SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Aktueel
30 vrae oor die gays en die kerk

Is daar baie ander mense wat, nes hy, absoluut gatvol is vir die NGK se gaydebat, sug Loftus Marais.

Loftus Marais

Rol hulle ook hul oë as hulle nóg ’n pap, rubriekerige “meningstuk” daaroor lees?

Dink hulle ook die Gaums is kultureel gesproke nes die verskynsel van mense wat leggings as broeke dra – ’n lastigheid uit die vroeë 2000’s wat net nie wil verdwyn nie?

Waar kom Afrikanermowwe se diepe en konstante behoefte aan aanvaarding vandaan?

Hoekom wil hulle net die heeltyd aanvaar word?

Is daar ’n bevolkingsgroep wat meer desperaat is vir aanvaarding as die Afrikanermof?

Ek dog die wonderlikste ding van gaywees is die eenkantstanerigheid daarvan – dat jy buite die hele rat-en-wiel-sisteem kan staan en lag daarvoor?

Is daar ’n bevolkingsgroep wat meer desperaat is vir aanvaarding as die Afrikanermof?

Het jy hulle al op sosiale media gesien? Hoe hulle hul pouvere daar sprei en pronk uit ’n byna patologiese behaagsug?

Het jy al die foto’s op Instagram en Facebook gesien van die trouringe, die gesinsmotors, die aangenome kinders, die huislikheid, die aansitetes?

Verloor gay kultuur iets deur dié totale aanvaarding van die manier van doen van ons mammas en pappas voor ons?

Is daardie “iets” nie baie, baie kosbaar nie?

En die kerk, die NG Kerk, aan die kerk behoort, is dít nie maar eintlik ook soos die ander maniere van spog oor hoe normaal ons deesdae is nie? Hoe baie gays glo nog werklik in God?

Hoekom stig gelowige gays dan nie maar hul eie kerk nie – noem dit die Susterskap van die Heilige Pienk Habyt, for all I care?

Is dit verkeerd dat ek soms dink “Ag jirretog, los net die NG Kerk, die kerk het mos ’n reg om sy eie ou ding op sy eie ou manier te doen”?

Is die idee wat die NG gays najaag – dat “almal gelyk is” – nie fundamenteel teenstrydig met die kern van alle gelowe nie?

Rig geloof enigsins vandag nog waardes en gedrag en lewens op ’n betekenisvolle manier?

Is daar gay mans wat al Romeine 1 vers 27 tot 32 gelees het en toe gedink het “haai jitte, ja, dís die soort kulturele geskiedenis en denke waarmee ek myself wil assosieer”?

Hoe baie gays stel belang in die hermeneutiese rasionalisering van oeroue skryfsels op perkamentrolle?

Terloops, het jy al ’n fraaier vlegsel van clichés as hierdie, deur prop. Hennie Pienaar, teëgekom: “Ons is verlig en dankbaar oor ’n stap om LGBTQI-persone se menswaardigheid ten volle te bevestig. Dit is die begin van ’n pad van groter verstaan vir meer mense. Dit kan ’n proses van herstellende geregtigheid en heling in die kerk inlei”?

Maar dalk is dit verkeerd om in suiwer stilistiese terme oor die hele NG gaydiskoers te praat?

Wie weet nog waarvoor “prop.” die afkorting is?

Leser, het jy geweet dit is die afkorting vir “proponent”?

Nog ’n terloopse opmerking: Wat is dit met gay mense se geesdrif vir klassifikasie en terme?

Weet jy dit moet tegnies “LGGBDTTTIQQAAPP+” (meer as ’n derde van die alfabet!) heet, proponent Pienaar?

Het die woord “menswaardigheid” nog ’n volle betekenis of is dit net ’n gonswoord?

Is daar te veel afvlerk-gays deesdae, hulle wat so maklik seerkry, hulle wat aanstootvrate is?

Waar is die rebelse gays van die verlede?

Waar is die taai gay mans en hardekoejawel lesbiërs van vroeër wat nie ’n duit omgegee het oor wat die mompelende bewaarders van die sedes oor hulle gesê het nie?

  * Loftus Marais is ’n digter.

Meer oor:  Ng Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.