Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’20 maak studente sterker

Verlede jaar was moeilik, ook in die hoër onderwys, maar 2020 het studente ook die geleentheid gebied om 21ste-eeuse vaardighede aan te leer, skryf Wim de Villiers.

Universiteite moes verlede jaar te midde van die Covid-19-pandemie blitsig oorskakel na ’n digitale omgewing. ’n Hibriede model, wat die digitale omgewing met klasbywoning kombineer, word in die vooruitsig gestel. Foto: ISTOCK

Met 2020 pas verby, dring dit tot ’n mens deur hoe vinnig en ingrypend alles verander het. Dit geld feitlik elke aspek van ons lewens, maar uit my verwysingsveld veral die hoër onderwys en spesifiek die instelling waar ek werk, die Universiteit Stellenbosch (US).

Toe die koronaviruspandemie ons tref, is al die planne wat ons vir 2020 gemaak het, onmiddellik vervang met slegs twee prioriteite – om die akademiese jaar suksesvol af te handel en om die volhoubaarheid van dié instelling te verseker. Dit bly ’n inspirasie om te sien hoe die hele universiteitsgemeenskap in reaksie op die krisis saamgestaan het.

Spanpoging

Seker die belangrikste verwikkeling was ons blitssnelle oorskakeling na noodafstandsonderrig, -leer en -assessering. Kontak­onderrig is in die middel van Maart opgeskort en teen die einde van April is klasse aanlyn hervat. Wat ons beplan het om in vyf jaar te doen (om e-leer geleidelik uit te brei), moes ons noodgedwonge in vyf weke doen!

Dit was ’n groot spanpoging.

Elkeen het sy deel gedoen – van die dosente, wat hul kursusse moes hersaamstel, en die studente, wat skielik daaraan gewoond moes raak om aanlyn klas te draf en eksamen te skryf, tot die tegnici, wat oorlaaide stelsels in rekordtyd moes opgradeer, en die bestuurders, wat dinge aan die gang moes hou, kom wat wil.

’n Groot uitdaging waardeur alle universiteite uit die staanspoor in die gesig gestaar is, was die digitale kloof tussen dié met toegang tot 21ste-eeuse inligtings- en kommunikasietegnologie en dié daarsonder.

Ons het dadelik sowat 1 800 skootrekenaars aangekoop en per koerier na studente wat aangedui het hulle benodig dit, gestuur (dit was onder vlak 5-inperkings, so ons moes spesiale toestemming vir aflewerings kry).

Ons het ook data aan ons studente verskaf vir toegang tot die internet. Die hoëronderwyssektor het gesamentlik ’n ooreenkoms met selfoonmaatskappye beding, maar dit was steeds ’n groot uitgawe. Gelukkig kon die US-raad reserwes vir onvoorsiene kostes beskikbaar stel.

Stigtings wat hoër­onderwysinstellings steun, het bykomende bydraes gemaak vir die oorskakeling. Dít het ons in staat gestel om ’n verskeidenheid buitengewone intervensies vir omvattende akademiese en psigososiale studentesteun te bied.

Daar is onder meer opleidingsessies vir dosente aangebied en hulle is bygestaan om hul kursusmateriaal vir aanlyn klasse om te skakel. Dit was harde werk en hulle het baie oortyd ingesit – en ook hul vakansie opgeoffer.

Studente het baie inligtingshulpbronne gekry, asook bykomende taalbystand en tutorsessies. Maar maklik was dit nie. Hulle het dalk met digitale toestelle en die internet grootgeword, maar dit het steeds kophou en vasbyt geverg om kwartpad deur hul studiejaar na die kuberruim te migreer.

Beurtkrag en gradedag

En net toe ons dink dinge is onder beheer, word die ligte afgeskakel. Beurtkrag in September kon skaars op ’n slegter tyd gekom het – toe die akademiese jaar spoed optel met opdragte en assesserings waarvoor internetverbinding onontbeerlik is.

Die jaar het beslis sy tol geëis. Ons afdelings wat psigososiale steun bied, het ’n groter vraag ervaar. Dit was moeilik en dit is belangrik om te erken daar was tekortkominge. Anders gaan ons nie verbeter nie. Ons het goed gedoen, gegewe die uitdagings, maar talle studente en personeellede het die prys betaal.

Daar is egter ook ’n breë silwer rand. Studente moes vanjaar nie net vakkennis baasraak nie – meer as ooit moes hulle ook leer om aanpasbaar te wees, druk te hanteer, innoverend en kreatief te wees, met ander mense te kommunikeer, saam te werk en vasberadenheid en deursettingsvermoë te openbaar.

Vanjaar was propvol geleenthede om 21ste-eeuse vaardighede aan te leer – en dit behoort die Klas van 2020 gesog te maak in ’n arbeidsmark wat weliswaar onder druk is, maar juis daarom ’n premie plaas op die vermoë om wisselvalligheid, onsekerheid, kompleksiteit en dubbelsinnigheid te hanteer (die sogenaamde Vuca-uitdagings: volatility, uncertainty, complexity, ambiguity).

Ons somergradeplegtigheid van 14 tot 16 Desember was ’n viering van akademiese uitnemendheid wat baie goed vir ons gemoedere was.

Nie minder nie as 5 701 van ons studente het ’n gesogte kwalifikasie ontvang – wat merkwaardig is, gegewe die moeilike jaar wat ons beleef het. Ons het 3 409 voorgraadse kwalifikasies toegeken – die meeste tot nog toe in dié kategorie. Daarby is ook 1 005 honneurs-, 502 meesters- en 138 doktorsgrade toegeken – ’n groot bydrae tot ontwikkeling in ons land, ons vasteland en die res van die wêreld.

Plek en mense

Ons handhaaf ook ons akademiese uitnemendheid. Volgens deurset-tabelle van die departement van hoër onderwys en opleiding is die US steeds die voorste universiteit in die land ten opsigte van studentesukses. Ons algehele sukseskoers vir voorgraadse modules (dit is studente wat hul modules slaag) staan op 87,2%.

Die US het die afgelope paar maande die merkwaardige prestasie behaal om op drie ranglyste onder die voorste universiteite ter wêreld getel te word: die Sjanghai-ranglys, Times Higher Education en US News & World Report.

Hoewel ons allereers op akademiese en navorsingsuitnemendheid konsentreer, begryp ons die belang van ranglyste in die algehele opvatting van ’n instelling se statuur. Daar word voorspel residensiële universiteite gaan noustrop trek namate die aanbod van hoër onderwys aanlyn toeneem. Ons ervaar egter die teenoorgestelde. Ons kon ons groei die afgelope vier jaar volhou. Totale aansoeke het met 29% gestyg, volledige aansoeke met 11% en voorlopige aanbiedinge aan voornemende studente met 10%. Dit is die grootste mosie van vertroue waarvoor enige universiteit kan vra.

Hoe verklaar ’n mens dit? Met twee woorde: plek en mense. Dít is wat ’n residensiële universiteit bied wat nie in die kuberruim nagedoen kan word nie.

Plek – die totale studente-ervaring, in ons geval in een van die mooiste dele van die land. Met van die beste fasiliteite, buitemuurse ervarings soos min en ’n opwindende studentelewe.

En mense – toonaangewende navorsers en dosente plus omvattende studentesteun wat akademiese uitnemendheid in die klaskamer verseker, en terselfdertyd stimulerende blootstelling aan diverse idees daarbuite in ’n omgewing vol jong mense van oor die land en wêreld heen.

Hibridiese leer

Maar ons kan nie op ons louere rus nie, want die wêreld verander vinnig. Covid-19 het ’n aanlyn omwenteling teweeg gebring en universiteite moet bybly. Dit is hoekom ons beplan om kontakonderrig so gou moontlik volgende jaar te hervat – tot die mate wat die koronavirus dit toelaat – maar aangevul deur aanlyn onderrig. Dié kombinasie staan as hibridiese leer bekend.

Daar is sekere vakinhoud wat elektronies verpak kan word in die vorm van skyfievertonings, video’s en klankopnames – materiaal wat studente gerieflik kan bemeester sonder om klas by te woon, waar en wanneer hulle wil. Lesings en klasbesprekings bly egter belangrik, maar daar is die komplikasie van Covid-19-beperkings op getalle. Daarvoor kan webkameras in klaskamers waarmee lesings regstreeks uitgesaai word, ’n oplossing bied. Ons ondersoek dié moontlikheid.

’n Toename in hibridiese leer kan ook ’n ander mark vir universiteite ontsluit – volwasse studente wat reeds werk en nie voltyds kan inskryf nie, maar wat kursusse wat elektronies verpak word, aanlyn kan doen, aangevul met kort blokkontaksessies ’n paar keer per jaar.

Die filosoof Alfred North Whitehead het gesê die kuns van vooruitgang is om orde te midde van verandering te handhaaf, en verandering te midde van orde. Dít was vanjaar ons mantra en sal ons help om in die toekoms saam vorentoe te gaan.

Meer oor:  Wim De Villiers  |  Onderrig  |  Koronavirus  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.