Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
11de AWS wys hoe taal groei met tydsgees
Prof. Gerhard van Huyssteen

1917: Die eerste uitgawe van die Afrikaans woordelijs en spelreëls word gepubliseer. 2017: Die 11de, hersiene uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls word op 3 Augustus bekend gestel.

Verwag in hierdie jubileumjaar ’n klomp ululasies en jubilasies oor die AWS as die oudste lewende woordeboek van Afrikaans, ten minste in hierdie rubriek.

Hopelik sal daar ook kritiek uitgespreek en kritiese gesprek gevoer word, soos nodig is om vooruitgang te maak.

“Is ’n eeu oue boek nog relevant?” vra ’n paar skeptici. “En hoekom verskyn daar al wéér ’n nuwe uitgawe?” hoor ek ’n paar mense kla.

In die voorwoord van die 1917-AWS skryf die samestellers (onder andere Jan F.E. Celliers, Totius, Langenhoven, D.F. Malherbe en Gustav Preller) oor die doel van die AWS:

“Want wil iemand uiting gee aan sij siel, en gebeur dit nie deur middel van sij moedertaal nie, dan staan sodanige taalvorm tussen hom en die uitdrukking van sij diepste ­wese.

“Vanself dus wil ons sôre dat ons taal in ieder opsig tot sij reg kom; dat dit die draer word van ons kultuur. Vandaar dat ons in die eerste plaas ons oog rig op die ­onderwijs.

“Die eerste en voornaamste kenmerk immers van ’n gesonde onderwijsstelsel is dit, dat daar voorsien word in die ­nasionale behoeftes van die volk.”

Met ’n paar voorbehoude en kleiner wysigings aan die spelling sou hierdie paragraaf eintlik net so in die 2017-AWS kon verskyn.

Die belangrikheid van moedertaalonderwys is dalk in 2017 selfs meer relevant as in 1917. Toentertyd had die debat perdalks ’n gekleurde onderrok – ek vermoed in sommige kringe vandag steeds – maar hede ten dage is daar genoeg wetenskaplike bewyse om die waarde van moedertaalonderrig te steun.

Die Taalkommissie, wat die AWS saamstel, is en bly ’n produk van sy tyd.

Mag 2017 ’n jaar wees waarin ons as Afrikaanssprekendes – bruin, Indiër, swart én wit – mekaar se hande vat en onse kinders se belange eerste stel.

In die aanhaling hier bo is die spellingvorm “onderwijs” nog te siene; vandag is dit “onderwys”.

In 1917 moes jy nog “trouw” skryf; vandag skryf ons “trou”. Aanvanklik was dit “sôre”; nou is dit “sorg”.

Soos enige dinamiese taal, bly Afrikaans ook voortdurend ontwikkel. Ons moet vandag saam oor nanotegnologie en ruimtereise kan praat, ons het slimfone en sosiale media, en ons lokale tydsgees is verweef in globale neigings.

Op dié wyse brei ons woordeskat steeds uit en moet ons oor die nodige segswyses beskik om saam met die wêreld te kan praat.

Dis net Rip van Winkel wat nog in 2017 die ou, blou HAT uit 1979 en die bruin AWS van 1964 gebruik. Vandag se hipsters en byderwetses soek woorde op in slimfoontoepassings en rol met loslittige woorde en segswyse.

Die Taalkommissie, wat die AWS saamstel, is en bly ’n produk van sy tyd.

Oor die afgelope 100 jaar het elke Taalkommissie die werk gedoen met die nuutste insigte wat op daardie tydstip beskikbaar was. Rekenaars, die internet en tekskorpusse het oor die afgelope tien jaar die Taalkommissie se werkwyse radikaal beïnvloed.

Wanneer die 11de AWS op 3 Augustus deser bekend gestel word, glo ek dat dit nóg ’n bewysstuk in die geskiedenis sal wees van ’n lewende, dinamiese, inklusiewe Afrikaanse taalgemeenskap.

Meer oor:  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.