Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
40 jaar ná Elvis: Leef die koning van rock 'n roll?

Voor Elvis was daar nie tieners nie, net jong grootmense. Ná Elvis was daar tieners, rock ‘n’ roll en jeugkultuur, skryf Danie Marais oor die erflating van die “King of Rock” 40 jaar ná sy dood.

Elvis Presley, die koning van ruk-en-rol.

Op 16 Augustus vanjaar was dit 40 jaar sedert Elvis se dood op 42-jarige ouderdom. Maar die joernalis Alanna Nash, wat drie boeke oor Elvis geskryf het, is reg – wanneer dit by die “King” kom, geld Mark Twain se woorde: “The reports of my death have been greatly exaggerated.”

In my familie was Elvis so altyd daar soos Ouma en Oupa, die NG kerk en Kersfees. My ma sê die eerste keer dat sy besef het haar vrome dominee-pa het ook ’n heel ander kant, was toe sy James Cain se destyds gewaagde roman The Postman Always Rings Twice versteek agter sy boekrak ontdek het.

Maar my pa se groot verering was gematig in vergelyking met dié van my oom Nico, wat op sy 40ste huweliksherdenking weer met my tannie Fran voor ’n Elvis-dominee in Las Vegas gaan trou het.

Ek het ’n soortgelyke gewaarwording oor mý pa gehad wanneer ons op die maat van sy Elvis-mix tape see toe gery het. Wanneer hy op die stuurwiel getrommel en saam met “Hound Dog” of “All Shook Up” gesing het, was hy iemand anders. Daar was iets in die manier waarop my hoofseun-pa die “M-mm-mm-mmm, yay, yay, yay” saamgesing het, wat sy breë kotelette as jong man verklaar het en my laat raai het hoe ook hy eens ’n jong smoorloos verliefde was – ’n ou wat soms so buite beheer gevoel het soos daardie eendstertrocker wat in 1957 moes bely: “I’m itchin’ like a man in a fuzzy tree / My friends say I’m actin’ wild as a bug / I’m in love / I’m all shook up.”

Maar my pa se groot verering was gematig in vergelyking met dié van my oom Nico, wat op sy 40ste huweliksherdenking weer met my tannie Fran voor ’n Elvis-dominee in Las Vegas gaan trou het. Die pelgrimstog na Graceland het hy ook intussen afgelê en hy sê hy wil weer gaan.

Paul Simon het nie verniet gesing “I’ve reason to believe/ We all will be received in Graceland” nie. Graceland in Memphis, Tennessee, waar Elvis aan ’n hartaanval dood is, is naas die Withuis die mees besoekte private woning in Amerika. Ongeveer 50 000 mense het vanjaar daar saamgetrek om die heengaan van hul ikoon, 40 jaar gelede, te herdenk.

Graceland, Elvis Presley se huis.

Graceland met sy Jungle Room en al sy legendariese rock ‘n’ roll-oordaad is soos Elvis op gewone mense se wildste drome en mees uitspattige fantasieë gebou. Want kyk, Elvis the Pelvis het met sy charisma, sagte oë, goue stem en die swaai van sy heupe ondoelbewus die reëls vir jeugdige begeerte herskryf en die era van Die Tiener ingelui. Voor Elvis was daar nie tieners nie, net jong grootmense. Ná Elvis was daar tieners, rock ‘n’ roll en jeugkultuur.

“Hearing Elvis for the first time was like a jailbreak – and I didn’t even know I was in jail,” het Bob Dylan gesê.

Bruce Springsteen skryf in sy outobiografie, Born to Run, dat hy die revolusie waaragtig met sy eie oë op televisie gesien het toe Elvis in 1956 op die Ed Sullivan Show opgetree het. Hy sê dit was Elvis wat gewone mense oortuig het dat pret en plesier ’n geboortereg is: “Visionaries are a dime a dozen . . . This was a man who didn’t see it coming . . . he WAS it coming, and without him, white America, you would not look or act or think the way you do. A precursor of vast cultural change, a new kind of man, of modern human, blurring racial lines and gender lines and having . . . FUN! . . . FUN! . . . the real kind. The life-blessing, wall-destroying, heart-changing, mind-opening bliss of a freer, more liberated existence.”

Elvis het egter beslis nie rock ‘n’ roll geskep nie. Dié dat hy gereeld in debatte rondom kulturele toe-eiening met agterdog bejeën word. Little Richard, Bo Diddley en Chuck Berry was die ware, wilder swart pioniers van rock. Maar Elvis was die plofstof wat hierdie nuwe musikale voedoe in ’n stormsterk kulturele revolusie laat ontaard het.

Elvis het ander mense se liedjies gesing en sy musiek was nooit heeltemal oorspronklik nie, maar hý was.

Daar is al baie daarop gewys dat Elvis deur die R&B-ster Jackie Wilson beïnvloed is. Presley het ook geen geheim van sy Wilson-bewondering gemaak nie. Toe dit aan hom genoem is dat Wilson gereeld as “die swart Elvis” bestempel word, het hy glo geantwoord: “Ek veronderstel dit maak my die wit Jackie Wilson.”

Maar Wilson het ook op sy beurt Elvis se invloed erken: “Baie mense het Elvis daarvan beskuldig dat hy die swart man se musiek gesteel het, maar in der waarheid het byna elke swart solo-vermaaklikheidster Elvis se verhoogmaniërismes nagemaak.”

En dis die groot enigmatiese ding: Elvis het ander mense se liedjies gesing en sy musiek was nooit heeltemal oorspronklik nie, maar hý was. Niemand illustreer die kultuswaarde van ’n groot persoonlikheid en die mag van ’n onmiskenbare eie styl soos Elvis nie.

Die kultuurfilosoof Camille Paglia het dit só gestel toe sy Elvis se magiese aantrekkingskrag met dié van die 19de-eeuse digter lord Byron vergelyk het: “Energy and beauty together are burning, godlike, destructive.”

Die syfers bevestig die “King” se nadoodse heerskappy oor pop en rock. In die week voor die herdenking van sy dood was daar daagliks 4,4 miljoen kyke na Elvis-materiaal op YouTube en hy tel onder die 200 gewildste kunstenaars op dié internet-videokanaal – met meer kykers as supersterre soos Kanye West, Whitney Houston en Lana Del Rey. Volgens die Recording Industry Association of America het Elvis sedert 1956 altesame 197 goue, platinum-, multi-platinum- en diamond-gesertifiseerde plate uitgereik.

Geen ander kunstenaar kom naby nie: Die Beatles het 122, Garth Brooks 83, Led Zeppelin 56 en die Eagles 40 plate in hierdie superliga van topverkopers.

Danie Marais

Elvis kraai dus verstommend genoeg steeds koning op allerhande maniere in miljoene harte.

Wat presies van Elvis die Westerse jeug wêreldwyd – tot in die streng konserwatiewe huise waarin ouens soos oom Nico en my pa grootgeword het – só betower het, sal ons nooit regtig verstaan nie.

Magic eerbiedig gelukkig nie die wette van wiskunde of fisika nie.

Maar Gillian Welch se hoendervel-“Elvis Presley Blues” verklaar tog baie:

“I was thinking that night about Elvis

Day that he died, day that he died

Just a country boy that combed his hair

And put on a shirt his mother made and went on the air

And he shook it like a chorus girl

And he shook it like a Harlem Queen

He shook it like a midnight rambler, baby

Like you never seen, like you never seen, never seen

[…]

How he took it all out of black and white

Grabbed his wand in the other hand and he held on tight

And he shook it like a hurricane

He shook it like to make it break

And he shook it like a holy roller, baby

With his soul at stake, with his soul at stake, soul at stake.”

Want as jy na Elvis se beste opnames luister en bewus probeer voel wat binne gebeur wanneer hy iets soos “That’s All Right, Mama” sing, moet jy toegee ’n mens is ’n wilde, wispelturige ding, deurtrek van verlange, gemaak van duisend emosionele teenstrydighede. Wanneer daardie warm stem van whisky en donkersjokolade sing, glo jy: “That’s all right now mama, anyway you do.”

Vyf merkwaardige Elvis-huldeblyke:

Bruce Springsteen – “Fire” (Springsteen het op 29 April 1976, drie-uur in die oggend, saam met sy vriend Steve van Zandt, ’n ewe groot Elvis-bewonderaar, by Graceland oor die muur geklim in die hoop dat sy held eendag hierdie liedjie wat hy vir hom geskryf het, sou opneem. Maar die veiligheidswagte het hom en Steve die deur gewys en die Boss is tot in sy murg geskud toe hy ’n jaar later van Elvis se dood hoor.)

Paul Simon – “Graceland”

Nick Cave & The Bad Seeds – “Tupelo”

Gillian Welch – “Elvis Presley Blues” (Tom Jones se weergawe is ook uitstekend.)

Emmylou Harris – “Boy from Tupelo”

Meer oor:  Elvis Presley  |  Danie Marais  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.