Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
1976-studenteleiers: 'Ons het nooit skole afgebrand'

Dit het nie oor onderwys gegaan nie, dit het oor menswaardigheid gegaan, het die destydse skoolleiers van die 1976-optog aan Claudi Mailovich gesê.

Skoolkinders stap Dinsdag verby ’n muurskildery teen die omheining van die Morris Isaacson High School. Foto: Felix Dlangamandla

Dit is ’n koel, sonnige Wintersoggend in Junie. Barney Mokgatle (21) daag by die Morris Isaacson High School op vir die betoging wat die skoolleiers van Soweto, waarvan hy een is, drie dae vantevore beplan het.

Die betoging kom nadat drie skole in Soweto reeds in Februarie begin betoog het en geweier het om in Afrikaans klas te loop.

Die plan is om te betoog tot by die Orlando-stadion om ’n griefskrif aan John Vorster, die eerste minister, te skryf omdat die regering die kinders van Soweto wil dwing om wetenskap, geskiedenis en wiskunde in Afrikaans te neem.

Hulle is woedend want hulle doen die vakke reeds in Engels.

Engels is nie Mokgatle se moedertaal nie, en Afrikaans is dit nog minder.

Die vurige jeugleier Tsietsi Mashinini, wat saam met Mokgatle in matriek is, lei van voor af en gaan die Orlando West High School binne om nog leerlinge te kry.

’n Foto in ‘Die Transvaler’ op 19 Junie van die betogings. Die foto se onderskrif het daardie dag gelui die studente was “ingenome” met hulself en dat hulle die verbygangers “siedend” gemaak het met hul betoging. Foto: Argief

Mokgatle stap agter om die linie toe te maak. Langs hom stap Hastings Ndlovu.

Hulle gesels oor gewone goed. Die revolusionêre gesprekke vind plaas in die klaskamers waar hulle onwetend besig is om te beplan aan die betoging wat apartheid-Suid-Afrika gaan ontmasker vir wat dit is.

Die kinders sing Nkosi Sikelel’ iAfrika en Senzeni Na en hul stemming is opgewonde, amper vrolik.

Hulle het Steve Biko in hul denke gehad en het swart bewustheid in hul skole gekweek.

Hy word bewus daarvan dat die polisie agter hulle is en besef hulle is nou vooraan die linie, nie meer agter nie.

Dit is 16 Junie 1976.

Met bloed wat by sy mond uitloop en sy lyf slap in Mbuyisa Makhubo se arms met sy suster Antoinette Sithole, toe 13, wat skreeuend langs hom hardloop.

“Daar was geen luidspreker nie. Daar was niks," vertel Mokgatle vandag. "Al wat die polisieman gedoen het was om sy Duitse herdershond los te laat. Toe die hond na ons toe kom, het ons dit uiteraard gestenig en doodgemaak. Die polisieman het sy rewolwer uitgehaal en in ons rigting geskiet.”

40 jaar later onthou hy hoe Hastings Ndlovu kort voor 10:00 die eerste jeugdige geword wat geval het.

Hy is in die kop geskiet.

Die koeël was tussen sy oë

Vandag noem Suid-Afrikaners dit Jeugdag. Maar 40 jaar gelede is Soweto in die bloed van skoolkinders gedoop. Die fotograaf Sam Nzima se ikoniese foto van die sterwende 13-jarige Hector Pieterson is op kamera vasgevang en het die beeld geword wat die wêreld vir ewig van die betoging sal onthou.

Met bloed wat by sy mond uitloop en sy lyf slap in Mbuyisa Makhubo se arms met sy suster Antoinette Sithole, toe 13, wat skreeuend langs hom hardloop.

Anders as met Pieterson se dood is Ndlovu se dood net in Mokgatle se geheue vasgebrand.

“Hastings het reg langs my gestaan. Ek onthou presies waar hy in sy voorkop geskiet is. Dit was in die middel van sy oë.

“Soos wat hy geval het, het die stemming verander. Voor dit was die dit joviaal. Dit was gelukkig want ons het gesê ons gaan die regering keer om ons te forseer om in Afrikaans te leer.”

Die doelwit het oombliklik verskuif.

“Dit het nie meer oor onderwys gegaan nie. Dit het oor menswaardigheid gegaan. Dit het gegaan oor die swart man wat hom bevry van Vorster se onderdrukkende regering.

“Daar was pandemonium. Kinders het klippe begin gooi, die polisie het geskiet, mense het geskree en gehardloop.”

‘Beeld’ van 18 Junie 1976. Die nou bekende TV-aanbieder Freek Robinson was as groentjie-joernalis in die spervuur en het gedink hy gaan daardie dag doodgaan. Foto: Argief

Mokgatle is terug skool toe nadat hy vir die eerste keer in sy lewe gesien het hoe iemand geskiet word.

Hy was te bang om te praat, maar het gevra dat die boodskap aan die jeugdiges oorgedra word om uitmekaar te gaan, omdat hy bang was die polisie kom skool toe en skiet ook daar.

40 jaar later herhaal hy die storie asof dit gister gebeur het. Hy sê hy vertel die storie oor en oor omdat hy wil hê mense moet onthou wat daardie dag gebeur het.

Soweto en die biersale het gebrand

Terwyl Soweto se strate op 16 Junie ontplof het, het Enos Ngutshane, ’n matriekleerling van die Naledi High School en een van sy skool se leiers op sy eie in die hof gestaan nadat hy op 14 Junie die eerste jeugdige was om in die onluste gearresteer te word.

“Soweto was aan die brand,” sê Ngutshane. Van binne die hof kon hy die chaos hoor.

“Daar was paniek in die hof self. Jy kon die sirenes hoor en motors het in en uit die hofterrein gery. Daar was helikopters. Ons kon alles hoor. Die skietery. Die helikopters. Selfs die sirenes.”

Enos Ngutshane was een van die studenteleiers van die Naledi High School. Hy was die eerste student wat in hegtenis geneem is. Foto: Facebook

Jimmy Kruger, destydse minister van polisie, word egter in Beeld aangehaal waar hy sê geen kind is dood nie en dat die “minimum geweld” gebruik is in die polisie se hantering van die saak.

Volgens Kruger is “twee blankes en drie swart mans” daardie eerste dag dood.

Dieselfde dag wat Kruger aangehaal is, het The Star Nzima se ikoniese foto van die jong Pieterson op sy voorblad gepubliseer.

Dr. Melville Edelstein, sosioloog wat in Soweto gewerk het, is luidens Beeld se beriggewing op 17 Junie 1976 “deur skoolkinders uit sy motor gesleep en met grawe doodgeslaan.”

Edelstein het volgens Beeld sy proefskrif vir sy meestersgraad gedoen oor die politieke gesindheid van swart matriekleerlinge in Soweto.

Hierin het hy bevind dat die leerlinge baie sterk teen die Afrikaner en Afrikaans gekant was, maar sy bevindings is as “oordrewe” beskou.

Barney Mokgatle vertel sy storie aan die leerlinge van die Ipolokeng Primary School aan die vooraand van die 40ste herdenking van die Soweto-onluste. Foto: Claudi Mailovich

Hoewel Mokgatle beklemtoon dat die betogings vreedsaam was, sê hy die hel het losgebars nadat die polisie begin skiet het. Die jeugdiges het kantore van die destydse Wes-Randse Bantoe-administrasieraad en biersale afgebrand. In die proses het mense begin plunder.

Dit was te midde van al hierdie chaos dat Edelstein, wat volgens Mokgatle bekend was in die gebied, vermoor is.

Hy sê mense wat hom geken het, sou hom nie vermoor het nie, maar dat mense in ’n irrasionele uitbarsting alles wat wit was, geteiken het.

“Enigiets wat wit was, het mense vermoor. Mense was irrasioneel en het gemoor omdat hulle kwaad was.”

Die bloedige betogings het eers ’n paar dae later in Soweto bedaar, maar het toe reeds na van die ander townships in Gauteng verskuif en afkeer vanuit die buiteland ontlok.

’n Geraamde 200 mense is op 16 Junie en die daaropvolgende dae dood, maar daar is geen bevestigde dodetal nie.

Barney Mokgatle praat met Netwerk24 aan die vooraand van die 40ste herdenking van die Soweto-onluste. Foto: Claudi Mailovich

Mokgatle is deesdae uiters bekommerd daaroor dat mense skole en klinieke afbrand want dit het hulle nooit gedoen nie.

“Ons is steeds trots daarop dat ons nie ’n skool aan die brand gesteek het nie. ’n Skool was ’n plek waar ons kon verenig en organiseer. Ons het nie klinieke aan die brand gesteek nie, want ons het geweet as ons geskiet word, gaan ons na die klinieke toe om gesond te word.”

Vergewe, maar nie vergete

Mokgatle sê hy sal die gebeure kan vergewe, maar nooit vergeet nie.

“Om te vergewe is iets wat selfs die Bybel vir ’n mens sê jy moet doen. Maar ’n mens moet nooit vergeet nie, want as jy vergeet kan iets soortgelyks van ’n ander bron af gebeur.”

Hy vra mooi dat ’n mens skryf dat daar onthou moet word dat die stryd nie teen Afrikaans as taal was nie.

“Ons het Afrikaans as taal nie gehaat nie. Ons het die stelsel gehaat wanneer ons daardeur onderdruk is, wanneer ons in die strate geteister is, wanneer ons gevra is om pasboeke te wys. Wanneer die polisie in die nag aan jou deur geskop en gesê het ‘Waar’s jou ma, waar’s jou pa’ en jou dan geklap het.”

Twee mans stap Dinsdag verby die standbeeld van die studenteleier Tsietsi Mashinini. Dit staan voor die ‘June 16 Memorial’ wat oorkant die Morris Isaacson High School is. Foto: Felix Dlangamandla

Nou, 40 jaar later, stap kleuter- en laerskoolkinders op toere rond by die Hector Pieterson-museum, skaars ’n paar honderd meter van die hoek van Vilakazi- en Moemastraat af waar die koeël Hector Pieterson getref het.

Skoolkinders sit twee meter van die monument af en speel ‘zwippie’. Op die oorkantste straathoek is ’n ander groep besig met ’n repetisie vir die stuk Sarafina!.

Rondom die toeristegedrewe Vilakazi-straat kon dit maklik lyk soos die suburbs as dit nie was vir die monumente nie, wat uitskreeu: Kyk, onthou. Hier het ons kinders gesterf aan die hand van ’n wrede bestel.

’n Man verf aan die Hector Pieterson-gedenkbeeld twee dae voor die 40ste herdenking van die Soweto-onluste op 16 Junie. Foto: Felix Dlangamandla

Vir hierdie vryheid was die stryd van 1976 vir Ngutshane die moeite werd.

“Ek dink hierdie stryd van die jeug, van die klas van 1976, was ’n keerpunt in ons geskiedenis. Dit was die moeite werd. Kyk waar is ons vandag.

“Direk ná dit was Suid-Afrika nooit ooit weer dieselfde nie. Daar was aksies van ons mense wat gelei het tot die 1980’s, wat gelei het tot gesprekke en van daar af na ware gesprekvoering met die regering vanwaar daar begrip gekom het oor hoekom ons nie Suid-Afrika in ’n bloedbad in moes lei nie.”

Meer oor:  Soweto
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.