Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Verbod op toernooie ‘gaan nie gebeur’
Daryll Cullinan: Dit gaan nie gebeur nie. Foto: Jan Hamman

Dit is ’n storm in ’n teekoppie. Dit gaan nie gebeur nie.

Só het die voormalige Proteakolwer Daryll Cullinan Dinsdag gesê nadat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), Krieket Suid-Afrika (KSA), Atletiek Suid-Afrika (ASA) en Netbal SA verbied is om internasionale toernooie hier aan te bied.

Cullinan het gereageer op die sportminister Fikile Mbalula se aankondiging Maandag dat krieket, sowel as rugby, atletiek en netbal, tot verdere kennisgewing geen nuwe internasionale toernooie mag aanbied nie omdat hulle volgens hom nie aan hul eie transformasieteikens voldoen nie.

“Waarheen neem dit ons sport? Kyk net na ons o.19-span vanjaar wat sy doelwitte oortref het. Dit (Mbalula se besluit) maak nie sin nie.

Jacques Kallis: Verleentheid om ’n Suid-Afrikaner te wees. Foto: Getty Images

“Dink net hoeveel inkomste met groot sportgebeure gemaak word; geld wat weer in sportontwikkeling belê word. Dit skep werk en bring groot televisiegeld en borgskappe mee.

“So, nee. Dit gaan nie gebeur nie. Dit sal oorwaai, gee dit so ’n maand,” het Cullinan aan ESPN se aanlyn kletsprogram gesê.

“Dis ons minister se styl om een keer ’n jaar uit te kom met so ’n sterk uitspraak en almal daarmee op hol te kry. Hy is die boodskapper, dit kom van die parlement af.

“Kyk maar, oor sowat ’n maand gaan hy weer sê almal is tevrede met mekaar. Ek weet nie hoekom hy soveel chaos moet saai nie, hy kon dit op ’n meer positiewe manier gedoen het,” het Cullinan gesê wat tussen 1993 en 2001 in 70 toetse 14 100-talle en ’n kolfgemiddelde van 44.21 behaal het – op vyf na die beste van die Proteas met 50 of meer toetse.

Volgens hom het transformasie vooruitgang onder Mbalula gemaak.

“Transformasie werk in Suid-Afrikaanse krieket, doelwitte word op junior en plaaslike vlak behaal en op internasionale vlak word goeie vooruitgang gemaak.

Ali Bacher: Min simpatie. Foto: Jaco Marais

“Dit is deel van Suid-Afrikaanse sport. Daar is ’n groter prentjie: Sport moet Suid-Afrikaners ’n beter lewe bied en toeganklik vir voorheen benadeeldes wees. Uitnemendheid kom tweede, maar gelukkig ons het baie talent in die land.”

Die Protealegende Jacques Kallis het hom tot Twitter gewend om sy teleurstelling met Mbalula se aankondiging uit te spreek.

“Dis so hartseer dat dit deesdae gereeld vir my ’n verleentheid is om myself ’n Suid-Afrikaner te noem. #Geen plek vir politiek in sport,” het Kallis se twiet gelui wat wye reaksie uitgelok het.

Ali Bacher, voormalige uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika (KSA), het aan The Times gesê sportfederasies is oor ’n lang tydperk gewaarsku oor moontlike ingryping deur die regering weens gebrekkige transformasie.

KSA het ’n ooreenkoms met die regering onderteken waarin daar onder meer vereis word dat 60% van die nasionale span uit etnies swart, bruin en Indiërspelers moet bestaan.

Meer oor:  Transformasie  |  Jacques Kallis  |  Ali Bacher
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.