarder as die 1987-toernooi se grootste bielies.

Zegami, ’n data-ontledingsmaatskappy van Engeland, het statistieke van die vorige agt toernooie onder die vergrootglas geplaas en gekyk na die swaarste, langste, oudste en die jongste spelers oor die jare.

Die Springbok-stut Os du Randt en Engelse slot Richard West (onderskeidelik 130 kg en 127 kg) het in 1995 onder die drie swaarste spelers in die toernooi getel.

Die Springbok-stut Os du Randt en Engelse slot Richard West (onderskeidelik 130 kg en 127 kg) het in 1995 onder die drie swaarste spelers in die toernooi getel.

Ben Tameifuna, stut van Tonga, is op 151 kg vanjaar se swaarste speler, gevolg deur Tom Francis van Wallis (135 kg).

Tameifuna, Francis, Levan Chilachava van Georgië, die Aussie Taniela Tupou en Rhys Carre van Wallis is in die topvyf en weeg saam gemiddeld 136,8 kg.

Die groot vyf van 1987 (Franco Berni, Dean Richards, Stuart Evans, Neil Francis en Tom Lawton) het saam gemiddeld 123 kg geweeg.

Volgens Zegami het daar ander interessante statistieke na vore gekom.

Die Fidjiaanse reus Nemani Nadolo is die swaarste vleuel ooit in die toernooi.

Nadolo, wat ook vir die Crusaders Superrugby gespeel het, het die skaal op 130 kg laat kreun toe hy sy land in die 2015-toernooi verteenwoordig het.

Dít nadat die All Black Jonah Lomu (118 kg en 1,96 m) in 1995 as ’n “frats” in wêreldrugby beskou is.

Nadolo was ook aansienlik swaarder as die swaarste vleuel in die eerste toernooi in 1987, Adrian Hadley van Wallis.

Die Bok-slot RG Snyman is die langste van al die hemelbesems. Foto: Getty Images

Hadley was destyds ’n stewige 99 kg – lank voor die dae wat die meeste vleuels en senters meer as 100 kg geweeg het.

Selfs sonder die Ierse hemelbesem Devin Toner (2,10 m), wat nie Ierland se WB-groep gehaal het nie, is die vyf langste spelers vanjaar effens langer as die vorige toernooi se lang manne.

Met Toner afwesig, is RG Snyman van Suid-Afrika met sy 2,06 meter-lange lyf vanjaar se langste speler.

Sam Conway, uitvoerende hoof en medestigter van Zegami, sê dié data laat jou net weer besef hoe merkwaardig die toename in grootte in die moderne era is, veral in die agterlyn waar ’n senter van 108 kg deesdae allesbehalwe die uitsondering is.”