Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
WB-Sokker
Fifa se geduld op met Maradona

Fifa het Diego Maradona se uitlatings veroordeel nadat hy te velde getrek het teen die Amerikaanse skeidsregter Mark Geiger in die wedstryd tussen Colombia en Engeland. Hy het gesê die enigste rede vir Colombia se Wêreldbeker-nederlaag was die keuse van Geiger as skeidsregter vir die wedstryd.

Fifa het genoeg gehad van Diego Maradona. Foto: Getty Images

Supersport.com berig die Argentynse sokkerlegende meen Engeland se sege was ’n “grootskaalse diefstal” nadat Gareth Southgate se span Dinsdagaand in Moskou in ’n strafdoelstryd geseëvier het.

“Ek vra die Colombiaanse mense om verskoning, maar hulle moenie die spelers blameer nie. Blameer die man (Fifa se skeidsregterbaas, Pierluigi Collina) wat besluit het wie die skeidsregter gaan wees. ’n Man soos dié (Geiger) behoort nie in beheer van ’n wedstryd van dié omvang te wees nie,” het Maradona aan die Venezolaanse TV-nuusdiens Telesur gesê.

Maradona was Fifa se gas by die wedstryd en is voor die kragmeting in ’n Colombiaanse trui afgeneem.

Wêreldsokker se beheerliggaam het in reaksie gesê hy is “bitter jammer” om die kommentaar te lees van ’n “speler wat die geskiedenis van ons sport geskryf het”.

“Fifa veroordeel Diego Armando Maradona se kritiek teen die skeidsregter se vertoning in die wedstryd tussen Colombia en Engeland ten sterkste. Dit was ’n taai en emosionele kragmeting wat die beampte goed gehanteer het,” sê Fifa in ’n verklaring.

“Ons beskou ook die addisionele uitlatings en insinuasies as heeltemal onvanpas en heeltemal ongegrond.”

Colombia se kaptein, Radamel Falcao, het Geiger ook gekritiseer en sy vertoning as ’n “skande” beskryf.

Geiger het in die tweede helfte aan Engeland ’n strafskop toegeken nadat Carlos Sanchez Harry Kane grond toe gestoei het, maar het ’n oënskynlike kopstamp deur Wilmar Barrios op Jordan Henderson met slegs ’n geelkaart gestraf.

“Dit was duidelik dat hy die 50-50-beslissings in Engeland se guns toegeken het en dit is ’n skande in hierdie stadium van die toernooi,” sê Falcao.

Dinsdagaand se wedstryd tussen Engeland en Colombia was ’n netelige affêre. Foto: Getty Images

Geiger is in 2015 vir ses maande uit internasionale sokker geskors weens ’n klomp omstrede beslissings in ’n Gold Cup-halfeindstryd tussen Panama en Mexiko.

Hy was ook die skeidsregter toe Colombia in 2014 in die Wêreldbekertoernooi in die groepfase 3-0 met Griekeland afgereken het.

Die voormalige Engelse doelskieter Gary Lineker het Maradona se aantygings op Twitter afgelag en na die Argentyn se berugte “Hand of God”-doel teen Engeland in die kwarteindstryd in 1986 verwys.

“Die eenvoudige vermetelheid van die ou wat een (’n doel) met die vuis ingeslaan het. Jy moet hom dit toegee.”

Hy het gesê Maradona het geen reg om te kla terwyl hy een van die grootste verneukers in sokkergeskiedenis is nie.

Engeland pak Swede Saterdag in die kwarteindstryd in Samara.

– Sportredaksie

Uitklopwedstryde: Bepalings en uitslae

Meer oor:  Wb-2018  |  Diego Maradona  |  Wêreldbekersokker  |  Fifa  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.