Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
30 jaar ná twee ‘Afrikaanse bomme’ ontplof het

Dit was vandeesweek presies drie dekades sedert twee bomme by Beeld se kantoor in Doornfontein ontplof het, skryf Salie de Swardt.

Willem Pretorius by sy Volkswagen Citi Golf nadat dit deur ’n bom buite Beeld se kantoor verwoes is.

Vir lank was Beeld ’n doring in die vlees van die verregses voordat dit uitgebars het in die bomaanvalle van September 1990 by die koerant se hoofkantoor in Johannesburg.

Sedert die koerant se stigting in 1974 het hy hervorming van die politiek-maatskaplike stelsel bepleit.

Gebeurtenisse soos die standpunt van Ton Vosloo, destyds redakteur van Beeld, in Januarie 1981 in ’n politieke rubriek dat ’n gesprek met die ANC, toe nog ’n verbode organisasie, onvermydelik is, het die regse hare laat rys.

Teen 1989 was dit ná jare van binnelandse onrus, noodtoestande, ’n internasionale “skuldstilstand” (wat eintlik maar beteken het dat Suid-Afrika nie sy skuld kon betaal nie) en groot internasionale druk, duidelik dat ’n nuwe politieke bedeling vir die land noodsaaklik en onvermydelik is.

Die land sou moeilik verder met geweld geregeer en die voorkeure van hoofsaaklik die wit kiesers afgedwing kon word, want die politieke bestel van ’n driekamerparlement en onafhanklike etniese tuislande is deur die meerderheid van die bevolking verwerp. Boonop was dit moreel onaanvaarbaar vir demokrate om ’n bestel op die meerderheid af te dwing en het apartheid Suid-Afrika, tereg, die politieke muishond van die wêreld gemaak.

’n ‘Ligte beroerte’

Die jaar 1989 was ook buitengewoon wat sowel interne partypolitieke wendinge as eksterne politieke gebeure betref, met invloede wat meegebring het dat Suid-Afrika in die daaropvolgende jaar vir altyd ingrypend verander is.

Ek is van begin 1989 as redakteur van Beeld aangestel, met Willem Wepener as uittredende hoofredakteur. Terwyl ons in Januarie rustig sit en gesels het oor hoe ons verpligtinge tydelik sou verdeel, bel Tim du Plessis, destyds politieke beriggewer van Beeld, van die parlement in Kaapstad met die nuus dat die staatspresident, PW Botha, ’n “ligte beroerte” gehad het.

Amptelik om dié gesondheidsrede, maar ná groot interne politieke drama, het Botha eers die leiding van die Nasionale Party (NP) en toe die presidentskap afgestaan. Hy is in September 1989 deur FW de Klerk as president opgevolg.

Terwyl hervormingsgesinde sakeleiers met die ANC in gesprek getree en sakeleiers soos dr. Anton Rupert die NP oor sy beleid uitgedaag het, die Afrikaanse media om hervorming gepleit en die Afrikaanse kerke apartheid verwerp het, het die verregses bly klou aan tradisionele apartheid en in party gevalle drome van ’n Afrikaner-tuisland.

Die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB) – ’n paramilitêre organisasie met ’n swak reputasie vir persoonlike gedrag – het ontstaan, asook ander splintergroepe met vreemde godsdienstige en politieke agendas.

Teen November 1989 het die internasionale politiek ingrypend verander toe die Berlynse Muur afgebreek en die Sowjetunie uitmekaar begin val het.

Suider-Afrika was voor dit die arena van stryd tussen die onderskeie magte wat aan die Koue Oorlog deelgeneem het en tot vandag toe is die rol van ons veiligheidsmagte in die Grensoorlog in Namibië en Angola in die weste, oos in Mosambiek en noord in Zimbabwe, die onderwerp van meningsverskil.

PW Botha
Piet “Skiet” Rudolph, wat aanvanklik verantwoordelikheid vir die bomaanval aanvaar het.
Dr. Andries Treurnicht

FW vat die gaping

Party waarnemers sien daardie stryd vanuit Suid-Afrika as verdediging van apartheid. Hoe tragies gevolge daarvan ook vir die slagoffers van oorlog is en hoeveel politieke motiewe alles in die oorlogspoging verskuil was, is dit onweerlegbaar dat tyd gewen is deur byvoorbeeld die Kubane en Oos-Duitsers uit Suider-Afrika te boender en die glans van kommunisme en Marxisme te laat verdof.

De Klerk het hierdie gaping op 2 Februarie 1990 uitstekend gevat met onder meer die aankondiging van die vrylating van Nelson Mandela, die ontbanning van die ANC en die SAKP en die opskorting van die doodstraf. Dit is interessant dat Beeld in Januarie 1990, voor De Klerk se toespraak, in ’n hoofartikel al dié stappe, met die uitsluiting van die ontbanning van die SAKP, bepleit het.

Ná die ingrypende politieke wendinge in Februarie 1990 het die Konserwatiewe Party (KP) van dr. Andries Treurnicht en ander regse organisasies ’n nuwe vryheidsoorlog vir die Afrikaners voorspel.

Die AWB het opstand belowe. Hierdie strominge het diep ingang by sommige Afrikaners gevind, soos onder meer geblyk het uit die groot en verrassende oorwinning wat die KP in 1992 in die standvastige NP-setel Potchefstroom behaal het.

Die woedende regses het mediamense nie gespaar nie en hulle is by byeenkomste van verregses uitgejou of weggewys.

Namate 1990 gevorder het, het die politieke spanning verhoog. Ná die ontbanning van die ANC het hewige gevegte om politieke mag in KwaZulu-Natal tussen Inkatha en die ANC uitgebreek.

Teen Augustus was die gevegte aan die Witwatersrand. Dag ná dag moes senior redaksielede van Beeld besluite neem oor foto’s en berigte oor mense met brandende klere wat van hul vyande probeer weghardloop en ander skokkende moordtonele.

Almal, ook mediamense, kon nie wag dat hierdie bloedbad tot ’n einde kom nie. Lesers het oor die daaglikse geweld op die voorblad en elders in die koerant ontevrede met die inhoud geraak.

’n Wêreld wat verander ... die val van die Berlynse muur in November 1991.

Op ’n dwaalspoor

Beeld het dit as sy plig beskou om die verskriklike werklikhede van daardie tydperk in sy beriggewing te weerspieël. Die politieke debat is met erns in sy kolomme gevoer met die uitgangspunt dat hervorming onvermydelik en noodsaaklik is. Sonder hierdie oorredende rol van die Afrikaanse hoofstroomkoerante, maar gemeng met begrip vir die vrese van lesers, kon die poging om so vreedsaam as moontlik ’n nuwe politieke bestel in Suid-Afrika te vestig, maklik in ’n burgeroorlog ontaard het.

Van die vroeë 1980’s tot 1993 het sowat 20 500 swart mense in politieke geweld gesterf, die meeste weens die stryd tussen Inkatha en die ANC.

In ’n sin was dit water op die meul van die regses. Hulle, en ook die NP, het jare lank verkondig dat wit mense die gom is wat die samelewing van etnies-verskillende mense met eie kultuur-, ekonomiese en sosiale waardes aanmekaar hou en gewelddadige botsings voorkom. Tienduisende mense wat sterf, was vir die regses ’n bewys dat die politieke leierskap in die land op ’n dwaalspoor was.

Terwyl die spanning in die land opgelaai het, het die regses ’n video versprei, ook na Beeld, waarin die regse woelwater Piet “Skiet” Rudolph saam met vier ander mans verskyn het. Die vier het klapmusse gedra, twee het aanvalsgewere in die hand gehad en agter hulle was die Transvaalse Vierkleur. Voor Rudolph het ’n bordjie “Boerestaat” gestaan.

Teen September 1990 het van die regses besluit hulle het genoeg gehad van Beeld se standpunte. Op 2 September 1990 het twee bomme om die koerant se kantore in Voorhoutstraat, Doornfontein, ontplof. Dit was ’n Sondagaand en ek was op kantoor. Ek onthou nog die reuk van die bomrook, die sirenes, die oproepe van ander koerante se joernaliste. Ons kon nie huis toe gaan nie en moes tot in die vroeë oggendure in die kantoor bly.

Willem Pretorius, die arme hoofsubredakteur, se motor is die lug ingeblaas. “Ons sal ons nie laat intimideer nie,” het ek daardie nag in kommentaar namens ons koerant gesê.

Risiko’s en opofferings

Natuurlik sou ons ons nie laat intimideer nie. Enigiemand wat die groot prent kon sien, sou nie oornag integriteitloos van standpunt verander omdat jy met geweld gedreig word nie.

Die bomgooiery was nie net ’n misdaad teen die koerant en sy mense nie, dit was ’n naïewe daad in die verstommende dom hoop dat dit ’n koerant van plan sou laat verander.

Reeds voor die bomme het ek op kantoor dreigoproepe teen my gesin gekry.

Ná die bomme het die destydse Naspers-bestuur besluit om ’n permanente wag by my huis en sterker veiligheidsmaatreëls by ons kantore te tref.

Redaksielede van Beeld was getraumatiseer oor die bomme en ons moes van hulle moed inpraat en wys op die onwaarskynlikheid van nog ’n lafhartige aanval.

Kollegas by ander Afrikaanse koerante in ons groep is ook aan intimidasie onderwerp.

Buitengewone dapperheid moes deur redakteurs en ander meningsvormers getoon word om hul skeptiese lesers te oortuig dat hervorming noodsaaklik is – al is die hoofrolspeler aan die ander kant van die politieke onderhandelingstafel volledig in vennootskap met kommuniste soos die SAKP, hard besig met terreurdade en vasbeslote om nie geweld af te sweer nie.

Ander instellings is ook geteiken. Regses het bomme geplaas by NP-kantore, by die huise van ’n stadsraadslid van die Demokratiese Party (DP) en dié van ’n NP-raadslid, by die Joodse Sentrum in Johannesburg en by Vrye Weekblad.

Die risiko’s om Suid-Afrika te laat slaag, was vir almal groot. Baie lewens is verloor. Onder Mandela se leiding was daar groot hoop.

Destyds is die ANC as die groot bevryder gesien, deesdae toenemend as ’n selfvervullende kleptokrasie.

Hoe klein of hoe groot ons opofferinge ook al was om ’n nuwe, beter staat te bou.

  • De Swardt is ’n voormalige redakteur van Beeld en was ook besturende direkteur van Media24.
Was Willem in die motor?’

Dertig jaar gelede het ’n bom onder my motor voor Beeld se kantoor ontplof. Kort daarna het nog een afgegaan en die gebou beskadig.

Dit was elfuur op ’n Sondagaand. Kort voor die ontploffings het ek die redakteur, Salie de Swardt, gevra of ons die vroeë span maar kan huis toe stuur. Hy het gevra ek moet wag, want hy wou kyk waar ons die koerant nog kon verbeter.

Dit was ’n bestiering, aangesien ’n groep van sowat tien mense reguit in die bom sou inloop. Die tweede bestiering was dat almal ná die eerste ontploffing aangesê is om binne te bly. Destyds was die modus operandi juis om nuuskieriges in ’n tweede ontploffing te vang.

Kollega Herman Joubert het dadelik my vrou gebel met die nuus dat ons motor opgeblaas is. Sy het ’n oomblik stilgebly voor sy hom gevra het: “Herman, sê my net, was Willem in die motor?”

Daarna het die polisie met honde opgedaag en die gebou deurgesnuffel. Ons moes egter die nuus in die koerant kry. Ek het die twyfelagtige voorreg gehad om onder by my verwoeste motor vir foto’s te gaan poseer, daarna die bom-berig te skryf, die voorblad oor te maak en daarna onderhoude te voer met joernaliste.

Die Orde Boerevolk van wyle Piet “Skiet” Rudolph het die volgende dag verantwoordelikheid aanvaar. Die bomme het egter ook ’n vlaag dreigemente opgelewer – selfs een uit die Kaap van iemand wat beweer het hy was ’n vlieënier in die Tweede Wêreldoorlog. Hy het gedreig om ons huis te kom platvee.

Waarom nou, ná al die jare, weer die bomaanval onthou?

Eerstens omdat die betrokkenes aan die uitsterf is en daarmee saam ook die storie. Ook omdat seker 300 sulke dade deur die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) na die nasionale vervolgingsgesag (NVG) vir ondersoek verwys is. Daar het dadels van gekom en ’n mens kan nie dink daar is veel aptyt vir ’n “Afrikaanse bom” nie. Verder is dit belangrik om ’n nuwe geslag te herinner waar ons vandaan kom, sodat daar ’n beter begrip vir die storm en drang van die tydsgewrig is.

Ook omdat Afrikaanse mense waarskynlik weens die situasie in Zimbabwe, en geweld en korrupsie wat endemies is aan die nuwe Suid-Afrika, ’n sprong na regs gemaak het. Die liberale stemme van die 1980’s en ’90’s is nou bedees en word oordonder deur die gedruis op sosiale media.

Miskien is dit ook nuus vir diegene wat die Afrikaner in een groep saambondel. Beeld het destyds voorgeloop om Afrikaanse mense in die sentrum tot die nuwe Suid-Afrika te bekeer en is erg deur konserwatiewes verkwalik. Selfs in eie geledere het Rapport na hom verwys as die “poefters en die paaiers”.

As ek die bomplanter nou kan ontmoet sou ek wou weet of hy beter gevoel het ná die aanval. Of hy teleurgesteld was oor die gebrek aan lewensverlies. Of die aanval beplan of impulsief was. En wat hy voel daarmee bereik is. – Willem Pretorius


WVK-verslag oor die aanval

Luidens die finale verslag van die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) was die eintlike teiken vir die bomontploffings buite Beeld se kantoor die Weekly Mail se rolprentfees.

Dit het gevolg ná die vertoning van die fliek How to Make Love to a Negro Without Getting Tired wat baie negatiewe reaksie uitgelok het. Die Orde Boerevolk het volgens die WVK verantwoordelikheid vir die aanvalle aanvaar.


Meer oor:  Ontplof  |  Kantore  |  Beeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.