’n Japanse nagklub het strafregtelike klagte teen ’n groep rugbyspelers van Uruguay ingedien omdat hulle na bewering tydens die Wêreldbekertoernooi derduisende rande se skade aangerig het.

Die nagklub in Koemamoto beweer die spelers het op 14 Oktober in die vroeë oggendure die eiendom beskadig en ’n personeellid platgeduik nadat hulle deur Wallis uit die toernooi geboender is.

Volgens die klub se regsverteenwoordiger het spelers en nagklubpersoneel skade van $9 000 aan ’n platejoggie se toerusting aangerig. ’n Werknemer is glo lig beseer toe hy in die onderonsie op die grond beland het.

“Die skade word geraam op sowat vier miljoen jen (sowat R135 000), wat verlore sake-ure insluit omdat die eienaar die klub weens die voorval moes sluit,” sê die prokureur Hiroki Kisjimoto, berig Rugby365.

“Die polisie sal die saak ondersoek en aan die aanklaers vir oorweging voorlê. Die eienaar is kwaad omdat die span Japan verlaat het sonder om verskoning te vra. Hy is teleurgesteld dat die voorval gebeur het op ’n tydstip dat die land so opgewonde oor die toernooi was.”

Kisjimoto het ook bevestig dat die eienaar oorweeg om ’n klag van aanranding aanhangig te maak omdat een van sy personeellede in die voorval beseer is.

Verskeie spelers het na bewering hul drankies gemors, mure en spieëls met hul vuiste geslaan en selfs ’n opgestopte speelgoedbeer uitmekaargeskeur. Twee het glo ook ’n personeellid platgeduik.

“Die beweerde voorval is uiters teleurstellend. Dit is duidelik nie in pas met die goeie gees van die toernooi en die spesiale warmte en verwelkoming wat die rugbyondersteuners en spanne van die Japanse publiek geniet het nie,” sê Wêreldbekerrugby in ’n verklaring.

“Ons het namens die toernooi verskoning gevra en dit sal onvanpas wees om verder kommentaar te lewer terwyl die ondersoek aan die gang is.”

– Sportredaksie