Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
100 artefakte vir US se 100 jaar

Min dinge lok soveel emosie uit as ’n artefak uit die verlede. Elsabé Brits het gaan kyk na die Universiteit Stellenbosch (US) se artefak-uitstalling waarmee hy sy eeufees vier.

Prof. Matilda Burden, kultuurhistorikus van die Universiteit Stellenbosch se museum, by ’n fiets wat bodes voorheen gebruik het om boodskappe en pakkies mee af te lewer. Foto: Elsabé Brits

Hoe kies jy 100 artefakte om die verhaal van ’n universiteit te vertel? Daar is soveel navorsing gedoen, kennis gedeel en stories wat oor ’n eeu in die strate van Stellenbosch afgespeel het. Hoe vang jy die ontwikkelende identiteit van die US van 1918 tot 2018 vas?

Prof. Matilda Burden, kultuurhistorikus van die US se museum, stem saam. Dit was ’n bykans onmoontlike taak. Sy het gesukkel, vertel sy, maar uiteindelik is daar iets van alles op die uitstalling. Van sport tot geneeskunde, kultuur, teologie en ingenieurswese. Uiteindelik is daar ’n legkaart wat alles bind – die simboliek van groei in die toekoms.

“Ek het besef dat ek nie met 100 artefakte werklik 100 jaar se geskiedenis kan weergee nie. Ek moes die datums net by benadering weergee omdat ’n item dalk in 1890 gemaak kon wees, maar gebruik is tot in 1930. Waar plaas jy hom dan?”

Waar het dit alles begin?

Burden sê die Kweekskool (die Teologiese Seminarium) van 1859 was die eerste instelling van hoër onderwys gewees met die destydse Stellenbosche Gymnasium (vandag Paul Roos Gimnasium) as die voedingsbron.

“Maar almal wou nie predikante word nie en so is die Stellenbosch College and Public School in 1879 ontwikkel. In 1887 het dit die Victoria College geword, maar dit was nog nie ’n universiteit nie.”

’n Gietysterhouer vir stempels uit die laat Victoriaanse tydperk wat in die kantoor van die registrateur van die Universiteit Stellenbosch gebruik is. Foto: Stefan Els, US

Die mynmagnaat Jan Marais wat ook in 1914, saam met andere die Nasionale Pers Beperkt gestig het, het in 1915 in sy testament £100 000 nagelaat vir die stigting van ’n universiteit.

Burden sê die parlement het op 2 April 1918 drie wette goedkeur om universiteite op die been te bring in 1918. So het Unisa, die US en die Universiteit van Kaapstad amptelik universiteite geword.

Die enigste skryftafeltjie (c.1900) van die Victoria College wat uit dié dae dateer en behoue gebly het, is op die uitstalling te sien. Dit is in lesinglokale gebruik en in die stadsaal wanneer eksamen geskryf is. Studente het dit self heen en weer gedra.

Die raadstafel (c. 1900) waarom die raad van die Victoria College vergader het, word ook uitgestal. ’n Eertydse foto van die raad – almal wit mans – kan vergelyk word met een van die hedendaagse raad wat uit mans, vroue en mense van kleur bestaan.

Artefakte van eerste bruin studente skaars

Een van die artefakte wat uitstaan is nie in ’n US-versameling nie, maar behoort aan Karen Wiess van die regsfakulteit. Dit is ’n dikwiel Raleigh-fiets met mandjie en al, van die 1970’s wat deur ’n bode gebruik is om boodskappe, pos en boeke tussen geboue en mense rond te neem.

Toe daar besluit is om van dié fietse ontslae te raak, het niemand buiten Wiess aan die toekomstige historiese waarde daarvan gedink nie.

Vir Burden is ’n replika van SunSat ook “baie spesiaal, omdat dit die eerste satelliet is wat in Suid-Afrika en Afrika gemaak en lanseer is.” Dit is tussen 1992 en 1998 deur die departement elektriese en elektroniese ingenieurswese ontwikkel en op 23 Februarie 1999 suksesvol in die VSA gelanseer.

Om artefakte te kry van die eerste bruin studente aan die US was ’n gesukkel, sê Burden.

‘n Koerantknipsel uit 1978 met die nuus dat die Universiteit Stellenbosch sy kampus “voorwaardelik oopstel vir ‘nieblanke’ studente”. Foto: Stefan Els, US

“Ek kon dit nie kry nie. Uiteindelik het ek afgekom op ’n koerantartikel van 1978 in die argief.”

Die US-raad het destyds goedgekeur dat die kampus “voorwaardelik oopgestel” word vir “nieblanke studente”. Een van die voorwaardes was dat dit net oopgestel word vir studente wat wou inskryf vir voorgraadse kursusse wat nie elders in die Wes-Kaap beskikbaar was nie.

Só het die eerste 16 bruin studente toegang tot die universiteit verkry.

Prof. Wim de Villiers, rektor van die US, het in November hieroor gepraat toe die H.B. Thom-teaterkompleks op die kampus na Adam Small vernoem is: “Maar wag so ’n bietjie, laat ons ons nou nie hoogheilig hou nie. Ons was self aandadig aan die ongeregtighede van die verlede. Hierdie universiteit se deure was tóé vir mense wat destyds kamtig die ‘verkeerde’ velkleur gehad het.

“Adam Small was een van daardie mense. Hy het die verhaal self vertel: ‘Ek wou in jare wat nou lank verby is liewer hier studeer. Maar ek kon nie . . . weens apartheid, en die kulturele voorskrifte en verbiedinge van daardie bose stelsel.’

“Dít het dr. Small gesê op 11 Desember 2015 toe hy ’n eredoktorsgraad van die US ontvang het vir sy ‘verruiming van die Suid-Afrikaanse letterkunde, sy verryking van Afrikaans, en sy verwoording van eens verbode onderwerpe om sodoende as ’n stem vir menige stemloses te dien.’ ”

In kontras hiermee kan prof. H.B Thom se kanselierstoga van 1983 op dié uitstalling gesien word.

Eksamen swig voor Groot Griep

Weens die Groot Griep van 1918 moes Jacob Daniël Adriaan Crafford, een van die eerste studente aan die Universiteit Stellenbosch, tot 1920 wag om sy graad te ontvang. Foto: Stefan Els, US

Die universiteit moes ook in 1918 vroeër sluit weens die Groot Griep van 1918. Die Swart Dood het net soos in die res van die wêreld ’n spoor van dood oor die kampus gelaat. Eksamen moes gestaak word, maar die universiteitsowerhede was steeds heel positief “dat ons Universiteit op hegte grondveste staan”.

Een van dié studente was Jacob Daniël Adriaan Crafford wat van 1916 tot 1918 aan die Victoria College en aan die universiteit studeer het en sy BA-graad cum laude behaal het. Hy het vakke soos “Engels”, “Latÿn,” “Fiesika”, “Sielkunde” en “Hollands” geneem en sy graad weens die griep eers in 1920 ontvang.

Die “floppy diskette” van die 1990’s wat net 1.2 megagrepe kon berg, word uitgestal saam met ’n pragtige Remington-tikmasjien van 1947. Daar is ook ’n skootrekenaar van 1996 te sien, wat nog in werkende toestand is en Windows 3 gebruik, ’n opgradering van MS-DOS.

En dan is daar natuurlik die “reuse”-10 megagreep-hardeskyf van die 1980’s, wat so duur was min departemente kon dit bekostig. Langs dit lê ’n kleiner een wat in 2010 gekoop is en 320 gigagrepe berg.

In die vroeë 1960’s het die US ’n IBM 1620-rekenaar aangekoop vir die astronomiese bedrag van R50 000. Op 22 Junie 1963 het dié rekenaar sy eerste uitdruk gemaak.

Die “reuse”-10 megagreep-hardeskyf van die 1980’s wat so duur was dat min departemente dit kon bekostig. Langs dit is ’n kleiner een wat in 2010 gekoop is en waarop 320 gigagrepe geberg kon word. Foto: Stefan Els, US

Volgens Burden was die koshuise maar traag om bydraes tot die uitstalling te lewer; “dit was ’n vreeslike gesukkel, uit ondervinding weet ek hulle reageer nie”.

Maar sy het darem daarin geslaag om Elsabé Jansen, eerste primaria van Heemstede, se dagboek van 1967 te kry. En ’n etensklok van 1962 van Harmonie.

’n Konsertina van 1950 wat ’n student gebruik het om “gees mee te vang” word ook uitgestal.

Uit die puin van ’n brand . . .

‘n Dagboek van die eerste primaria van Heemstede, Elsabé Jansen. Foto: Stefan Els, US

Net twee weke voor die brand op 10 Desember 2010 in die Wilcocks-gebou, het Burden materiaal van dié gebou na die museum verskuif: duisende items waaronder onderhoude, koerantknipsels, foto’s, artikels, opnames en navorsingsmateriaal van kultuurhistoriese waarde.

Die brand het die dak en boonste verdieping van die Wilcocks-gebou in puin gelê en ál die dokumentasie, boeke en toerusting van die departement geskiedenis is vernietig.

Navorsing van onskatbare waarde – historici het duisende boeke en onder meer 2 000 historiese kaarte verloor – het in die slag gebly.

“Dit is net ongelooflik wat ek gered het deur dit twee weke vroeër te skuif, maar dit is net so ongelooflik om te dink wat verlore gegaan het.”

Op 10 Desember 2010 het ‘n brand in die Wilcocks-gebou op die kampus van die Universiteit Stellenbosch verwoesting gesaai. Dié historiese klankopname het in die slag gebly. Foto: Stefan Els, US

Die een artefak wat my geraak het, is een wat die verlies van die brand simboliseer; een van geskiedenis en verlore stemme wat nooit weer gehoor sal word nie.

Drie klankkassette met historiese navorsing is ná die brand in die puin opgetel. Dis ineengesmelt en verwronge.

Vir my verteenwoordig dit alles wat daardie dag verlore gegaan het en nooit weer herwin sal word nie. Stemme wat in die vuur weggesmelt het.

* Die uitstalling duur tot Junie 2020.

* Elsabé Brits is ’n vryskut-wetenskapjoernalis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.