Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
2de vlaag: ‘Dis nét so nag in private hospitale’

Sy huil in haar kar op pad werk toe en op pad huis toe, want sy ontstel haar ma en seun as sy by die huis huil, het ’n dokter wat in ’n ongevalle-afdeling in die voorste linie teen Covid-19 werk, aan Jana Marx gesê.

Dr. Bianca Vermeulen, ’n dokter van die Mediclinic Midstream in Centurion se ongevalle-eenheid.

Die afgelope drie weke “was nág”, en volgens dr. Bianca Vermeulen van die Mediclinic Midstream in Centurion is die wêreld op sy kop gekeer.

En die mense wat glo ’n bed in ’n private hospitaal bespreek omdat hulle ’n mediese fonds het?

“Ag, hulle het nie ’n benul wat hulle sê nie . . . ”

En dís die werklikheid in die hele gesondheidsektor, waar private hospitale net soos staatshospitale onder die druk van die tweede vlaag van die koronaviruspandemie steier.

Hoewel wetenskaplikes nog nie met sekerheid kan sê of die nuwe variant, wat hierdie vlaag veroorsaak, mense sieker maak nie, is dit duidelik uit die stygende getal infeksies dat dit makliker en vinniger versprei.

Dr. Vermeulen hou ’n ventilasiesak vir ’n Covid-19-pasiënt vas. Foto: Verskaf

Vermeulen werk al sedert 2001 in hospitale in die private sektor se ongevalle-afdelings, maar min kon haar op hierdie tweede vlaag voorberei.

“Die afgelope drie weke was daar dae wanneer ons nie genoeg ventilators gehad het vir die pasiënte wat geïntubeer moes word nie. Ander hospitale ook nie.”

Sy voer haar kollegas Fizzers, want met al die pasiënte wat by ongevalle ingestoot word, is daar skaars tyd om badkamer toe te gaan – wat nog te sê van etenstyd.

Afgesien van die toestroming van Covid-19-pasiënte daag ander pasiënte asook dié vir opvolgbesoeke by die ongevalle-afdeling op.

“Die afgelope drie weke moes ek die eenheid meer as een keer ná my skof oorvol aan ’n kollega oorgee. Daar is nie genoeg beddens om die oormag pasiënte op te neem nie.”

Ons het ’n ‘bystanddokterstelsel’ in plek. Ordentlike beplanning en ’n dinamiese span is ons redding.

Dit beteken baie pasiënte wat vir noodbehandeling gebring word, kan eenvoudig nie in ’n hoësorgeenheid opgeneem word nie en kry sommer net daar in ongevalle-afdeling hul hoësorg-behandeling.

“Ons het afgelope twee weke tussen vyf en 15 ‘nuwe’ pasiënte per skof gesien. Ons het agt beddens in ongevalle en bestaande pasiënte word soms dae aaneen in ongevalle versorg. Ons juggle die ‘nuwes’ so goed as moontlik.”

Daar is wel nie ’n tekort aan medici nie, benadruk sy.

“Ons het gelukkig tans ’n groot genoeg poel van dokters sodat ons vir mekaar kan instaan. Ons praktykbestuurder is besonders goed met beplanning en vooruitsig, sy was verlede jaar asemrowend. My baas is besonders ondersteunend en reël gereeld dat daar eerder te veel as te min dokters is. Ons het ’n ‘bystanddokterstelsel’ in plek. Ordentlike beplanning en ’n dinamiese span is ons redding.”

‘Jy wil die dokter wat jou kom aflos, soengroet!’

Al bring sy ure in ongevalle deur, het dr. Vermeulen nie Covid-19 opgedoen nie. Foto: Verskaf

Vermeulen pak soggens haar sakke vir werk en gee haar seun, Luke (9), in haar ma se sorg oor vir die dag.

“Ons sit nie meer grimering aan nie. Dis die eerste keer sedert ek op hoërskool as kelnerin begin werk het dat ek sonder grimering in openbaar verskyn, wat nog van werk toe gaan!”

Sy teken dan op Mediclinic se SMS-stelsel in, waar werknemers ’n Covid-19-vraelys moet voltooi en ’n QR-kode vir toegang tot die hospitaal kry.

Sy ry net ná 06:00 werk toe. Ná die Covid-19-protokolle in die hospitaal se ingang ontvang sy ’n masker en ’n hospitaaluniform en trek van kop tot tone “skoon” aan. Die klere en skoene waarmee sy van die huis af gekom het, word in ’n plastieksak gebêre.

Tot omtrent drie weke gelede het sy om 06:45 by die nagdiensdokter oorgeneem, waarna hulle beplanning sou doen en die enkele pasiënte wat nog in die eenheid was, sou bespreek.

“Maar sedertdien neem ek dikwels ’n vol eenheid oor met pasiënte wat al (of nog steeds) buite wag om die dokter te spreek.”

Van haar daaglikse take, soos omgee-oproepe (care calls) na pasiënte en families wat bykomende sorg of inligting benodig, is die afgelope ruk gestaak. Daar is eenvoudig nie tyd daarvoor nie.

“Die afgelope drie weke het ek die meeste van dae nie kans gehad om meer as ’n koppie koffie of ’n bottel water op ’n skof te drink nie. Daar was ’n paar dae wat ek nie eens eenkeer in my skof badkamer toe gegaan het nie.

Die ernstige siek mense kan nie hul fone antwoord nie en dit dryf hul familie en vriende tot raserny.

“Tussen die oorweldigende hoeveelheid werk deur, asook oproepe en papierwerk wat ’n Covid-19-pasiënt betref, probeer ’n mens nog om al hul familielede se bekommerde, angstige en gereeld aggressiewe navrae op ’n sagte, kalm en simpatieke manier te antwoord. Hierdie arme mense moet buite of tuis sit en wag, want ’n mens probeer blootstelling beperk. Die ernstige siek mense kan nie hul fone antwoord nie en dit dryf hul familie en vriende tot raserny. Dan wil almal my bel en gesels,” sê Vermeulen.

Die feit dat dokters nie sonder ’n pasiënt se toestemming inligting telefonies bekend mag maak nie, help ook nie om die gemoedere te kalmeer nie, sê sy.

“Ek het eenvoudig nie tyd vir ’n telefoonbakleiery nie. Ek het werk om te doen. Ek moet op die foon wees met interniste, pulmonoloë, kardioloë en ’n legio ander spesialiste asook ambulansdienste, my kollegas en baas.”

Dr. Vermeulen (links agter) en kollegas help ’n Covid-19-pasiënt na die RT-masjien (CT/CAT-masjien). Foto: Verskaf

Almal moet elke oomblik inspring om die chaos te beheer.

“Ek stoot self pasiënte na die X-straaldepartement en gaan haal hulle. As my kollegas besig is, vat ek water vir dié wat vra of dors is. Ek neem oproepe oor administrasie en mediese fondse. Ek vee braaksel, bloed en uriene van die vloer af op. Ek vat bedpanne en urinebottels en trek beddens met vars linne oor.”

En as daar eers ’n kode-blou-roep is, los Vermeulen en die aangewese verpleeglid aan diens alles, gryp ’n sak noodmedisyne en hardloop.

Daar is nie ’n simptoom wat oorheers nie.

Kode-blou is wanneer ’n pasiënt se toestand skielik of onverwags drasties verswak en medici so vinnig moontlik moet spring om ’n lewe te probeer red.

Terwyl Vermeulen spook om die kode-blou-pasiënt met onder meer kardiopulmonêre resussitasie (KPR) te probeer bybring, moet die res van haar kollegas die fort in ongevalle hou.

“Jy wil die dokter wat jou kom aflos, soengroet!” skerts sy.

Nadat haar skof omstreeks 18:00 eindig, trek sy weer haar “huisklere” aan. By die huis stort sy in ’n buitestort en gooi haar klere onmiddellik in ’n emmer met waspoeier.

“My ma het emfiseem en my seuntjie is jonk. Ek kan nie die ding by my huis indra en dan nog verantwoordelik voel vir hul siekte nie . . . ”

Hoe lyk die pasiënte wat by ongevalle opdaag?

Dr. Vermeulen sê die koronavirussiekte se simptome is heeltemal onvoorspelbaar en verskil van pasiënt tot pasiënt. Sommige kom net in vir ’n tweede opinie sonder om te besef hoe siek hulle werklik is. Foto: Verskaf

“Die afgelope drie weke het die meeste van my pasiënte vir my gesê dit was totaal onverwags. Hier en daar kry ’n mens ’n persoon met erge bestaande komorbiditeite, maar hulle kom gewoonlik vroeg. Ander mense het gedink hulle kan dit hanteer, want hulle ‘voel dan so gesond’.”

Die koronavirussiekte se simptome is egter heeltemal onvoorspelbaar en verskil van pasiënt tot pasiënt, sê sy.

“Party van my pasiënte kom in met lyfseer en nekspierspasma of hoofpyne. Party kla van naarheid en diarree en sommige van koors. Daar is mense wat dink dis net ‘weer’ ’n angsaanval en wil net gou dubbeld seker maak. Daar is nie ’n simptoom wat oorheers nie.

Wanneer ’n pasiënt so moeg is dat hulle net vir my kyk, in enkelwoorde antwoord en nie kla van pyn as ons ’n drup moet opsit nie, wil ek huil. Dit beteken gróót moeilikheid.

Soms kom mense vriendelik ingestap en gesels aaneen, maar wanneer hul maskers afglip, is hul lippe potblou (lees hier meer oor “opgeruimde hipoksie” of happy hypoxics). Party kom dalk aggressief en bakleierig voor en ander kla van pyn in die borskas. Die meeste jonger mense kom net vir ’n vinnige ondersoek want hulle ‘voel net nie reg nie’, of ‘pap’.”

Die mense wat “regtig siek is”, kla dat hulle kortasem is, sê sy.

“Maar as mense wat kortasem is, nié kla nie, raak my knieë lam. Wanneer ’n pasiënt so moeg is dat hulle net vir my kyk, in enkelwoorde antwoord en nie kla van pyn as ons ’n drup moet opsit nie, wil ek huil. Dit beteken gróót moeilikheid.”

‘Ons gesels nog, toe is hy dood’

Dr. Vermeulen en ’n kollega stoot ’n Covid-19-pasiënt na die RT-masjien (CT/CAT-masjien). Foto: Verskaf

Min mense wat in die Mediclinic Midstream opgeneem word, sterf aan Covid-19-verwante komplikasies.

“Die feit is egter, as jou ma of pa of boetie die een uit 100 is, is dit jou hele lewe wat omvergegooi word. Ons persentasie sterftes is laag, maar elkeen is een te veel en onnodig.”

Sy vertel van een pasiënt wat in haar geheue ingeëts is.

Dié middeljarige man het homself hospitaal toe bestuur en self sy papierwerk ingevul. Ná drie dae se tuisbehandeling vir brongitis het hy sleg gevoel en wou weet of Vermeulen net gou kan seker maak dat hy die regte medisyne het.

“Hy het self ingeloop – tot by sy bed – en vir my gesê hy dink nie dit is brongitis nie; hy is bang dat hy sal doodgaan. Terwyl ons die monitors aan hom koppel, het hy op die bed terug gelê en met my gesels. Sy saturasies (suurstof in die bloed) was 38 (baie, baie laag).

“Ons het eers die suurstofmasker en binneaarse drups opgesit en hy het aanhou gesels. In die middel van sy sin het hy opgehou praat en na my linkeroor gestaar. Die monitor het ’n plat lyn gewys en ek dog eers dit het losgeraak.

“Ons het amper ’n uur lank KPR op daardie man gedoen voordat sy familie met sy positiewe Covid-19-uitslag opgedaag het. Ons moes KPR staak want ons kon nie sy hart aan die klop kry nie. Ek was besig om met hom te gesels, toe is hy net dood. Sy familie het nie eens geweet hy het gou ingekom vir ’n tweede opinie nie. Dis verbysterend. Angswekkend.”

Benewens daaglikse blootstelling het Vermeulen nie Covid-19 opgedoen nie.

“Ek moet erken,ek is nie so bang vir myself as wat ek bang is dat ek my ma en my kind daaraan blootstel nie. As ek ’n voet verkeerd sit en hierdie ding huis toe neem . . . Ek sal nie met myself kan saamleef as ek dit vir iemand moet gee vir wie ek lief is nie.”

‘Covid-19 maak nie ryk nie’

Dr. Vermeulen by ’n Covid-19-pasiënt in haar sorg. Foto: Verskaf

Volgens Vermeulen verkeer mense soms onder die indruk dat dokters wat gedurende ’n pandemie werk, “verskriklik ryk word”.

“Dis nie waar nie. Covid-19 betaal nie. Mense kan nie hul rekeninge betaal nie. Sekere van die mediese fondse het hul prys per konsultasie verlaag. Sekere fondse dek nie ongevallesorg nie en ons wys nie sommer mense weg nie. Ek het in 2020 meer ure (teen laer betaling per uur) as in 2019 gewerk sodat ek my kostes kon dek. Ek is vriende met huisdokters en spesialiste wat selfs hul praktyke moes toemaak en lenings moes aangaan om kop bo water te hou.”

‘Hou op rondloop!’

Dr. Vermeulen pleit by mense om openbare byeenkomste te vermy en ’n behoorlike masker met drie lae te dra. Foto: Verskaf

Nes medici landwyd, is Vermeulen gedaan. Sy pleit by mense om versigtiger te wees. “Ek is te moeg om met my seun te speel of voor of ná werk te gaan stap. Ek het my oom se afsterwe met drie uur gemis en sy begrafnis heeltemal misgeloop. Ek kon dit op Zoom volg, maar ek moes toe hardloop vir ’n kode-blou-geval.”

Sy kan nie onthou wanneer laas sy ordentlik met vriende en familie gekuier het nie.

Haar vriendin is deur ’n moeilike tyd en sy verwyt haarself dat sy nie haar seun verlede jaar met vakansie kon neem nie.

Hou op om al die bog, twak en onsin op die verdomde WhatsApp-groepies te glo, lees en aan te stuur.

“Ek huil in my kar op pad werk toe of op pad terug, want as ek by die huis huil, ontstel ek my ma en my seun. Ek voel soos ’n slegte ma en ’n slegte dogter – ek het al soveel oproepe van my ma gemis. As ’n mens jou volle mondering aan het, kan jy nie gou jou foon antwoord wanneer dit lui nie.

“Daar is nie ’n mooi manier om dit te stel nie. Hou op rondloop (pelle, winkels, kerk, die see). Ouma se “met liefde” selfgemaakte lapmasker gaan jou nie red nie – kry ’n ordentlike tripellaag-masker wat goed pas. Was jou hande ordentlik met seep en spuit tussendeur ordentlike handreiniger aan. Los die begrafnis en die partytjie. Hou op om al die bog, twak en onsin op die verdomde WhatsApp-groepies te glo, lees en aan te stuur. En word wakker: Geld keer nié die virus nie.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.