Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
118 jaar gelede, vyfuur die middag – toe’s dit oorlog
Prof. Fransjohan Pretorius

Vandag 118 jaar gelede – om 17:00 die middag van Woensdag 11 Oktober 1899 – het die Anglo-Boereoorlog uitgebreek.

Dit was toe die ultimatum verstryk het wat die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR, of Transvaal) van president Paul Kruger twee dae tevore aan Brittanje gerig het. Daarvolgens moes die Britse troepe op die Republiek se grense teruggetrek word, en die troepe wat op see onderweg was, teruggeroep word.

Die Britse regering het die ultimatum van die hand gewys. Nou was daar oorlog tussen Brittanje aan die een kant en die ZAR en sy bondgenoot, die Oranje-Vrystaat, aan die ander.

Die oorlog sou twee jaar en agt maande duur, en onmeetlike lyding vir wit, swart en bruin in Suider-Afrika bring. Dit sou ook ’n enorme invloed op die verloop van die Suid-Afrikaanse geskiedenis in die 20ste eeu hê.

Die Britse regering het self ’n ultimatum voorberei. Toe hy egter die ZAR se ultimatum ontvang, het Joseph Chamberlain, die Britse minister van kolonies, geesdriftig uitgeroep: They’ve done it!”. Sir Alfred Milner, die Britse hoëkommissaris in Suid-Afrika, se aggressiewe beleid van “working up to a crisis” en “reform in the Transvaal or war” het gewerk.

Talle historici het al oor die oorsake van die Anglo-Boereoorlog geskryf. Die meeste is dit vandag eens dat Brittanje se aandrang op stemreg vir die Uitlanders aan die Witwatersrandse myne slegs ’n skynrede was, ’n kapstok waaraan Brittanje sy beleid van imperialisme – die uitbreiding van sy kolonies – gehang het.

Onderliggend aan die stryd tussen Boer en Brit, was die verdeling van Afrika wat besig was om hom af te speel, met Brittanje, Frankryk en Duitsland die grootste grondgrypers. En natuurlik die ryk goudvelde van die Witwatersrand.

Dit het gemaak dat die ZAR potensieel die politieke en ekonomiese beheer oor Suider-Afrika by die Brits beheerde Kaapkolonie sou kon oorneem. Soos die historikus Bill Nasson tereg sê: As daar sampioene in die ZAR was in plaas van goud, was hier nie ’n oorlog nie.

Reeds op 27 September het kommandant-generaal Piet Joubert as voorsorg die Transvalers vir krygsdiens opgeroep. Vyf dae later het Steyn die Vrystaters gemobiliseer.

Die ultimatum is deur maande van spanning voorafgegaan. Toe die Bloemfonteinse konferensie tussen Kruger en Milner op 5 Junie 1899 misluk, het Kruger gesê: “Dis nie die stemreg nie, dis my land wat jy wil hê.”

Pres. M.T. Steyn van die Vrystaat het soos Kruger hartstogtelik geglo in die behoud van die republieke se onafhanklikheid. Hy het onvermoeid vir vrede gewerk, totdat hy eindelik ingestem het dat die ultimatum aan Brittanje gerig word.

Reeds op 27 September het kommandant-generaal Piet Joubert as voorsorg die Transvalers vir krygsdiens opgeroep. Vyf dae later het Steyn die Vrystaters gemobiliseer.

Sommige burgers was bekommerd oor die stryd wat voorlê. Die meeste het egter geesdriftig by hul kommando’s aangesluit. Die algemene gevoel was dat die oorlog teen Kersfees verby sou wees. Net een goeie oorwinning soos by Majuba 18 jaar tevore, en die oorlog is verby.

Daar was uitroepe van: “Ons gaan piesangs eet in Durban!” Daarvan sou daar dadels kom. Hulle sou eerder die wrang vrugte pluk van politici wat oor hul lot beslis. Baie burgers het Durban darem gesien – as krygsgevangenes op pad na Ceylon.

Nuwe rubriek

Met die onlangse afsterwe van Metro-Beeld-Noord se jare lange rubriekskrywer Lappe Laubscher is ’n groot leemte in die koerant gelaat.

Ons het besluit om voort te gaan met ’n soortgelyke geskiedenisrubriek, maar dit sal bekend staan as Terugblik..

Die nuwe rubriek sal weekliks deur prof. Frans­johan Pretorius geskryf word. Pretorius is emeritus-professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Hy is die skrywer en redakteur van verskeie boeke oor die Anglo-Boereoorlog en het onder meer die Recht Malan-prys vir Kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902 ontvang. Hy is die redakteur van Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag. Hy is voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se geskiedeniskommissie en het die Stals­prys vir geskiedenis van die Akademie ontvang.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.