Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
WB-Sokker
Geskiedenis wink vir Deschamps

Didier Deschamps, afrigter van Frankryk, kan hom Sondagaand by een van die eksklusiefste “klubs” in sokker aansluit.

As Frankryk die Wêreldbeker in Moskou sou verower, sal Deschamps slegs die derde persoon word wat dié prestasie as speler én afrigter behaal het.

Didier Deschamps bedank die Franse toeskouers vir hul ondersteuning nadat sy span Dinsdagaand in St. Petersburg met België afgereken het in die halfeindronde van die Wêreldbeker-toernooi. Foto: Getty Images

Die Brasiliaan Mario Zagallo was die eerste wat dit kon vermag. Hy was as speler lid van die span wat die WB-toernooie in 1958 en 1962 gewen het, waarna hy as afrigter die Brasiliane tot WB-glorie in die 1970-toernooi in Mexiko gevoer het.

Franz Beckenbauer van Duitsland was die volgende persoon wat dié goue “dubbeldoorprestasie” behaal het. Hy was in 1974 kaptein van die seëvierende Wes-Duitsland, waarna hy dié span in 1990 as afrigter gehelp het om die toernooi in Italië te wen.

Deschamps was in 1998 lid van die Franse span wat die WB-toernooi op eie bodem gewen het en het nou die kans om hom by dié uitgelese geselskap aan te sluit nadat Les Bleus hul plek in die eindstryd met ’n sege van 1-0 oor België in die halfeindronde bespreek het.

Deschamps het ná die sege oor België onthul wat sy dryfveer in dié toernooi is.

Volgens hom spook Frankryk se nederlaag met 0-1 teen Portugal in die eindstryd van die Euro 2016-toernooi steeds by hom en wil hy daarvoor vergoed deur sokker se grootste titel in Rusland te wen.

“Ek onthou nog wat twee jaar gelede in Parys in daardie eindstryd gebeur het. Ons het daardie teleurstelling nog nie heeltemal verwerk nie en wil dié saak regstel,” sê Deschamps.

Frankryk se afrigter is ongelooflik trots op wat sy groep spelers reeds vermag het.

Die tienerster Kylian Mbappé en sy Franse spanmaats het oor die Belgiese hekkie geseil en speel nou Sondag in die Wêreldbeker-eindstryd. Foto: Getty Images
Frankryk se president, Emmanuel Macron (regs), het die halfeindstryd in St. Petersburg saam met koning Philippe van België dopgehou. Foto: AP

“Ons is nou al 49 dae saam. Ons moes ’n paar moeilike dinge te bowe kom in dié tyd. Elke speler verdien lof.”

Die 19-jarige Franse ster Kylian Mbappé, wat in 2016 nog nie lid van Frankryk se span was nie, het intussen gesê dis vir hom onwerklik dat hy in ’n Wêreldbeker-eindstryd gaan speel.

“Dis ’n droom der drome. Ek het nie woorde om te beskryf hoe ek voel nie.”

Mbappé, wat die Belgiese verdedigers hoofbrekens met sy lopies besorg het, het ook die tonele in die Franse kleedkamer ná hul sege beskryf.

“Didier en die spelers was oorstelp. Ons het mekaar drukkies gegee. President Emmanuel Macron het ook ’n draai by ons kom maak om ons geluk te wens.”

Toe Mbappé gevra is wat Macron vir die spelers gesê het, het hy geantwoord: “Hy’t gesê hy sou terugkeer vir die eindstryd, sodat hy ons met die Beker kan sien.” – Reuters

* Frankryk speel Sondag om 17:00 (SA tyd) in die eindstryd teen die wenner van Engeland en Kroasië se halfeindstryd. Die wedstryd sal regstreeks op SS 3 en SABC 1 uitgesaai word.

Meer oor:  Frankryk  |  Didier Deschamps  |  Wêreldbekersokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.