Die Kfm-omroeper en komediant Darren “Whackhead” Simpson wou Eddie Jones, afrigter van die Engelse Rose-rugbyspan, Vrydag ’n poets bak om dié span se strategie vir Saterdag se Wêreldbekereindstryd in Japan uit te vind.

Eddie Jones. Foto: Getty Images

Hy noem dit sy “Thuma Mina, send me”.

Simpson het hom as die voormalige Springbok-afrigter Jake White voorgedoen.

Simpson, wat daarvoor bekend is dat hy soggens op die radio poetse met mense bak, het die hotel in Tokio, Japan, gebel waar Jones en die span tuisgaan.

Jones was nie beskikbaar nie, maar Simpson kon met Hiroko, die afrigter se vrou, gesels.

White en Jones het in 2007 tydens die Wêreldbeker-toernooi nou saamgewerk en hy het gehelp dat die Bokke wen, sê Simpson.

Hy sê die rede vir die “spioenasie” is omdat die groot vraag is wat Engeland se taktiek teen Suid-Afrika gaan wees. As dit dieselfde as teen die All Blacks van Nieu-Seeland is, gaan dit ’n spannende wedstryd wees, sê Simpson.

Hy sê Jones weet hoe die Bokke gaan speel, maar hulle weet nie wat hý gaan doen nie.

Daarom meen hy die Springbokke moet voorbereid wees. Omdat hulle nie spioeneer nie, sal hy die werk daarom vir hulle doen, sê Simpson.

“Eddie Jones is bekend daarvoor dat hy by sy teenstanders se oefeninge spioeneer. Hy stuur spioene en is al ’n paar keer tevore betrap waar van sy spioene by die teenstander se oefeninge was,” sê Simpson.

Dan word hy uiteindelik na Jones se telefoon deurgesit, en hy praat met Hiroko.

“Hallo Hiroko, dis Jake White,” begin hy die telefoongesprek.

“Omdat ons klaarblyklik vriende is, wou ek net vir hom sterkte toewens vir die wedstryd.”

Omdat ons klaarblyklik vriende is, wou ek net vir hom sterkte toewens vir die wedstryd.

Dan vra hy prontuit vir Hiroko wat Jones se strategie gaan wees. “Wat het hy gesê is sy strategie? Wat gaan hy doen,” vra Simpson.

Dan verwys hy na die Wêreldbeker-toernooi waar hy en Jones goed saamgewerk het.

Hiroko bly eers stil, maar bieg dan dat die span hard vir die Bokke gaan kom. Andersins weet sy nie wat Jones verder beplan nie, sê sy.

Simpson skeer verder gek met haar en sê Jones moet daarop voorbereid wees dat die Springbokke die leeuloop gaan doen.

Hy sê sy moet op YouTube kyk wat die leeuloop is.

Simpson “waarsku” ook hoe Erasmus die skrumskakel Faf de Klerk en Tendai “Beast” Mtawarira in die wedstryd gaan gebruik.

Luister hier: