Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Adriaan Basson: Dís hoekom Zuma nou wil betaal
Adriaan Basson

Dinsdag om 22:19 land ’n e-pos in my inboks met die opskrif: “PRESIDENT ZUMA PROPOSES SOLUTION TO NKANDLA CASE”.

Ek skrik my boeglam. Dis nie 1 April nie. En die laaste keer dat Zuma die land verras het met laatnag-mediaverklarings was toe hy Nhlanhla Nene op 9 Desember om 20:05 as minister van finansies afgedank het.

Op 13 Desember om 21:34 het Zuma die land ingelig dat Pravin Gordhan Des van Rooyen as minister van finansies vervang.

Ook oudpres. Thabo Mbeki het ’n gewoonte gehad om diep in die nag, nadat hy die Google-universiteit geraadpleeg het, kwaai ANC-nuusbriewe te skryf.

Wat is die ding met presidente wat nie slaap nie?

So Zuma wil skik. Met die DA en die EFF, nogal.

Waarom? Die man het dan nog onlangs gesê hy dink glad nie aan wanneer hy ’n deel van die R246 miljoen se opknappings by sy Nkandla-woning gaan terugbetaal nie.

Ek dink daar is hoofsaaklik drie verduidelikings vir Zuma se jongste laatnag-liefdesbrief aan die nasie.

1. Regsadvies dat hy gaan verloor

Die eerste is dat Zuma waarskynlik regsadvies ontvang het dat hy die saak in die konstitusionele hof gaan verloor.

Die DA en EFF voer aan dat Zuma die aanbevelings van adv. Thuli Madonsela, die openbare beskermer, verontagsaam het deur nie ’n deel van die geld terug te betaal nie.

Met een brief het Zuma dus al Nhleko en die parlementêre ad hoc-komitee se pogings om van ’n swembad ’n vuurpoel te maak, ongedaan gemaak.

Madonsela het bevind dat Zuma en sy familie gebaat het by opknappings wat nie veiligheidsverwant was nie. Sy het spesifiek verwys na die sogenaamde “vuurpoel”, die amfiteater en die beeskraal.

In ’n desperate poging om sy politieke meester te paai het Nathi Nhleko, minister van polisie, verlede jaar sy bes probeer om aan die land te verduidelik waarom hierdie opknappings inderdaad veiligheidsverwant was.

Nhleko se “promosievideo” van onder meer die vuurpoel op die klanke van “O Sole Mio” sal onthou word as een van die Zuma-era se laagtepunte.

Zuma het nou ’n massiewe ommekeer gemaak en sê hy sal betaal vir opknappings wat niks met sy veiligheid te make het nie. Daarmee erken hy die staat het vir nie-veiligheidsverwante verbeteringe betaal.

Met een brief het Zuma dus al Nhleko en die parlementêre ad hoc-komitee se pogings om van ’n swembad ’n vuurpoel te maak, ongedaan gemaak.

Zuma se prokureurs en advokate het hom waarskynlik aangeraai dat die konstitusionele hof teen hom sou bevind het. Daarom is dit beter om te skik.

Pres. Jacob Zuma. Foto: Nelius Rademan

2. Politieke gevolge

Zuma is tans polities nie baie sterk nie. Nenegate het sy mag in die ANC aansienlik verlaag en hy is gedwing om sy aanstelling van Van Rooyen terug te trek.

Daar word nou openlik op ANC-vergaderings na sy verhouding met die Guptas verwys en voormalige ondersteuners van die president praat onbevange oor die familie wat die staat probeer oorneem.

Die ANC kan nie bekostig om in ’n verkiesingsjaar ’n president te hê met ’n wolk wat oor sy kop hang nie. Die ANC loop buitendien die risiko om beheer te verloor oor die metro-munisipaliteite in Johannesburg, Port Elizabeth en Pretoria.

Mens kan verwag dat die EFF volgende Donderdag weer Zuma se Staatsrede gaan onderbreek met hul #PayBackTheMoney-kreet.

Die EFF was ’n doring in Zuma se vlees oor Nkandla en het baie steun daarmee gewerf.

Zuma dink waarskynlik hy kan die angel uit die Nkandla-debat trek deur aan te bied om ’n deel van die opknappings te betaal. Dit lyk nie of die EFF en DA hiervoor gaan val nie.

3. Wat gaan nog uitkom?

Zuma se brief aan die hof maak dit duidelik dat hy met ’n skikking ’n “einde wil bring” aan die Nkandla-saga.

Daarmee hoop die president waarskynlik dat ondersoeke deur die media en wetstoepassingsowerhede gestaak sal word as hy ’n deel van die geld terugbetaal.

Die volle waarheid oor wie vir die opknappings gevra het; hoe die diensverskaffers aangestel is en wie persoonlik daarby gebaat het, is nog nie vertel nie.

Zuma is polities te gekwes om nog ’n skandaal voor ’n verkiesing te trotseer. As Zuma praat van “nasiebou” en “eenheid” in sy brief, sê hy eintlik: “Staak julle ondersoeke en vergeet van Nkandla”.

Meer oor:  Adriaan Basson  |  Jacob Zuma  |  Nathi Nhleko  |  Nkandla
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.