Wêreldrugby het in ’n ongekende stap toegegee sy skeidsregters het in die eerste naweek van die Wêreldbeker-toernooi in Japan te veel blapse gemaak.

Dié beheerliggaam het in ’n verklaring die standaard van die blasers sover in dié toernooi gekritiseer.

Dít kom nadat daar verskeie omstrede voorvalle was in die eerste paar wedstryde.

“Die beamptes erken hulle vertonings voldoen nie aan die standaarde wat Wêreldrugby en hulself stel nie.”

Maar, het Wêreldrugby bygevoeg, “hy is vol vertroue dat van die hoogste standaarde vorentoe gesien sal word”.

Daar was onder meer groot ongelukkigheid oor die gevaarlike duikslag van die Wallaby-vleuel Reece Hodge Saterdag op Peceli Yato, flank van Fidji.

Yato het die veld met harsingskudding verlaat en Hodge is sedertdien uitgewys.

Hoewel Hodge Woensdag sy saak voor ’n tugkomitee moet stel, is daar diegene wat meen hy moes tydens die wedstryd ’n rooikaart gekry het.

YOKOHAMA, JAPAN - SEPTEMBER 21: Referee Jerome Gar
Die skeidsregter Jerome Garces. Foto: Getty Images

Mario Ledesma, afrigter van Argentinië, was op sy beurt warm onder die kraag oor ’n voorval laat in sy span se wedstryd teen Frankryk, wat die Hane naelskraaps gewen het.

Louis Picamoles, ’n plaasvervanger van Frankryk, het met speeltyd byna verstreke ’n aangee van die Poemas onderskep toe hy duidelik onkant was.

Ledesma was ook ontevrede oor Angus Gardner se “vreemde beslissings” in die skrums.

Danny Care, ’n skrumskakel van Engeland, het in ’n onderhoud gesê Picamoles moes gestraf gewees het en dat dit ’n groot invloed op die uitslag van die wedstryd gehad het.

“Dit is vir my die verskil tussen ’n span wat in die groepfase huis toe gaan en ’n span wat deurdring na die kwarteindronde.

“Dit was regtig swak, hy (Picamoles) was ’n meter onkant. “Ek weet nie waarna die vlagmanne kyk nie,” het Care gesê.

Die Fransman Jérôme Garcès het hom die gramskap van baie Springbok-ondersteuners op die hals gehaal vir sy vertoning in die Bokke se wedstryd teen die All Blacks.

Hy word veral vir sy beslissings by die afbreekpunte gekritiseer.

Daar is ook verskeie foto’s en video’s op sosiale media gedeel van voorvalle waar die All Blacks, waaronder hul kaptein, Kieran Read, hulle aan vuilspel teen die Bokke skuldig gemaak het. Nie een van hulle is Saterdag gestraf nie.

Garcès se hantering van die vaste skrums is ook gekritiseer.

Wêreldrugby het in 2015 erken die Suid-Afrikaanse skeidsregter Craig Joubert het ’n groot fout gemaak in die WB-kwarteindstryd tussen Australië en Skotland.

Dit is egter die eerste keer dat hy in die algemeen uitvaar oor sy blasers se vertonings. – Sportredaksie, BBC