Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
4 faktore wat ingeëntes se risiko vir Covid-19 verhoog

Ingeënte mense kan steeds deurbraakinfeksies opdoen, maar die kanse dat dit gebeur en die simptome is minder, skryf Vassilios Vassiliou, Ciaran Grafton-Clarke en Ranu Baral.

Foto ter illustrasie. Foto: Unsplash

Die inenting sal jou twee weke ná jou tweede dosis entstof teen Covid-19 op sy beste beskerm. Jy is in hierdie stadium ten volle ingeënt. As jy nogtans hierna Covid-19 opdoen, word dit ’n “deurbraakinfeksie” genoem.

Hierdie deurbraakinfeksies is in die breë soortgelyk aan die gewone Covid-19-infeksies in oningeënte mense, maar daar is tóg ’n paar verskille.

Volgens die Covid-19-simptoomstudie is hoofpyn, ’n loopneus, ’n genies, keelseer en ’n verlies aan reuk die vyf algemeenste simptome van ’n deurbraakinfeksie.

Van hierdie simptome stem ooreen met dié wat mense ervaar wat nie ingeënt is nie. As jy nog nie ingeënt is nie, is die drie algemeenste simptome ook hoofpyn, keelseer en ’n loopneus.

Die twee ander algemeenste simptome by oningeëntes is egter koors en ’n aanhoudende hoes.

Ingeënte mense is minder geneig as oningeënte mense om in die hospitaal te beland.

Hierdie twee “klassieke” Covid-19-simptome kom baie minder gereeld voor by mense wat reeds ingeënt is.

In een studie is bevind dat mense met deurbraakinfeksies 58% minder geneig is om ’n koors te hê as dit met oningeënte mense vergelyk word.

Trouens, Covid-19 ná inentings is eerder as ’n “verkoue in die neus” (head cold) beskryf.

Ingeënte mense is minder geneig as oningeënte mense om in die hospitaal te beland.

Hulle sal waarskynlik ook minder simptome in die eerste stadiums van die siektes ervaar en is minder geneig om lang-Covid te ontwikkel.

’n Moontlike rede vir die ligter siekte by ingeënte mense is dat die entstowwe (wanneer dit die infeksie nie volkome keer nie) steeds veroorsaak dat besmette mense minder virusdeeltjies in hul liggame het. Dit moet egter nog bevestig word.

Wat verhoog die risiko vir deurbraakinfeksies?

Moderna en Pfizer se entstowwe (boodskapper-RNS-entstowwe) se beskerming blyk af te neem ses maande nadat die laaste dosis toegedien is. Foto: Getty Images

In navorsing in Brittanje is bevind dat 0,2% van die bevolking – of een uit 500 – ná inentings ’n deurbraakinfeksie opdoen. Maar nie almal loop dieselfde risiko nie. Dit blyk dat vier dinge bydra tot hoe goed jy deur jou inenting beskerm word.

1. Tipe entstof

Die eerste faktor is die spesifieke soort entstof wat jy ontvang het en die relatiewe risikovermindering wat elke soort bied.

Relatiewe risikovermindering is ’n maatstaf wat bepaal hoeveel ’n entstof die risiko verlaag dat iemand Covid-19 ontwikkel in vergelyking met iemand wat nie ingeënt is nie.

Die Johnson & Johnson- en AstraZeneca-entstowwe het minder goed gevaar.

In kliniese toetse is bevind dat die Moderna-entstof ’n mens se risiko om simptomatiese Covid-19 op te doen met 94% verminder, terwyl die Pfizer-entstof hierdie risiko met 95% verminder.

Die Johnson & Johnson- en AstraZeneca-entstowwe het minder goed gevaar, met ’n risiko wat onderskeidelik met ongeveer 66% en 70% verminder is (hoewel die beskerming wat deur die AstraZeneca-entstof verleen word, tot 81% sou styg as ’n langer tydsverloop tussen dosisse gelaat word).

2. Die tyd sedert inenting toegedien is

Mense op chroniese medikasie of met langdurige siektetoestande gaan waarskynlik ’n mindere mate van entstofbeskerming teen Covid-19 as gesonde mense hê. Foto: Unsplash/Michal Parzuchowski

Dit word al hoe duideliker dat die tydsduur sedert iemand se inenting ook belangrik is en een van die redes is dat die debat oor versterkingdosisse (boosters) toeneem.

Vroeë navorsing (’n voorlopige verslag wat nog deur ander wetenskaplikes hersien moet word) dui daarop dat die beskerming van die Pfizer-entstof oor ses maande ná inenting afneem. Nog ’n voorlopige navorsingsverslag uit Israel dui ook daarop.

Dit is nog te vroeg om te weet wat die doeltreffendheid van entstowwe sal wees ses maande nadat iemand twee dosisse ontvang het, maar dit sal waarskynlik verder afneem.

3. Variante

Die beskerming wat deur die AstraZeneca-entstof verleen word, kan tot 81% styg as ’n langer tydsverloop tussen dosisse gelaat word. Foto: Getty Images

’n Ander belangrike faktor is die variant van die virus wat jy opdoen.

Die verlaging van die risiko hierbo is grootliks bereken deur entstowwe teen die oorspronklike vorm van die koronavirus te toets.

Maar wanneer jy die Alfa-variant opdoen, dui data deur die Britse openbare gesondheidsowerheid daarop dat twee dosisse van die Pfizer-entstof effens minder beskermend is, wat die risiko om simptomatiese Covid-19 op te doen van 95% tot 93% verlaag. Die vlak van beskerming teen die Delta-variant daal verder tot 88%. Die AstraZeneca-entstof word ook op hierdie manier beïnvloed.

Die Covid-19-simptoomstudie onderskryf dit alles. Die data dui daarop dat jy in twee tot vier weke ná die tweede Pfizer-entstofdosis sowat 87% minder geneig is om simptomatiese Covid-19 weens die Delta-variant op te doen. Hierdie persentasie daal ná vier tot vyf maande tot 77%.

4. Jou immuunstelsel

Dit is belangrik om te onthou dat die bostaande syfers na die gemiddelde risikovermindering in ’n bevolking verwys.

Jou eie risiko hang af van jou immuniteitsvlakke en ander persoon-spesifieke faktore, soos hoe blootgestel jy aan die virus is.

Dit is ook die moeite werd om te onthou dat die mees kwesbares hul entstowwe omtrent agt maande gelede ontvang het.

’n Geoefende immuunstelsel raak gewoonlik swakker met ouderdom. Langtermynmedikasie kan ook ons reaksie op inenting belemmer.

Ouer mense of mense met ’n verswakte immuunstelsel het dus moontlik laer vlakke van entstof-geïnduseerde beskerming teen Covid-19, of die beskerming wat hulle bied kan vinniger afneem.

Dit is ook die moeite werd om te onthou dat die mees kwesbares hul entstowwe omtrent agt maande gelede ontvang het, wat as gevolg van die verminderende beskerming hul risiko verhoog om ’n deurbraakinfeksie op te doen.

Moet jy bekommerd wees?

’n Betoging teen inentings wat verlede maand in Kaapstad gehou is. Hierdie betogers steun dr. Susan Vosloo, die hartchirurg wat haar teen die Covid-19-entstowwe uitgespreek het. Foto: Getty Images

Entstowwe verminder steeds jou kanse aansienlik om Covid-19 op te doen. Dit beskerm jou in ’n groter mate ook teen hospitalisasie en die dood.

Deurbraakinfeksies is egter kommerwekkend en dit sal toeneem soos die beskerming mettertyd afneem. Dit is hoekom die Britse regering beoog om die kwesbaarste mense ’n versterkingsdosis toe te dien. Die wyer toediening daarvan word ook oorweeg.

Dit is intussen noodsaaklik om inentings te bevorder by enigiemand wat nog nie ingeënt is nie.

Ander lande, waaronder Frankryk en Duitsland, het reeds besluit om die versterkings aan te bied aan groepe wat as ’n hoër risiko beskou word.

Maar selfs al word hierdie versterkings aangewend, moet die afleiding nie wees dat die entstowwe nie werk nie.

Dit is intussen noodsaaklik om inentings te bevorder by enigiemand wat nog nie ingeënt is nie.

* Vassiliou is ’n senior kliniese dosent in kardiovaskulêre geneeskunde. Grafton-Clarke is ’n NIHR Academic Clinical Fellow, Norwich Medical School. Baral is ’n besoekende navorser (Academic Foundation Doctor FY2). Al drie is verbonde aan die Universiteit van Oos-Anglia. Hierdie artikel is oorspronklik op The Conversation gepubliseer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.