Ierland se afrigter, Joe Schmidt, het bevestiging van Wêreldrugby gekry dat drie strafskoppe wat teen hulle in die wedstryd teen Japan toegeken is, verkeerde beslissings deur die Australiese skeidsregter Angus Gardner en sy wedstrydbeamptes was.

Japan het die Iere geskok deur die wedstryd Sondag in Sjizoeoka met 19-12 te wen.

“Ons is vier keer vir onkantspel gestraf, en ons het nou terugvoering ontvang dat drie daarvan verkeerde beslissings was,” sê Schmidt volgens irishtimes.com

“Twee van die beslissings op aanbeveling van die assistent-skeidsregter (Jérôme Garcès). Hy gaan Donderdag ons skeidsregter (teen Rusland) wees, so ons weet ons sal goeie dissipline moet handhaaf.

Joe Schmidt, afrigter van Ierland. Foto: Getty Images

Ierland het nie net teen Japan nie, maar ook in sy eerste wedstryd van die toernooi, teen Skotland, die meeste strafskoppe in die wedstryd afgestaan. Teen die Skotte was Wayne Barnes die skeidsregter.

Schmidt erken dit is iets waarna sy span moet kyk. Die Iere kom Donderdag in hul derde wedstryd in die toernooi teen Rusland te staan.

Die losskakel Johnny Sexton is een van 11 veranderinge aan die beginspan wat teen die Japannese vasgeval het. Sexton gaan die span aanvoer.

– Sportredaksie