Die organiseerders van die Wêreldbeker-toernooi in Japan het Donderdag twee groepwedstryde wat Saterdag sou plaasvind afgestel weens die bedreiging wat die tifoon Hagibis inhou.

Hagibis is op koers om teen die naweek Foekoeoka aan Japan se noordwestelike kuslyn te tref.

Dié supertifoon kan oorstromings veroorsaak.

Die hele Japan word ook gewaarsku dat ’n sterk wind van tot 270 km/h groot ontwrigting kan meebring.

Die Japanse Meteorologiese Agentskap (JMA) sê die tifoon Hagibis is baie kragtig.

LEES OOK: Bokke sal moet kyk hoe die wind waai

Die beheerliggaam, Wêreldrugby, sê hulle het die risiko’s wat die tifoon inhou deeglik saam met die plaaslike organiseerders, wat onafhanklike weerkenners aangestel het, oorweeg.

Die naweek se groepwedstryde is dus gekanselleer.

“Ons het die moeilike, maar regte besluit geneem om van die wedstryde weens veiligheidsredes te kanselleer,” sê Wêreldrugby in ’n verklaring wat vroeg Donderdag Suid-Afrikaanse tyd uitgereik is.

Twee groepwedstryde wat Saterdag (plaaslike tye onder aangedui) gespeel word is gekanselleer.

Dit is die All Blacks teen Italië (13:45) wat in Toyota teen mekaar sou speel en Engeland teen Frankryk (17:15) in Jokohama.

Die wedstryd tussen Ierland en Samoa (19:45) in Fukuoka en Vrydag se wedstryd tussen Australië en Georgië (19:15) in Sjizoeoka gaan voort. 

“Die besluit om wedstryde te kanselleer is nie ligtelik geneem nie. Dié besluit is gedoen in die belang van die publiek, spanne en almal wat betrokke is in die toernooi. Ons het alle opsies oorweeg, maar die publiek en spanne se veiligheid is ons eerste prioriteit.”

Wêreldrugby sê hulle wou ook seker maak dat hulle regverdig optree teenoor die spanne wie se wedstryde gekanselleer is.

Hulle het dus besluit dat, volgens die toernooi se reëls, die spanne wie se wedstryde gekanselleer is, twee punte elk sal kry.

“Ons verstaan dat Engeland, Frankryk, Italië en Nieu-Seeland se ondersteuners teleurgesteld sal wees, maar ons vertrou dat hulle dit sal waardeer dat ons hul veiligheid eerste gestel het.”

Wêreldrugby sê hulle sal almal wat kaartjies vir dié wedstryde gekoop het, se geld ten volle terugbetaal.

Hulle het ’n beroep op alle ondersteuners gedoen om eerder Saterdag binnenshuis te bly en nie rond te reis nie. 

supertifoon