Die deksel van die Webb Ellis-trofee waarmee die Springbokke die land vol reis om hul oorwinning in die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi te vier, het nie voete gekry nie.

Dit nadat sosiale media gegons het nadat die deksel nie op die trofee was toe die Bokke Sondag Port Elizabeth as deel van hul oorwinningstoer besoek het nie.

Maar ’n woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie sê die deksel is veilig. “Dit is beter om nie die risiko te neem dat dit kan afval nie.”

Ene Tshiamo Raphalane het op Twitter gevra wat van die deksel geword het. Ene Mlotshwa het geskerts dat die Springbok-skrumskakel Faf de Klerk “dit reeds verloor het”.

* Die Springbokke sluit hul toer deur die land met die Webb Ellis-trofee Maandag in Kaapstad af. – Sportredaksie