Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
2 Afrikaner-bulle: My pa en Eugène Terre’Blanche

Dit is vandeesmaand 40 jaar sedert Eugène Terre’Blanche en die AWB die historikus FA van Jaarsveld geteer-en-veer het. Albert van Jaarsveld skryf hoekom dié twee mans eintlik baie gemeen gehad het. 

’n Geskokte FA (Floors) van Jaarsveld net ná die teer-en-veer-insident. Van Jaarsveld het daardie aand ’n referaat oor Geloftedag by Unisa gelewer toe hy van sy voete gelig is en ’n kan teer en ’n sloop vere oor hom uitgeskud is.

Op 28 Maart 2019 sal dit 40 jaar wees sedert Eugène Terre’Blanche en die AWB letterlik oornag bekendheid verwerf het.

Op die aand van 28 Maart 1979 het ek, ’n Tuks-student, in my ouerhuis in Lynnwood, Pretoria, vir ’n Volkekunde-toets geleer. Ek het net begin studeer toe die huistelefoon lui.

Dit was my ma, van ’n tiekieboks af: “Sluit asseblief die deure.”

My leerdery vir die toets was skielik op ’n einde, want die telefoon het daardie aand nooit ophou lui nie. Op daardie aand by Unisa het my pa, Floors van Jaarsveld, net aan die woord gekom om sy referaat te lewer oor Geloftedag, toe ’n groep mans die saal van agter binnegekom en die verhoog bestyg het. Hy is van sy voete af gelig en ’n kan teer en ’n sloop vere is oor hom uitgeskud.

Terre’Blanche het die mikrofoon gegryp en ’n kort verklaring voorgelees waarin my pa tot godloënaar en verraaier verklaar is voor ’n uitgelese, “gemengde” gehoor, wat onder andere Mangosuthu Buthelezi ingesluit het.

Die teer-en-veer-insident het internasionaal opslae gemaak.

My pa se referaat het oor die Bloedrivier-gelofte gehandel en op welke wyse Afrikaners dit oor baie jare gevier of nie gevier het nie. Hy het ook die teks van die gelofte ontleed en daarop gewys dat die tydgenootlike getuienis van Andries Pretorius en sy sekretaris Jan Bantjes baie meer waarde het as dié van Sarel Cilliers, wie se herinneringe bykans 30 jaar later (“op sy sterfbed”) opgeteken is. Dit weerspieël nie Cilliers se gebed wat voor die Slag van Bloedrivier afgelê is akkuraat nie.

Daar is egter genoeg gepubliseer oor wat my pa gesê het en wat nie. Ek kan nie namens hom praat nie.

Die teer-en-veer-insident het internasionaal opslae gemaak. Die pers het weke lank bespiegel oor wie die teer-en-veerders nou eintlik was en wat hulle verteenwoordig het.

In Afrikaanse koerante is na hulle verwys as die “teergroep”, die “teer-en-veer-brigade” en “bullebakke”, terwyl die Engelse pers woorde soos “gang”, “thugs” en “criminals” verkies het. Toevallig was dit ook Terre’Blanche se eerste strafregtelike oortreding van ’n rits wat sou volg en waarvoor hy uiteindelik om amnestie by die WVK aansoek gedoen het, maar wat hom tog uiteindelik in die tronk sou laat beland.

Kort ná die teer-en-veer-insident het die AWB ’n openbare vergadering in die stadsaal van Pretoria-Noord gehou waar Eugène Terre‘Blanche die AWB, met sy Nazi-agtige embleem van drie sewes, aan die publiek bekend gestel en die teer-en-veerders se optrede verdedig het. Hierdie foto is in 2009 geneem. Foto: Johann Hattingh

’n Pyl deur die hart

Op Woensdag 11 April 1979 het die AWB ’n openbare vergadering in die stadsaal van Pretoria-Noord gehou waar Terre’Blanche die AWB, met sy Nazi-agtige embleem van drie sewes, aan die publiek bekend gestel en die teer-en-veerders se optrede verdedig het. Terselfdertyd het hy houe na die Vrymesselaars, die “Illuminati, die internasionale geldmag en die internasionale Jodedom” voor verdwaasde joernaliste ingekry. Die opgang van die AWB hierna is welbekend.

Wat minder bekend is, is die uitwerking wat die teer-en-veer-insident op my pa en sy gesin gehad het. Vir lank het die telefoon die Van Jaarsvelds van hul kop af gehad. Familie, vriende en kollegas wat my pa ondersteun het of bloot joernaliste wat inligting wou hê. Dan was daar ’n groep naamlose papbroeke wat die Van Jaarsvelds onophoudelik geteister het met vloeke, beledigings en dreigemente – dag en nag. Haatpos het ingestroom. Onder andere ’n brief of twee wat in die kartonbuis van toiletrolle gestuur is.

Mevrou, sê vir jou man as hy nie nou sy bek gaan hou nie, is die volgende pyl deur jou seun se hart.

Daar was ook ernstiger voorvalle, onder meer ’n reuseklip wat my pa se studeerkamervenster in skerwe laat spat en op sy lessenaar beland het. Daar was ’n aanslag op sy lewe met ’n kruisboog deur sy studeerkamerruit waar hy sit en werk het.

Hy was gelukkiger as prof. Johan Heyns. Die pyl het ’n skildery teen die muur agter my pa se kop deurboor. Nie lank hierna nie het die oproep gekom: “Mevrou, sê vir jou man as hy nie nou sy bek gaan hou nie, is die volgende pyl deur jou seun se hart.”

Daar was ’n versoekskrif om my pa by Tuks te ontslaan weens die “liberale gif” wat hy in die studente se koppe gepomp het. Daar was ook ’n besoek van die Veiligheidspolisie, wat vort is met die meeste van sy “kommunistiese lektuur” – hoofsaaklik materiaal soos boeke wat hy gedurende Europese studiereise bekom het en wat hier verbode was.

Hulle was nie beïndruk met sy verduideliking dat hy op derdejaarsvlak ’n akademiese kursus oor die geskiedenis van Kommunisme in Suid-Afrika aanbied nie. Ook die reekse voorgeskrewe geskiedenis-skoolhandboeke, waarby hy sedert die laat 1950’s betrokke was, het in die slag gebly. Dit was “verdag” en is uiteindelik uitgefaseer. Genadiglik het die uitnodigings om landgenote op feesdae toe te spreek, ook opgedroog. Floors van Jaarsveld was “persona non grata”, ook onder akademici met botsende sentimente.

Floors van Jaarsveld saam met Die Uithouritvereniging, waarvan hy in 1986 ’n lid was, op Kaapsehoop. Hy en Terre’Blanche het albei ’n groot liefde vir perde gehad.

Met die broek op die knieë

Hy het nooit ’n skadevergoedingseis teen Terre’Blanche en die nege mans wat saam met hom gevonnis is, ingestel nie. Hiervoor was sy tyd te kosbaar. Maar vir dié wat weet, was daar nog redes om die saak daar te laat.

My pa het in ’n eenvoudige pioniershuis op die Hoëveldse platteland grootgeword. Vandaar sy ewige hunkering na die plaaslewe en sy liefde vir die grond. Sy ouers was eenvoudige mense, en brandarm. Só het hy nederigheid geleer en daarom het hy altyd ’n sagte plekkie vir Afrikaners gehad wat ’n sukkelbestaan op die platteland voer – ook dié wat gedwing is om die plase te verlaat en as myn- of fabriekswerkers in stede beland het. Hy het vir baie jare studieskuld afbetaal.

Uiteindelik het die dood al twee “met die broek op die knieë” gevang.

Die omstandighede waaronder hy en Terre’Blanche grootgeword het, verskil nie veel nie. Hulle het ook ’n gemeenskaplike liefde vir perde gehad – toevallig het al twee in die openbaar afgeval. Selfs die manier waarop hulle gesterf het en begrawe is, toon ooreenkoms: – ’n plaasbegrafnis, grafte wat met bakstene uitgemessel is, waarna ’n laag beton oor die kis gegiet is. Uiteindelik het die dood al twee “met die broek op die knieë” gevang. My pa was op pad toilet toe toe ’n hartaanval sy lewe geëis het. Hoe en wanneer Terre’Blanche se broek op sy enkels beland het toe hy vermoor is, is steeds onduidelik.

’n Bewoë Eugène Terre-Blanche bedank sy vrou Martie vir haar ondersteuning. Hy het by hierdie geleentheid sy gedigte bekend gestel, asook ’n DVD waarin hy sy gedigte voordra. Foto: Leon Botha

Sowel Terre’Blanche as my pa het sterk, lojale vroue gehad wat hulle deur dik en dun bygestaan het. Terre’Blanche se Martie het volgens ’n voormalige sekretaris-generaal van die AWB, Kays Smit, haar vingers “stomp getik” in die AWB-kantoor. My pa het sy Helet gehad, wat 18 maande gelede op 92 oorlede is, sonder erkenning vir haar ondersteunende rol in soms baie moeilike omstandighede.

Albei mans het ’n liefde vir rooivleis en mieliepap gehad en graag ’n dop gemaak – my pa whiskey en Terre’Blanche na bewering brandewyn-en-Coke. Hul humeure kon opvlam en geen teenstand is geduld nie, soos familie, vriende en verdwaasde kollegas gereeld moes agterkom.

Floors en sy vrou Helet van Jaarsveld voor die hof. In die agtergrond maak lede van die AWB spottende aanmerkings.

Floors het gehou by sigare en Eugène by Lexington. Al twee het aspirasies gehad om kuns te skep. Terre’Blanche het sy teks Sybrand die watermaker geskryf. Hy het gehou van die mooi woord, die ontroerende woord. Van Jaarsveld het geskilder en ’n groot versameling beeldende kuns opgebou. Agter sy reuseteleskoop in die agterplaas was die heelal sy mooiste palet, die grootste kunswerk ooit.

Die “volk” moes daaraan herinner word dat hy nie soos ’n Israel van ouds “geroepe” of “uitverkore” is nie en alleen sou staan teen die buitewêreld.

Maar die grootste ooreenkoms tussen hierdie twee Afrikanerbulle was hul diep liefde vir Afrikaners en die vrees vir enigiets wat Afrikaners se voortbestaan sou bedreig – eers was dit die Engelse en later die “swart gevaar” – wat Afrikaners getalsgewys sou verswelg.

Dit is ook op hierdie terrein waar hul aanslag verskil het en uiteindelik sou lei tot ’n breuk wat nooit kon heel nie. My pa het geglo in onderhandeling omdat die pen en die tong skerper as die swaard is. Die “volk” moes daaraan herinner word dat hy nie soos ’n Israel van ouds “geroepe” of “uitverkore” is nie en alleen sou staan teen die buitewêreld. Apartheid sou nie vir ewig kon voortbestaan nie en swart meerderheidsregering in Suid-Afrika sou noodwendig volg – daarom moes ons onderhandel. Die ANC en Nelson Mandela kon nie weggewens word nie.

Terre’Blanche het verkies om weerstand te bied dermate dat hy en sy ondersteuners nie gehuiwer het om tot geweld oor te gaan nie. Só het mense onskuldig gesterf.

Albert van Jaarsveld

Versoeningsdag

Uiteindelik het dit ook Terre’Blanche en die AWB se einde beteken. Al die mans wat saam met Terre’Blanche my pa geteer-en-veer het, het intussen van die toneel verdwyn. Dis slegs Jan Groenewald wat vandag nog in ’n stryd gewikkel is om vrede te handhaaf tussen die “ou mense” en die “dissidente” op sy “slegs-vir-blankes”-nedersetting, Kleinfontein, oos van Pretoria.

Die meeste van my pa se voorspellings het waar geword. En sy pleidooie om 16 Desember as vakansiedag te behou het vrugte afgewerp. Geloftedag in die vorm van Versoeningsdag vir alle Suid-Afrikaners bestaan steeds.

Al twee wou ver kyk. Al twee het, elkeen op sy eie manier. Floors van Jaarsveld was my pa. Eugène Terre’Blanche het ek nooit geken nie. Of het ek?

* Albert van Jaarsveld was vroeër verbonde aan die departement geskiedenis van die Universiteit van Zoeloeland. Tans is hy ’n onafhanklike navorser wat in grondeise spesialiseer.

Meer oor:  Awb  |  Geloftedag  |  Versoeningsdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.