Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
WB-Sokker
KYK: Gaan die WB-hoofdis ons teleurstel?

Niemand sou doelbewus die toernooi se twee swakste spanne gekies het om die Wêreldbeker-toernooi af te skop nie, maar wanneer Rusland en Saoedi-Arabië Donderdag in Moskou kragte meet, sal hul spelpeil oorskadu word deur die opwinding wat met die wêreld se grootste sportfees gepaardgaan.

Rusland, die gasheerland, en Saoedi-Arabië is verreweg die deelnemende spanne wat die laagste posisies op die wêreldranglys beklee en is boonop albei van stryk af. Tog sal die spel wat hulle in die openingswedstryd in die Luzhniki-stadion opdis, die toon vir die res van dié skouspel aangee.

Met die wêreld se oë op sy sukkelende span gerig, sal Stanislav Cherchesov hoop dat Rusland sy veldtog met ’n oorwinning kan afskop. Foto: AP

Hoewel Rusland slegs die 70ste plek op die wêreldranglys beklee en nie ’n sege in sy afgelope sewe wedstryde kon behaal nie, sal hy steeds optimisties wees dat hy die eerste keer in meer as 30 jaar vir die tweede ronde van die toernooi kan kwalifiseer.

Uruguay en Egipte is die ander spanne in hul groep.

Rusland se afrigter, Stanislav Cherchesov, het die laaste paar maande oortyd gewerk om sy span te herbou nadat ernstige beserings hom van talle van sy ervare spelers beroof het.

Daar was die laaste ruk egter min tekens dat hy vorder, met sy span wat in sy laaste twee opwarmingswedstryde onderskeidelik teen Oostenryk verloor en gelykop teen Turkye gespeel het.

Trouens, dié Russiese span staan in skrille kontras met die een wat in 2008 kwiksilwerspel in die Euro-toernooi gelewer het.

Daar word gevolglik nie hoë verwagtinge vir die tuisspan gekoester nie, maar die grootsheid van dié geleentheid op eie bodem sal sekerlik die span tot groter hoogtes aanspoor.

Die Russiese span het dalk ook ’n troefkaart in sy geledere – die doelskieter Fyodor Smolov. Hy het die afgelope drie seisoene meer as 60 doele vir sy klubspan, Krasnodar, aangeteken en is ’n dodelike afronder. Die groot probleem is dat sy spanmaats ’n manier sal moet vind om hom genoeg in aanvallende posisies in besit te stel.

Saoedi-Arabië se Salem Al-Dawsari rank hoog om besit te wen in ’n opwarmingswedstryd teen Duitsland. Saoedi-Arabië het min sukses in sy slypstryde behaal. Foto: AP

As daar egter een span is teen wie hulle dit kan regkry, is dit Saoedi-Arabië, 67ste op die wêreldranglys. Dié span het sy laaste drie slypstryde teen Italië, Peru en Duitsland verloor en beskik oor min spelers met bewese internasionale ervaring.

In ’n poging om sy spelers meer internasionale blootstelling te gee, het dié land se sokkervereniging nege van sy spelers aan Spaanse klubs geleen vir die tweede helfte van die Europese seisoen.

Dié proefneming het egter misluk, aangesien dié spelers omtrent geen speelkans gekry het nie en eers in van die laaste wedstryde van die seisoen vir ’n paar minute opgestuur is.

Saoedi-Arabië het ook nie ’n WB-rekord om op trots te wees nie. Dié land het in sy drie vorige WB-toernooie sewe wedstryde verloor en in twee gelykop gespeel.

Cherchesov het aan die vooraand van die openingswedstryd gesê hulle vorder en hul grootste taak as ’n span is om in hulself te glo. “Ons ondersteuners gaan dieselfde moet doen.”

Die Russiese sokkerspan maak litte los in die indrukwekkende Luzhniki-stadion, waar hy Donderdag die Wêreldbeker-toernooi met ’n wedstryd teen Saoedi-Arabië gaan afskop. Foto: AP

* 32 spanne is in agt groepe verdeel, met die voorste 16 spanne wat vir die tweede ronde sal kwalifiseer. Vanaf die tweede ronde is elke wedstryd ’n uitklopstryd, met die laaste twee spanne staande wat op 15 Julie in die eindstryd te staan sal kom.

* Duitsland en Brasilië is die beroepswedders se gesamentlike gunstelinge om die WB-toernooi te wen, maar spanne soos Argentinië, Spanje, Portugal en Frankryk kan ook nie buite rekening gelaat word nie.

* Die openingseremonie vind voor Rusland en Saoedi-Arabië se wedstryd plaas en word om 16:30 regstreeks op SABC 1, SS 3 en SS 10 uitgesaai. Die openingswedstryd word op dieselfde kanale vertoon. 

– Reuters en Sportredaksie

Meer oor:  Wb-2018  |  Wêreldbekersokker  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.