Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
WB-Sokker
Belgiese goue generasie nié meer verlore

Die Belgiese goue generasie het die gevaar geloop om in middelmatigheid te verval.

Maar nou, met die Sokkerwêreldbeker-eindstryd nog net een hekkie weg, is dit binne dié geslag van uiters begaafde spelers se bereik om hulself in die geskiedenisboeke te verewig.

België se briljante spelskepper Kevin De Bruyne vier sy doel teen Brasilië. Foto: AP Photo

Jan Vertonghen, ’n Belgiese verdediger, was oorstelp van vreugde ná sy span se sege van 2-1 in hul kwarteindstryd teen Brasilië. België sal nou Dinsdag om 20:00 teen ’n briljante Franse span in die halfeindronde te staan kom. Frankryk het Uruguay met 2-0 in hul kwarteindstryd geklop.

“Ons kon so maklik die verlore generasie gewees het, maar dit is nou nie meer die geval nie. Ons het baie meer in onsself geglo teen Brasilië as wat die geval byvoorbeeld in 2016 in die Europese Kampioenskap teen Wallis was. Ons het alles gegee,” sê Vertonghen.

Die spil waarom die Belgiese aanval draai, Kevin De Bruyne, hou vol sy span kan die beker wen. Hy het een van sy span se twee doele teen Brasilië aangeteken. Dít het België gehelp om vir die eerste keer sedert 1986 die halfeindstryd te haal.

“Ons ambisie is om in die eindstryd te speel. Dit is die wedstryd waarin almal wil speel, die wedstryd waarna die hele wêreld kyk,” sê De Bruyne.

“Frankryk is ’n uitmuntende span, maar die verskil tussen wen en verloor gaan baie klein wees.”

Die Belgiese verdediger Vincent Kompany staal hom vir ’n titaniese stryd teen die Franse, wat spelbrekers soos die jong Kylian Mbappé, Paul Pogba, Antoine Griezmann en Olivier Giroud in hul geledere het.

“Dit gaan nog ’n eindstryd teen die Franse wees. Dít wat ons tot dusver bereik het, is uitstekend, maar ons is beslis nie tevrede nie,” sê Kompany.

“Die ondersteuners kan partytjie hou, maar ons fokus op die wedstryd teen Frankryk. Elke speler wil die hele pad stap.”

Jan Vertonghen, die Belgiese verdediger. Foto: AP Photo

Die Belge het Frankryk in dié spanne se vorige ontmoeting, in 2015 in ’n vriendskaplike wedstryd in Parys, met 4-3 geklop. Tog glo Marouane Fellaini, ’n Belgiese doelskieter wat twee doele in daardie stryd aangeteken het, die Franse is nou ’n baie beter span as destyds.

“Dié Franse span het wasdom bereik en baie ontwikkel sedertdien. Hulle het baie goeie spelers en die gevaar gaan van oral af kom.”

België is die enigste span wat tot dusver al sy wedstryde in die Wêreldbeker-toernooi kon wen. Hulle kom egter teen ’n puik Franse span te staan en die geskiedenis in Wêreldbeker-stryde tussen Frankryk en die Rooi Duiwels is gunstig vir die Franse. Die vorige kragmeting tussen dié twee spanne by dié skouspel het met ’n sege van 4-2 vir die Franse geëindig in die groepfase by die Wêreldbeker-toernooi in 1986.

Didier Deschamps, Frankryk se afrigter, sê sy span het danksy ’n intelligente, berekende plan tot die halfeindronde deurgedring.

Te vinnig vir die kamera! Frankryk se blitsvinnige 19-jarige doelskieter, Kylian Mbappé, kan ’n groot bedreiging vir België inhou. Foto: AP Photo

“Ons het ’n ingewikkelde eerste ronde gehad, sonder om flambojant te wees, maar ons was realisties en doeltreffend,” sê Deschamps.

“Ons het nie weggebreek van dít wat vir ons werk nie. Sedert die wedstryd teen Argentinië het ons van krag tot krag gegaan. Ons was die beter span teen Uruguay, maar ons is steeds nie volmaak nie.

“Ons het nog baie potensiaal wat ons ten toon kan stel. Ons is ’n jong groep, wat nou goed as ’n span saamwerk en meer en meer vasberade word. Jy kan sien ons ingesteldheid is positief en daar is baie vordering.” – MailOnline, Reuters

Uitklopwedstryde: Bepalings en uitslae

Meer oor:  Frankryk  |  Kevin De Bruyne  |  Wêreldbeker  |  Wêreldbekersokker  |  België  |  Wb  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.