Die vreugdevure brand nog hoog in Suid-Afrika ná die Springbokke se verowering van die Wêreldbeker verlede naweek. Twee van ons skrywers, Cobus Claassen en Marnus Kok, het tussendeur die feesvieringe gaan terugkyk na die hoogte- en laagtepunte van dié geskiedkundige rugbyskouspel in Japan.

* Wat was die beste wedstryd van die toernooi?

CC: Die Springbokke se vertoning in die eindstryd was uitsonderlik, maar Engeland se opskudding teen die All Blacks in die halfeindronde nog meer so.

Wanneer laas het ’n span die Kiwi’s met soveel intensiteit en oorgawe getakel?

MK: As opwinding die belangrikste maatstaf is, het die kwarteindstryd tussen Nieu-Seeland en Ierland vir my uitgestaan. Die All Blacks het ongelooflike rugby opgedis om met 46-14 te wen. Die Iere het net geen antwoord gehad om balbesit te verkry of om die All Black-golf te keer nie.

Hoe ongelooflik is dit nie dat dieselfde All Black-span ’n week omtrent uit sy diepte teen Engeland gelyk het?

* Jou gunsteling-oomblik?

CC: Cheslin Kolbe se puik drie in die eindstryd. Dit was die finale doodskoot vir die Engelse en bevestiging dat die Webb Ellis-beker op pad is Suid-Afrika toe.

MK: Seker toe die eindfluitjie in die groepwedstryd tussen Japan en Skotland geblaas het. Dit het beteken dat die Brave Blossoms die eerste keer tot dusver die kwarteindronde haal en die Skotte huiswaarts keer. Om te sien hoe die Japannese spelers emosioneel reageer ná daardie sege, het my diep geraak.

Cheslin Kolbe glip verby Owen Farrell onderweg na sy skitterdrie in die eindstryd. Hy was een van die beste spelers in die WB-toernooi. Foto: Getty Images

* Wat was die keerpunt vir die Springbokke in die eindstryd?

CC: Die drie van Makazole Mapimpi in die 65ste minuut. Engeland het voor dit vir ’n ruk momentum gekry en met ’n voorsprong van ses punte (18-12), was die uitslag steeds in die weegskaal.

MK: Makazole Mapimpi se drie. Kyk, selfs die mees geharde Engelse ondersteuner sal met jou saamstem dat die Rose nooit regtig in die eindstryd was nie. Maar daardie drie; dit was net asof ’n mens daar en dan geweet het die Webb Ellis-trofee gaan die volgende vier jaar staanplek in Suid-Afrika kry.

* Die laagtepunt van die toernooi?

CC: Die groepwedstryde wat weens tifoon Hagibis gekanselleer moes word.

Hoewel dit heeltemal verstaanbaar was, was dit nie ideaal dat die Italianers hul tasse op dié wyse moes pak nie.

MK: Dat Ierland, wat vooraf as een van die voorste aanspraakmakers beskou is om as kampioen gekroon te word, so teleurstellend vertoon het. So goed soos wat die Iere in hul eerste groepwedstryd teen Skotland was, so swak was hulle teen Japan en die All Blacks.

TJ Perenara druk sy skouspelagtige drie in die groepwedstryd teen Namibië. Foto: Getty Images

* Die grootste blaps?

CC: Wêreldrugby se hantering van die Jaco Peyper-foto op sosiale media saam met ondersteuners van Wallis.

Kwit, waar is die rugbybase se sin vir humor?

MK: Skotland se hantering van die tifoon Hagibis het van uiters swak sportmanskap getuig. Die Skotte het gedreig om Wêreldrugby te dagvaar indien hul groepwedstryd teen Japan afgestel moes word, wat Skotland sou verhinder om die uitspeelrondes te haal.

Ek stem saam met diegene wat meen dat Wêreldrugby alternatiewe dae en ander velde gereed moes hê, maar nie net het Mark Dodson, uitvoerende hoof van die Skotse Rugbyunie, met hofsake gedreig nie, hy het ook die slagoffer in die media gespeel. Dít, meneer Dodson, verdien ’n rooikaart.

* Beste speler in die toernooi?

CC: Pieter-Steph du Toit. Die vet weet, hoe groot is sy enjin?

Cheslin Kolbe was regdeur die toernooi byna foutloos en die All Blacks Ardie Savea en Beauden Barrett verdien vermelding.

MK: Die Springbok-vleuel Cheslin Kolbe het reeds baie lof gekry vir sy vertoning in Japan, maar ek dink hy verdien nog baie meer. Met sy grootte het hy bewys dat mens nie ’n reus hoef te wees om jou stempel op die internasionale verhoog af te druk nie.

Kolbe is daardie tipe speler wat ondersteuners vertrou. Hy gaan iets uit niks maak, hy gaan duikslae uitvoer, hy gaan balle vang. Hy is daardie tipe speler waarmee jy in jou geledere vir enige teenstander kans sien.

Nigel Owens in gesprek met die Engelse kaptein, Owen Farrell. Owens het in Japan gewys waarom hy straks die wêreld se beste blaser is. Foto: Getty Images

* Speler wat die meeste teleurgestel het?

CC: Die Ierse skakelpaar, Johnny Sexton en Conor Murray, het met ’n yslike reputasie in Japan aangekom.

Gaaf, Ierland se agttal moes ’n groter faktor gewees het, maar hoe minder daar oor Sexton en Murray geskryf word, hoe beter.

MK: Die Springbok-heelagter Willie le Roux se vermoëns is welbekend en juis daarom het sy vertonings in Japan (eindstryd uitgesluit) my teleurgestel.

Bernard Foley, losskakel van Australië, was swak en die Skotse heelagter Stuart Hogg, wat ’n groot reputasie het, was ’n passasier in ’n sukkelende Skotse span.

w
Grafieka24

* Beste skeidsregter in toernooi?

CC: Jérôme Garcès het homself genadiglik goed van sy taak gekwyt in die eindstryd, maar was dit nie vir die kuitbesering wat Nigel Owens in die halfeindronde opgedoen het nie, sou dié eer hom weer te beurt geval het.

MK: Ek het ’n broertjie dood aan skeidsregters wat dikwels onnodig deurloop onder sommige ondersteuners se skerp tonge.

Ek dink Nigel Owens van Wallis, wat onder andere die halfeindstryd tussen Engeland en Nieu-Seeland hanteer het, was uitstaande. Dit het deurgaans gelyk asof hy goed met die spelers op die veld en die assistent-skeidsregters kommunikeer en konsekwent die reëls toegepas het.

* Beste drie in die toernooi?

CC: Daar was so baie. Kolbe se drie in die eindstryd is sonder twyfel ’n sterk kandidaat, maar TJ Perenara se poging langs die kantlyn af in die groepwedstryd tussen die All Blacks en Namibië, was ’n lus vir die oog.

MK: Die All Black-vleuel George Bridge se drie teen Suid-Afrika in die twee spanne se groepwedstryd het vir my uitgestaan.

Ek bedoel, dit het omtrent al die elemente bevat van dít waarvoor Nieu-Seelandse rugby bekend is: ’n Voetaangee deur die losskakel Richie Mo’unga en kraglopies deur spelers soos die flank Ardie Savea en die vleuel Sevu Reece, met Bridge wat gaan afrond het.

* Wat moet Wêreldrugby verander voor die volgende WB-toernooi in 2023?

CC: Die kliniese wyse waarop die hoogvat-reël toegepas word. Daar is hopeloos te veel 50/50-beslissings, wat ’n groot invloed op die uitslag van wedstryde kan hê.

MK: Ek sal graag wil sien dat die getal deelnemende spanne van 20 na 16 verminder word. Met respek gesê, spanne soos Rusland, Kanada en Namibië hoort nie saam met die groot kanonne van wêreldrugby nie.

Te veel ondersteuners wens die groepwedstryde om, sodat die “regte” toernooi in die kwarteindronde kan begin.

* Moet Wêreldrugby in 2027 weer die spel se vlerke sprei en dit na ’n land soos Amerika neem of het die tyd aangebreek om SA weer ’n beurt te gee?

CC: Japan was ’n fantastiese gasheer, maar Suid-Afrika moet die gunsteling wees om die 2027-toernooi aan te bied.

Dit sal immers beteken dat Suid-Afrika die eerste keer in 32 jaar dié kans kry.

MK: Dit sal wonderlik wees as Suid-Afrika weer die geleentheid kry om die Wêreldbeker-toernooi aan te bied. Die land het reeds tevore, in 1995, en met byeenkomste soos die Wêreldbeker-sokkertoernooi, gewys dat hy oor die kundigheid beskik om iets van daardie omvang suksesvol aan te bied.

As Wêreldrugby regtig ernstig is daaroor om die spel uit te brei, is Amerika egter ook nie ’n slegte opsie nie.

* Hoogtepunte van WB-eindstryd:

* Hoogtepunte van All Black teen Ierland: