Die Amerikaner wat met die ongewenste prestasie spog dat hy die eerste rugbyspeler was wat vanjaar met ’n rooikaart van die veld gestuur is by die Wêreldbeker-toernooi in Japan, het sy uittrede aangekondig.

John Quill (29), ’n losvoorspeler en boorling van Ierland, is in die Eagles se eerste wedstryd van die toernooi afgestuur nadat hy ’n duikslag op die Engelsman Owen Farrell uitgevoer het sonder om sy arms te gebruik.

Dit het die einde van Quill se toernooi beteken, omdat hy vir drie wedstryde geskors is en Amerika nie vir die uitkloprondes gekwalifiseer het nie.

Dié situasie was ironies aangesien Farrell in 2018 in die spervuur was vir duikslae waarin hy nie sy arms gebruik het nie, maar nooit gestraf is nie.

“Elke wedstryd was ’n geskenk gewees,” sê Quill in ’n verklaring op die Amerikaanse Rugbyunie se webtuiste.

“Ek voel bevoorreg om die trui so baie te kon dra. Die vriendskappe en ervaring wat ek langs die pad opgedoen het, sal ek die res van my lewe met my saamdra.”

Quill, wat Amerika ook by die Wêreldbeker-toernooi in 2015 verteenwoordig het, het 37 keer vir sy aangenome land diens gedoen.

Gary Gold, afrigter van die Eagles, het Quill bedank vir sy bydrae sedert hy sy toetsbuiging in 2012 gemaak het.

“Hy het ’n ongelooflike werksetiek gehad en was baie mededingend. Sy gehardheid en fisieke benadering (tot die spel) sal baie gemis word.” – Reuters