’n Stelskopstryd sal in die geval van ’n gelykopuitslag in die naweek se Wêreldbeker (WB)-halfeindstryde die laaste opsie wees om te bepaal wie tot die eindstryd deurdring.

’n Gelykop uitslag in een of albei van Saterdag en Sondag se halfeindstryde in Jokohama is onwaarskynlik, maar nie onmoontlik nie.

In Saterdag s’n is daar min te kies is tussen Engeland en die All Blacks. Die uitslag in Sondag se kragmeting tussen die Springbokke en Wallis kan ook tot in die laaste paar minute van die kragmeting in die weegskaal wees.

Rassie Erasmus mag nie self pale toe skop nie, maar wie sal hy benoem om pale toe te skop in ’n strafskopstryd? Foto: AP

Die Bokke het sedert 2017 byvoorbeeld al in drie toetse gelykop gespeel. Twee daarvan was teen die Wallabies in Perth en Bloemfontein. Die tellings in daardie wedstryde was onderskeidelik 23-23 en 27-27. Vroeër vanjaar was die telling 16-16 in die Bokke se Rugbykampioenskap-toets teen die All Blacks in Wellington.

In 1999 se WB-halfeindstryd tussen die Bokke en Wallabies was die telling ook gelykop ná die verstryking van normale speeltyd.

Dan was daar natuurlik ook die twee beroemde eindstryde, in 1995 en 2003, waar die Springbokke en Engeland onderskeidelik danksy skepdoele in bykomende speeltyd as kampioene gekroon is.

Enigiets is dus die naweek moontlik.

Volgens die Wêreldbeker se toernooireëls, sal die volgende stappe gevolg word om die wenner te bepaal indien sake ná amptelike speeltyd gelykop is:

* Spanne sal ná die eindfluitjie vyf minute gegun word om te rus. Hulle sal daarna in twee helftes van tien minute elk betrokke wees.

* Indien sake daarna steeds gelykop is, sal hulle vyf minute rus waarna hulle in ’n verdere tien minute sal speel. Die span wat eerste punte in dié tien minute aanteken, sal as die wenner gekroon word.

* Die stelskopstryd sal slegs plaasvind indien daar steeds nie ná 30 minute se bykomende speeltyd steeds nie wenner is nie.

s
'n Voorstelling van die verskillende posisies op die veld vanwaar skoppers pale toe sal korrel.

Slegs spelers wat ná die laaste tien minute van bykomende speeltyd op die veld was, mag aan die skopstryd deelneem. Elke span moet dan vyf spelers vir die stelskopstryd benoem en die volgorde waarin hulle moet skop, bepaal.

Die vyf spelers van elke span sal vanaf drie verskillende plekke op die kwartlyn pale toe skop.

Die span wat met die meeste skoppe slaag, word as die wenner gekroon.

* Indien die spanne gelyke sukses met die skopstryd behaal nadat al vyf skoppers van elke span kans gekry het, sal ’n valbylskopstryd intree totdat iemand skeefkorrel.

Steve Hansen, afrigter van die All Blacks, het vandeesweek, luidens ’n berig op Reuters, bevestig dat sy spelers wel al vir so ’n skopstryd geoefen het.

Die All Blacks is veral bedag hierop gegewe wat vroeër vanjaar met hul krieket-eweknieë in die WB-kriekettoernooi in Engeland gebeur het.

Die Kiwi’s en Engeland het toe ewe veel lopies in hul toegelate 50 boulbeurte aangeteken en toe weer in die superboulbeurt. Engeland is slegs as die wenner aangewys omdat hy die meeste grenshoue in die eindstryd geslaan het.

* ’n Skopstryd was nog nooit nodig om die wenner van ’n uitklopwedstryd in ’n Wêreldbeker-toernooi te bepaal nie.