Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
WB-Sokker
Russiese sokkerhemel met ’n sot in die losie

Dís wat jy ’n Wêreldbeker noem. Knaende opskuddings, goeie sokker, nuwe gesigte en vernederde supersterre. Die hele lot, plus ’n uitstekende kans van ’n splinternuwe kampioen van die wêreld. Is dit verbeelding, of voel die toernooi ook sommer belangriker met die karkasse van Duitsland, Brasilië, Spanje en Argentinië wat agter in die pad bly lê?

Met ryk klubs wat al die beste spelers koop, het internasionale sokker die afgelope paar toernooie ál meer na ’n stiefkind begin voel. Die rykste Europese klubs sál amper almal wen teen hul nasionale spanne, maar vir ’n verandering maak dit nie saak nie – dit reën doele in Rusland en verbeelding word beloon.

  • Agt ekstra spanne in Qatar en moontlik nóg 16 daarby in Noord-Amerika in 2026, maak dat ons hierdie toernooi moet koester – dis heel waarskynlik ook die beste ene wat ons ooit sal sien.

*****

Verlede Saterdag skop die half bejaarde Argentynse verdediging die skitterende jong Fransman Kylian Mbappé pimpel en pers. Dit was seker te wagte dat hy eergisteraand skielik soos ’n vrot vel sou begin vlieg ná die geringste aanrakinkie van ’n Uruguaan.

Dis hoe sokker se duikers gebore word – ’n minder ligte skop hulle eers flenters, daarna begin val hulle naderhand vóór die skop. Die eerste groot duiker was Diego Maradona en hy is gereeld beseer deur lomp of venynige teenstanders.

Maar as die onding van TV-skeidsregters in sokker is om te bly, kan dit op dié manier aangewend word om ’n ander onding daaruit te weer: ’n terugwerkende skorsing van duikers. En sommer van die spulletjie wat so in die skeidsregter se gesig staan en skree ook.

Sokker, spot ’n vriendin, die sport waar mans emosie toon. En blêddie hoe!

Daarvan gepraat, gis die hele wêreld oor die einste Maradona se manewales in Rusland. Of gis seker ook nie, almal raai maar dit was nogmaals drank en sjnaaf wat die oubaas so sien tekere gaan het as Argentinië speel.

  • Asof Argentinië nie reeds steil genoeg opdraand gehad het nie, moes die gesig van hul beroemdste speler wat soos ’n maniese sot in ’n losie tekere gaan dit veel moeiliker gemaak het.

*****

Dis onregverdig om van rugby te verwag om soos sokker te groei. In die eerste plek is dit natuurlik gans te tegnies. En hoe ouer die sport word, hoe meer tegnies word dit.

Anderdag sê my soveelste eens rugbymal vriend hy kyk nie meer juis nie. Te veel vallende skrums, te veel skeidsregtersberade, te veel rolmaalbewegings . . . Dis einste sokker se Wêreldbekertoernooi wat my weer hieroor aan die dink gesit het.

Rugby groei maar langsamerhand en ek kan nie onthou wanneer laas ek iemand kon bekeer om te kyk nie. Dit was lekker en darem weer ’n okkasie om die Bokke te sien speel, maar Superrugby proe darem nou behoorlik asvaal.

As jy vir die sesjarige ekke, blinkoog by sy eerste wedstryd op Nuweland, sou vertel het dat hy eendag skoueroptrekkend die laaste Superrugbywedstryd op Nuweland sou misloop, al woon hy minder as tien minute van die stadion af, sou hy jou nie glo nie.

Hy sou wou weet watter ding ’n “Stormer” nogals is. Glo steeds vas die WP se ellende het met dié taalgruwel begin. (Ter wille van regverdigheid moet ’n mens net meld dat daar deesdae wel so ’n ding soos ’n “Stormer” is – daar is ’n Amerikaanse neo-Nazi-webwerf wat spog met dieselfde naam.)

  • Ek het wonderlike tye by Nuweland gehad en het wonderlike herinneringe daarvan. Maar baie min daarvan was onlangs. ’n Uitstappie soontoe is deesdae veel meer gereeld teneerdrukkend en dan praat ons nog nie eens van die rugby nie.

*****

Daar begin sing die speke van die Tour de France toe ook gister en vir die volgende week of drie gaan die Franse landskap op my TV oopvou.

Dié keer is die fokus weer op Chris Froome – nie net omdat hy gaan probeer om sy vierde Groot Toer sowel as sy vierde Tour de France agtereenvolgens te wen nie, maar omdat hy onder ’n doepawolk deelneem.

Froome het te veel salbutamol in sy gestel gehad (dis toelaatbaar in ’n kleiner hoeveelheid) tydens 2017 se Vuelta de España, maar die Internasionale Fietsry-unie (UCI) het hom kwytgeskeld en hy is weer die groot gunsteling.

Van sy vernaamste mededingers, soos Vincenzo Nibali en Tom Dumoulin, het hulle hierteen uitgespreek en dit ly min twyfel dat fietsry, presies twee dekades ná die Festina-skandaal, steeds min mense van sy integriteit kon oortuig.

  • Maar watwo. Kyk sal ek kyk; soos Frankryk bly fietsry skouspelagtig.
Meer oor:  Rusland  |  Wêreldbekersokker  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.