Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
WB-Sokker
Russe laat Putin glimlag met 5-0-sege

’n Wysneus het vooraf gesê die Russiese sokkerspan sal dit nie waag om voor hul president, Vladimir Putin, te verloor in die openingswedstryd Donderdag teen Saoedi-Arabië nie.

Hy was reg.

Die Rus Sergey Ignashevich (middel) ding om die bal mee met Saoedi-Arabië se Mohammed Alsahlawi en Salem Aldawsari. Foto: Getty Images

Die Russe het ’n groot glimlag op Putin se gesig geplaas deur die Saoedi’s met 5-0 te klop, nadat hulle rustyd reeds met 2-0 voorgeloop het.

Die Russe het die sout kwaai in die wonde gevryf met twee doele in die laaste drie minute van bykomende speeltyd.

Die Rooi Gevaar het in die volgepakte Loezjniki-stadion in Moskou net 12 minute geneem om hul rekening te open, toe die middelveldspeler Iury Gazinsky die eerste doel van die toernooi met ’n kopskoot behaal het.

Dit was vanaf ’n hoekskop wat aanvanklik eers rondgedobber het, maar toe met ’n puik dwarsskop op die kop van die blondekop Gazinsky beland het om dit verby die uitgestrekte hand van die doelwagter, Abdullah Almuaiouf te stuur.

Enkele minute voor rustyd het die Russe se buffer verdubbel toe die plaasvervanger, Denis Cheryshev, die net laat bewe het met ’n stewige skop van skaars vyf meter vanaf die doelhok.

Hy het dit in beseringstyd kort voor die einde herhaal met ’n uitstekende doel van ’n skop van bykans 20 meter.

Almuaiouf het die bal glad nie eens verby hom sien beweeg tot in die doelhok nie.

Met hierdie vuurpyldoel van hom het Cheryshev die eerste plaasvervanger nóg geword wat ’n doel in die openingswedstryd van ’n Wêreldbekertoernooi aanteken en dit toe later verbeter deur die eerste plaasvervanger te word wat twee doele in ’n openingswedstryd agter sy naam skryf.

Net soos wat die geval met Gazinsky was, was dit ook Cheryshev se eerste doel vir sy land. Gazinsky het boonop in sy eerste wedstryd sedert Maart verlede jaar gespeel, waarna hy uit guns geraak en nog nie weer gekies is tot en met hierdie wedstryd nie.

Cheryshev het die Russiese sterspeler Alan Dzagoev, wat ’n dyspierbesering in die 22ste minuut opgedoen het, vervang.

In die 70ste minuut was dit weer sulke tyd vir die Russe en moes Almuaiouf weer die bal uit sy doelhok optel toe nóg ’n plaasvervanger, Artem Dzyuba, die kol met ’n kopskoot getref het.

Dit was na goeie aangeewerk en onderlinge spel deur die Russe en met die Saoedi’s se verdediging wat verkrummel het.

Die laaste doel is deur Aleksander Golovin met ’n vryskop aangeteken.

Saoedi-Arabië, wat nommer 67 op die wêreldranglys is teenoor die 70 van die gasheerland, moes vir die grootste deel van die wedstryd aan die agterbeen suig.

Die grootsheid van die geleentheid, die aanmoediging van die tuisskare en natuurlik die staalkyk van Putin daar uit die presidensiële losie het alles ’n rol gespeel om die Russe met hierdie klinkende sege te laat afskop.

WB-bepalings

WB-puntelys

WB-uitslae

Meer oor:  Saoedi-Arabië  |  Wêreldbekersokker  |  Rusland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.