Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
3 krisisse wag op Boris Johnson

Wie is Boris Johnson, die man wat pas as leier van die Britse Konserwatiewe Party – en dus premier – aangewys is? Wat kan van hom verwag word? Leopold Scholtz soek na antwoorde.

Boris Johnson, Brittanje se nuwe premier, verlaat Dinsdag sy kantoor in Londen. Foto: Reuters

Voordat ’n mens iets oor die mens en politikus Boris Johnson sê, moet jy dalk eers ’n ander vraag beantwoord: Hoe lank gaan hy premier bly?

Die kans bestaan naamlik dat hy een van die kortste premierskappe in die Britse geskiedenis sal beklee. ’n Hele horde lede van Theresa May se kabinet het al klaar bedank, en heelparty lede van die Tory-koukus het te kenne gegee dat hulle dit ernstig sal oorweeg om ’n mosie van wantroue teen die Johnson-regering te steun.

Sir Alan Duncan, adjunkminister van buitelandse sake, – ’n swaargewig in sy party – het aan die vooraand van Johnson se aanwysing dramaties bedank met die doel om in die laerhuis te toets of die nuwe premier die vertroue van die parlement geniet. Duncan se versoek om ’n spesiale debat, wat ongetwyfeld op ’n mosie van vertroue (eintlik wantroue) sou uitloop, is egter deur John Bercow, die speaker, van die hand gewys.

Laerhuis se reses beteken nie dat Johnson se probleme sal verdwyn nie.

Duncan sê hy het “ernstige kommer” oor die bekwaamheid van die nuwe premier, en hom “wild en lendelam” genoem. Ook Rory Stewart, Philip Hammond en David Gauke, almal senior ministers, het eerder bedank as om onder Johnson in ’n kabinet te dien, en verdere bedankings is verwag.

Vrydag is die laaste sittingsdag van die laerhuis voor die reses vir die somervakansie. Die eerste vergadering ná die vakansie is eers begin September.

Dit beteken dat die politieke hoogspanning moontlik kans kan kry om te bedaar. Maar dit beteken nie dat Johnson se probleme sal verdwyn nie.

Sug na roem

Die Brexit-tameletjie is een van drie krisisse wat op Boris Johnson, die nuwe Britse premier, wag. Foto: Getty Images

Die teenstand teen Johnson berus hoofsaaklik op twee faktore: Johnson se persoonlikheid, en sy strewe om Brittanje, kom wat wil, op 31 Oktober van die Europese Unie te laat wegskeur.

Alexander Boris de Pfeffel Johnson is op 19 Junie 1964 gebore en het in Oxford gestudeer. Die probleme met sy persoonlikheid het hulle egter al baie kort ná die aanvang van sy joernalistieke loopbaan gemanifesteer, naamlik ’n sug na beroemdheid teen elke prys.

Hy is deur sy eerste werkgewer, die Londense dagblad The Times, in die pad gesteek oor hy ’n nuusberig uit sy duim gesuig het. Hy het daarna werk by The Daily Telegraph as korrespondent by die Europese Ekonomiese Gemeenskap (EEG), voorloper van die Europese Unie (EU), in Brussel, België, gekry.

Johnson het dikwels vlak voor spertyd op ’n potplant begin gil en skel om homself in ’n woedebui op te werk.

Vanuit Brussel het Johnson ’n horde “onthullings” oor die bemoeisug van die EEG geskryf: Brussel het bepaal dat alle komkommers en piesangs identies moes lyk, dat alle kondome ewe lank moes wees, dat spesiale inspekteurs moes toesien dat alle beesmis presies dieselfde ruik, ensovoorts. Dié verhale was almal uit die lug gepluk.

Sonia Purnell, Johnson se assistent in Brussel, het later vertel dat hy dikwels vlak voor spertyd op ’n potplant begin gil en skel het om homself in ’n woedebui op te werk, waarna hy sy verontwaardigde “onthullings” op skrif gestel het.

Op ’n keer het sy grappenderwys iets oor ’n EEG-amptenaar aan hom gesê, maar enkele dae later het dit – toegeskryf aan “ ’n gesaghebbende bron” – in die koerant verskyn.

Boris Johnson, Brittanje se nuwe premier, is ’n uitgesproke voorstander van Brexit. Foto: Reuters

Max Hastings, destyds redakteur van The Daily Telegraph en vermaarde historikus, het verlede week ’n vernietigende oordeel oor Johnson gevel: “Hy sal die waarheid nie herken nie, hetsy oor sy private of politieke lewe, selfs al word hy in ’n uitkenningsparade daardeur gekonfronteer.”

Hastings meen Johnson sal “nooit” waardigheid hê nie. “Maar sy erger sonde is lafhartigheid, wat weerspieël word in ’n gewilligheid om enigiets aan enige gehoor te vertel wat hy meen hulle wil hoor, ongeag die onvermydelikheid dat dit ’n uur later teengespreek word.”

Johnson het dié neiging voortgesit selfs tydens sy veldtog om premier te word. Op ’n Tory-vergadering het hy twee vakuumverpakte sout-harings aan die gehoor gewys, en gesê Brussel se belaglike reëls vereis dat dit slegs saam met ’n “yskussing” verkoop mag word.

Koerante het agterna daarop gewys dat dit geen reël van die EU is nie, maar ’n Britse een.

Drie krisisse wag

Boris Johnson, tóé nog minister van buitelandse sake, en Philip Hammond, minister van finansies. Hammond het gesê hy sal bedank as Johnson premier van Brittanje word. Foto: Reuters

Ondanks die vernietigende oordeel van byna almal wat Johnson intiem ken, is hy onder die publiek glad nie ongewild nie. Hy verstaan die kuns om sjarmant en innemend oor te kom, en om mense toegeeflik te laat oordeel deur byvoorbeeld met ’n foefieslide by die Olimpiese Spele op te daag, met sy fiets werk toe te ry, ensovoorts.

Hy kom oor as die tipiese effens verstrooide Engelse “upper class gentleman”, iemand wat jy baie sal vergewe. As burgemeester van Londen was hy ook geen mislukking nie, en die feit dat hy twee keer deur die inwoners van dié bolwerk van die linkse Arbeidersparty gekies is, is veelseggend.

Johnson kry met sy intrap in Downingstraat 10 te make met drie groot krisisse.

'n Beduidende aantal van Johnson se partygenote sal saam met die opposisie stem in 'n mosie van wantroue.

Die eerste is sy geveg om polities te oorleef. Alles dui daarop dat hy, al is dit eers ná die somervakansie, met ’n mosie van wantroue te make gaan kry. Daar kan verwag word dat ’n beduidende aantal van sy partygenote saam met die opposisie sal stem, wat sal beteken dat hy moet bedank.

’n Nuwe verkiesing is dan die waarskynlikste opsie. Peilings wys dat die Tories en Arbeiders min of meer ewe veel steun het, maar dat die LibDems aansienlik sal vorder.

Indien die Arbeiders van hul ekstreem linkse leier, Jeremy Corbyn, ontslae kan raak (’n opstand is daar aan die broei), is ’n koalisie tussen dié party en die LibDems glad nie onmoontlik nie.

’n Nuwe daeraad vir Brittanje of net ’n kortstondige verskyning vir Boris Johnson op die grootste politieke verhoog? ’n Ballon wat Johnson voorstel is Saterdag deur voorstanders van Brittanje se verbintenis met die Europese Unie in ’n optog gebruik. Foto: AP

’n Tweede krisis, wat onmiddellike aandag verg, is dié in die Persiese Golf, waar Iran ’n Britse tenkskip gekaap en in die hawe van Bandar Abbas aan die noordekant van die Straat van Hormoes aanhou. Jeremy Hunt, minister van buitelandse sake, het daarna in die parlement aangekondig dat Brittanje die leiding oor ’n maritieme operasie in die Golf sal neem om te keer dat Iran die skeepsverkeer daar ontwrig.

Al kan hy dalk slegs enkele weke lank premier wees, is dit ’n krisis waarop Johnson onmiddellik sal moet konsentreer.

Die derde krisis is Brexit. Die afsnypunt vir Brittanje se vertrek uit die EU is 31 Oktober, en Johnson het te kenne gegee hy wil dié datum haal, ongeag die gevolge.

'n Handelsverdrag met Amerika is op die kaarte.

Hy was glo selfs bereid om die parlement tydelik op te skort om die proses deur te druk, maar verlede week het die laerhuis hom dit met ’n groot meerderheid verbied.

Hoe Johnson die saak gaan hanteer, moet nog gesien word. Hy het al gesê een van sy eerste dade as premier sal wees om na Washington te reis om ’n handelsverdrag met pres. Donald Trump af te spreek.

Of dit die enorme ekonomiese klap van Brexit gaan neutraliseer, is volgens kenners twyfelagtig.

Dalk verras Johnson almal. Maar die felheid van die uitdagings wat op hom wag, sal selfs aansienlik beter politici as hy kan onderkry.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Brittanje se eie Donald Trump

Brittanje het nou sy eie “Donald Trump” aan die stuur met Boris Johnson wat Dinsdag tot leier van die Konserwatiewe Party en premier verkies is.

“Ek noem Johnson die Britse Trump omdat hy onvoorspelbaar, uitgesproke en onkonvensioneel is,” het Theo Venter, politieke ontleder by die besigheidskool van die Noordwes-Universiteit, aan Gert van der Westhuizen gesê.

“Dit is alles karaktereienskappe wat onsekerheid skep. En dit is nie iets wat mense wil hê nie. Hulle soek eerder bestendigheid.”

Volgens Venter bedryf Trump “mespunt-politiek”.

“Hy neem jou tot op die afgrond en laat jou selfs oorhel sonder dat jy weet wanneer hy gaan terugtrek. Hy is goed daarmee weens sy sake-agtergond.

“Maar Johnson het nie ’n sake-agtergrond nie en ek twyfel of hy dié speletjie so goed soos Trump kan speel in ’n poging om Brittanje se probleme op te los.”

Trump het in die VSA ook onsekerheid geskep, maar hy is volgens Venter beslis ’n spelbreker wat dinge kan verander.

Hy en Johnson het ook ’n ander eienskap wat ooreenstem, sê Venter – hulle is albei reeks-leuenaars.

Brexit sal uiteraard Johnson se grootste uitdaging wees, maar dit sal ook van hom verwag word om eenheid in die Konserwatiewe Party te herstel.

Venter voorspel dat die Brexit-gat nog net dieper gaan word omdat Johnson nie die soort van persoonlikheid het wat sal bydra tot die oplos van sulke komplekse probleme nie.

Die beplande verkiesing in 2020 sal ’n baie groot toets vir die Konserwatiewe Party wees omdat hy graag weer as ’n meerderheidsparty wil regeer. Sy sukses sal egter tot ’n groot mate afhang van wat Johnson met die netelige Brexit-tameletjie vermag.

Meer oor:  Boris Johnson  |  Theresa May  |  Donald Trump  |  Brittanje  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.