Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
WB-Sokker
Kroasië het hardste gebrul, sê Super-Mario

Kroasië het soos leeus gespeel om Engeland se sokkerspan, ook bekend as die “Three Lions”, in die halfeindronde van die Wêreldbeker-toernooi te verslaan.

Mario Mandzukic en sy spanmaats vier sy wendoel teen Engeland in die halfeindronde van die Wêreldbeker-toernooi. Foto: Getty Images

So sê Mario Mandzukic, die doelskieter wat Engelse harte gebreek het met die wendoel in bykomende speeltyd. Die Kroate het met 2-1 geseëvier en sodoende vir die eerste keer in hul geskiedenis vir die eindstryd gekwalifiseer. Hulle sal Sondag die gedugte Franse span in Moskou pak.

“Dis ’n wonderwerk. Slegs groot spanne kan so dapper wees soos ons was en terugveg ná ’n vroeë agterstand teen spanne soos Engeland,” het Mandzukic bygevoeg.

“Ons het ons hart uitgespeel in dié toernooi. Ons was soos leeus (in die halfeindstryd) en sal dieselfde wees in die eindstryd.”

Zlatko Dalic, Kroasië se afrigter, het op sy beurt sy span se vertoning as ’n “fantasie” beskryf.

Dié breier, wat verlede jaar in Oktober – slegs dae voor Kroasië se finale kwalifiserende stryd teen Oekraïne – eers aangestel is, sê sy span is nog nie klaar in dié toernooi nie.

“Ons verdien om in die eindstryd te wees. Die wyse waarop die ouens teen Engeland gespeel het, was ’n fantasie. Hulle het geskiedenis gemaak. Maar daar is nog een wedstryd om te kom. As dit God se wil is, sal ons die wêreldkampioene word,” sê dié breier.

Pyn vir Kane. Harry Kane sê dit sal hom en sy Engelse spanmaats lank neem om die teleurstelling van hul halfeindstrydnederlaag te verwerk. Foto: Getty Images

Harry Kane, kaptein van die verslane Engeland, het emosies aan die ander kant van die spektrum ervaar en gesê dié pyn sal nog lank saam met hulle wees.

“Dis erg. Ons is stukkend. Ons het so hard gewerk en die ondersteuners was ongelooflik. Dit was ’n 50/50-wedstryd, maar as ons terugkyk, was daar dinge wat ons beter kon doen.

“Ons het egter so hard gewerk as wat ons kon. Dit maak seer, baie seer en sal nog vir ’n lang tyd so voel,” sê die voorste doelskieter in die toernooi.

Volgens Kane het Engeland steeds goeie doelkanse geskep nadat Kieran Trippier hulle reeds in die vyfde minuut die voortou met ’n sublieme vryskop gegee het.

“Maar ons het dalk daarna te veel begin terugval en nie genoeg druk op Kroasië se aanvallende spelers geplaas nie. Uiteindelik is dit klein goedjies wat groot wedstryde soos dié swaai.”

Engeland sal Saterdag as ’n troosprys hoop om België in die stryd om die bronsmedalje te klop. Dié wedstryd skop om 16:00 af. – Reuters en Sportredaksie

Meer oor:  Kroasië  |  Mario Mandzukic  |  Harry Kane  |  Wêreldbekersokker  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.