Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
WB-Sokker
Kroasië 1ste keer ooit in WB-eindstryd

Kroasië se sokkerspan speel Sondag vir die eerste keer ooit in die eindstryd van ’n Wêreldbeker-toernooi nadat hy Engeland Woensdagaand in bykomende tyd met 2-1 geklop het.

Dit was die derde agtereenvolgende wedstryd waarin Kroasië betrokke was wat langer as twee uur geduur het en sy ondersteuners sal hoop dat hul helde nie tam is wanneer hulle Sondag in die eindstryd teen Frankryk opdraf nie.

Mario Mandžukic van Kroasië nadat hy Woensdagaand die wendoel teen Engeland aangeteken het. Foto: AP

Maar dié span weier eenvoudig om op te gee. Dit het hy in Woensdagaand se halfeindstryd in Moskou wéér gewys toe hy ’n agterstand van 0-1 uitgewis het en tot in die 109de minuut bly soek het na ’n tweede doel.

Mario Mandžukic het die wendoel aangeteken ná ’n aangeë van Ivan Perišic.

Min ondersteuners sou ná vyf minute kon raai dat bykomende tyd nodig sou wees om ’n wenner te beslis.

Engeland het toe al toegeslaan nadat hy ’n vryskop net buite Kroasië se strafgebied gekry het toe Luka Modric Delle Ali in die vyfde minuut gepootjie het.

Engeland se Kieran Trippier trek los met sy vryskop Woensdagaand teen Kroasië wat sy span vroeg met 1-0 laat voorloop het. Foto: AP

Kieran Trippier het die bal met ’n vryskop so uit die teksboek bo oor Kroasië se verdedigingsmuur gelig en die doelwagter, Danijel Subašic, hulpeloos gelaat vir sy eerste internasionale doel.

Engeland het daarna nie net sy voorsprong verdedig nie en hard probeer vir ’n tweede doel met Kroasië se spelers wat tam gelyk het ná twee agtereenvolgende wedstryde wat eers ná bykomende tyd met strafdoele beslis is.

Modric het ook gesukkel om soos gewoonlik sy stempel af te druk.

Engeland kon egter nie die uitklophou plant nie. Harry Kane was nie die faktor van vroeër in die toernooi nie en die heeltemal ondoeltreffende doelskieter Raheem Sterling kon weer niks regkry nie.

Die tweede helfte het aanvanklik nie juis veel opwinding opgelewer nie en albei spanne het gesukkel om hul ritme te vind.

Die toeskouers in Moskou moes uiteindelik langer as ’n uur vir ’n volgende doel wag toe Kroasië se volgehoue druk op die Engelse se toenemend wankelrige verdediging oplaas vrugte afgewerp het.

Ivan Perišic van Kroasië draf verheug weg van die Engelse doelhok nadat hy die telling Woensdagaand in Moskou met 1-1 gelykop gemaak het teen Engeland. Foto: AP

Perišic het in die 68ste minuut voet by ’n dwarsskop van Šime Vrsaljko gekry om die telling met 1-1 gelykop te maak.

Perišic kon skaars vier minute later die sege verseker het, maar sy doelskop het die een regoppaal van die doelhok getref.

Hoewel Sterling uiteindelik in die 74ste minuut vervang is om Engeland meer slaankrag te gee, het Kroasië beheer oorgeneem en bly aanval.

Die Kroate het skielik nie meer na die moeë spelers van vroeër gelyk nie en dit was eerder die Engelse wat gesukkel het om by te hou.

Hul verdediging het glad nie meer die vertroue van vroeër ingeboesem nie en hulle was bra gelukkig om party van die Kroate se aanslae te oorleef voor die eindfluitjie geblaas het om die einde van normale speeltyd aan te dui.

Engeland het moedig probeer terugveg in bykomende tyd. .

Die hartseer was groot vir Engeland se ondersteuners en spelers omdat dit vir ’n uur gelyk het of hul span die eerste keer in 52 jaar tot ’n eindstryd sal deurdring.

Maar uiteindelik het die gehalte, pure durf en uithouvermoë van Kroasië se spelers die deurslag gegee.

* Die berig is aangepas. Die Wêreldbeker-eindstryd vind Sondag plaas, nie Saterdag soos wat aanvanklik berig is nie.

Meer oor:  Kroasië  |  Halfeindronde  |  Wêreldbekersokker  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.