Die Springbokke gaan die Engelse Saterdag pap duik.

Só meen Danie Rossouw, eertydse ysterman in die Bok-agttal en ’n lid van Suid-Afrika se Wêreldbeker-kampioenspan van 2007.

Dié span van Jake White het Engeland daardie jaar met 15-6 in die eindstryd in Parys, Frankryk, verslaan.

Daar is, volgens Rossouw, nie ’n span in die 2019-toernooi wat so onverskrokke en meedoënloos onder die teenstanders inklim soos die Bokke nie.

“Ek dink daar wag ’n verrassing op die Engelse. Hulle was uitstekend (in die halfeindstryd) teen die All Blacks, maar ’n eindstryd is ’n heel ander en ’n nuwe uitdaging.

“Ons is baie fisiek en ons verdedig ongelooflik goed.”

Wát? Mark Cueto gooi sy arms verbaas in die lug nadat daar beslis is die punt van sy stewel het die kantlyn geraak voordat hy die bal in die doelgebied geplaas het. Foto: Getty Images

Hy vermag nietemin dat daar nie veel tussen die spanne sal wees nie.

“In sulke wedstryde word daar gewoonlik baie geskop en dit kan dalk een belangrike duikslag of ’n skepdoel wees wat die verskil tussen wen of verloor is.”

Soos in 2007 – toe daar saam met Rossouw harde manne soos Os du Randt, Bakkies Botha, Schalk Burger en Juan Smith in die Bok-agttal was – is daar ook nou ’n paar kolosse in die pak.

“Ek dink die huidige ouens mag dalk meer skietgoed hê as wat ons gehad het. Duane Vermeulen is ’n speler vir wie ek baie respek het.

“Hy is al vir soveel seisoene die bestendigste agtsteman in wêreldrugby en Pieter-Steph du Toit se werkverrigting is skrikwekkend hoog.

“Eben Etzebeth is ’n yster en dan is daar ook plaasvervangers soos RG Snyman, Franco Mostert en Steven Kitshoff, wat in die tweede helfte ’n hengse impak maak.

“Ek is baie positief oor ons kanse.”

Rossouw word veral onthou vir sy desperate duikslag op die Engelse vleuel Mark Cueto in die 43ste minuut, wat ’n sekere drie in die 2007-eindstryd sou gewees het.

Stuart Dickinson, die TV-skeidsregter in die eindstryd, het vele hoeke van die drie bekyk en uiteindelik beslis die punt van Cueto se stewel het die kantlyn geraak en dat die drie nie deur die blaser Alain Rolland toegeken kon word nie.

Cueto het vandeesweek aan theguardian.com gesê hy is steeds oortuig dit was ’n drie.

“Almal spot met my wanneer ek sê dit was ’n drie, maar ek dink eerlikwaar dit wás.

“Daar was ’n miljoen kamerahoeke wat aangedui het dat ek gaan druk het en net een wat dit 50/50 gemaak het.”

Cueto glo Engeland sou die beker omhoog gehou het as die drie hom beskore was.

Ook meen hy, sou dit beslis ’n drie gewees het as die tegnologie wat deesdae beskikbaar is, in 2007 ingespan kon word.

Rossouw sê dit is “vreemde ou koeie” waarmee Cueto vorendag kom.

“Daar is ’n foto wat duidelik wys hoe sy voet die lyn raak voordat hy die bal plaas.

“Ek dink net dit was ons dag gewees. Al het hy daar gaan druk, sou ons steeds die beker gewen het,” sê Rossouw.

Daar is destyds oor Cueto se “drie” gesê:

* “Dit is die TV-skeidsregter se taak. Hy neem die besluite en jy moet die goeie saam met die slegte aanvaar.” – Eddie Jones, afrigter van Engeland, was in 2007 ’n konsultant en ’n lid van die Springbokke se afrigtingspan.

* “Ek aanvaar die beslissing. Ons moet aanbeweeg en daar is niks wat jy daaraan kan doen nie.” – Brian Ashton, Engeland se breier in 2007.

* “Dit was ’n senutergende oomblik. Ons wou toegeslaan het net ná rustyd (die Bokke het ’n voorsprong van 9-3 gehad) en dit het gelyk of hulle ’n vyfpunter gaan kry.” – Schalk Burger, die Bok-flank.

Bron: SA Rugbyjaarboek, 2008.