Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Quinnie, sakrekenaar knak Sri Lanka

’n Uitstekende honderdtal deur Quinton de Kock gevolg deur ’n stywe Duckworth-Lewis-berekening – sónder ’n sterkolwer – was een te veel vir Sri Lanka in die derde eendagwedstryd teen die Proteas Sondag in Durban.

Die Speler van die Wedstryd, De Kock, het Suid-Afrika met 121 van net 108 balle op koers geplaas om die reeks met ’n derde agtereenvolgende sege met 71 lopies volgens die Duckworth-Lewis-formule te beklink.

Imran Tahir het met 2/19 in vyf beurte ’n reekssege vir die Proteas teen Sri Lanka in Durban help beklink.Foto: Gallo Images

Die Proteas het danksy die kolwer wat heel somer al met sy breë kolf ’n doring in die vlees van die toerspan is, ’n stewige 331/5 – hulle hoogste tot dusver in die reeks – aangeteken nadat hulle ingestuur is om te kolf.

Sri Lanka het 75/2 ná 16 boulbeurte gehad toe spel weens reën gestaak is. Die teiken is na 193 in 24 boulbeurte aangepas toe spel om 18:20 hervat is. Dit het meegebring dat Sri Lanka 118 van die oorblywende 48 balle moes kry.

Quinton de Kock was die Proteas se kolfheld. Foto: Gallo Images

Die draaiers Tabraiz Shamsi (1/29) en Imran Tahir (2/19) is dadelik ingespan toe spel voortgesit is en het albei vroeg toegeslaan. Sri Lanka (121/5) het aan die einde 46 lopies bygevoeg in die oorblywende agt boulbeurte en drie paaltjies verloor.

Kusal Perera, Sri Lanka se groot kolfheld in sy skoksege in die toets daar op Kingsmead, is nie ingestuur nie. Hy is vroeër hospitaal toe vir ’n skandering nadat hy ’n veldwerkbesering opdoen het.

Die Proteas se groot kolfangel, De Kock, het vroeër ’n goeie grondslag vir die res van die kolwers daargestel.

Suid-Afrika sal in sy noppies wees dat van die ander kolwers dié keer ook hul kant gebring het buiten vir die aanvangskolwer Reeza Hendricks, wat weer goedkoop uit is.

Die 26-jarige De Kock het ná vyf vyftigtalle tot dusver teen die toerspan daarin geslaag om dit met die sesde probeerslag in ’n honderdtal te omskep.

Hy het drie vyftigtalle in sy vier kolfbeurte in die toetsreeks gemoker, wat hy met 81 en 94 in die eerste twee eendagwedstryde teen Sri Lanka opgevolg het.

De Kock het weer goeie bystand gehad van sy kaptein, Faf du Plessis, wat 36 aangeteken het.

Die twee het 97 van net 64 balle om die tweede paaltjie aangeteken.

Dít was nadat Hendricks vir net 4 uitgehaal is ná beurte van 1 en 29 in die eerste tweede wedstryde.

Hendricks het ’n aflewering van Isuru Udana (2/50) luglangs na halfweg gestuur.

Udana was een van twee nuwelinge in Sri Lanka se elftal.

Die ander een was die veelsydige Kamindu Mendis (20), wat sy buiging gemaak het en met iets vorendag gekom het wat nie aldag gesien word nie: dié jong draaier het regs geboul na De Kock en met die regterhandse kolwers verkies om oor te slaan en dan links te boul.

De Kock het net 89 balle benodig vir sy 14de honderdtal.

Hy was vies toe hy met nog 19 boulbeurte oor sy paaltjie verloor het.

Rassie van der Dussen (50, 67 b) het sy vierde vyftigtal in agt wedstryde aangeteken.

David Miller (41*, 46 b), Dwaine Pretorius (32, 26 b) en Andile Phehlukwayo (38*, 15 b) het met reën wat gedreig het om uit te sak teen die einde van die tuisspan se kolfbeurt 99 lopies van die laaste tien boulbeurte gemoker, wat 57 in die laaste vyf ingesluit het.

Die Proteas het met twee veranderinge uitgestap.

Shamsi is as tweede draaier ingesluit saam met Imran Tahir. Die snelbouler Anrich Nortjé moes plek vir Shamsi maak, terwyl die veelsydige Pretorius sy Lions-spanmaat Wiaan Mulder vervang het.

*Die groep vir die twee oorblywende wedstryde van die reeks word Maandag bekend gemaak.

Die snelbouler Kagiso Rabada se hand moes verbind word en hy kan straks ruskans kry.

Die vierde wedstryd word Woensdag in Port Elizabeth beslis.

Meer oor:  Sri Lanka  |  Quinton De Kock  |  Suid-Afrika  |  Durban  |  Cricket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.