Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
5 wense vir ’n suksesvolle SA in 2019

Daar is veral vyf dinge wat van Suid-Afrika ’n beter plek vir al sy mense sal maak, skryf Theuns Eloff.

Baie Suid-Afrikaners hoop die kommissie van ondersoek van adjunkhoofregter Raymond Zondo sal help om die regering van staatskapers te suiwer. Foto: Deaan Vivier

2018 lê byna op sy rug. Desember is vir baie Suid-Afrikaners ’n tyd van klaarmaak en afsluit, om ’n bietjie verlof te neem en te gaan rus. Maar dit is ook ’n tyd van bestek opneem oor die jaar en wat vermag is – en dan begin ’n mens ook dink oor wat in 2019 voorlê.

Noem dit maar ’n kombinasie van wense vir Kersgeskenke en Nuwejaarsvoornemens, maar as daar sê nou maar, net vyf wense is, sal ek die volgende vir die land kies. Dit kan die resep vir sukses vir Suid-Afrika in 2019 wees.

Nuwe leierskorps

Baie Suid-Afrikaners hoop die kommissie van ondersoek van adjunkhoofregter Raymond Zondo sal help om die regering van staatskapers te suiwer. Foto: Deaan Vivier

Ons het ’n nuwe leierskorps nodig, gesuiwer van selfsugtiges, staatskapers, korruptes en welmenende sosialiste.

Of dit nou die kabinet, die staatsdiens, die privaat sektor of die burgerlike samelewing is – ons het ’n nuwe leierskorps nodig wat gesuiwer is van selfsugtiges, mense wat net aan hulself en hul eie belange dink. So ’n ingesteldheid doen niks vir die land nie en werk meestal téén die gemeenskaplike welvaart en welsyn.

Ons is moeg vir korruptes, staatskapers en Zuptas in ons leierskapstrukture – hulle moet met die volle mag van die reg uit hul poste verwyder en doeltreffend vervolg word. Hiervoor moet leefstyloudits ’n algemene praktyk in veral die staatsdiens en politiek word.

Maar meer as dit, ons is moeg (en baie versigtig) vir welmenende leiers wat beleidsrigtings voorstel wat wesenlik sosialisties is en die land op die duur ekonomies kan verlam. ’n Minister wat in die openbaar sê dat die bekostigbaarheid van ’n gesondheidstelsel nie sy probleem is nie, hoort nie in die kabinet nie.

Ons wil hê ons leiers moet volgens alle grondwetlike waardes lei.

Ons wens vir ’n nuwe leierskorps . . .

Goeie beleidsrigtings

Die moontlike onteiening van landbougrond sonder vergoeding dra baie by tot beleidsonsekerheid in die land. Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Goeie beleidsrigtings behels méér as net beleidsekerheid.

’n Mens hoor baiemaal van ekonome dat “beleidsekerheid” nodig is. Maar sekerheid van swak beleid is nie goed genoeg nie.

Om seker te wees jou eiendom kan of gáán gevat word, laat jou nie daarin belê nie. Ons wens tweedens vir ’n owerheid wat méér doen as beleidsekerheid – een wat goeie en duidelike beleid daarstel.

Ons wens vir beleide wat bemagtigend is vir die privaat sektor en gewone burgers, beleide wat gestroop is van ideologiese dryfvere en burokratiese rompslomp. Ons land het ’n ekonomiese beleid nodig wat die privaat sektor aanmoedig om werk en welvaart te skep.

Ons land het ’n beleid nodig wat die eiendomsreg in die Handves van Menseregte bevestig en nie verdun nie. Ons het arbeidsbeleid nodig wat soepel is en die ekonomie en werkskepping kan laat gedy.

Ons wens vir beleide wat die staat aanvuur om vennootskappe met die privaat sektor te sluit veral op die gebiede waar die staat nie (meer) die kapasiteit het om dit self te doen nie.

Ons wens vir goeie beleidsrigtings . . .

Die SAL en kie

Kan Suid-Afrika nog die SAL bekostig? Foto: Argief

Daar is onlangs weer in die gat wat SAL genoem word, R5 miljard gepomp – ’n druppel aan die emmer van wat hierdie lugdiens nodig het.

Dit is duidelik dat daar ook etlike ander staatsbeheerde ondernemings is wat nie goed bestuur en bedryf word nie – tot dié mate dat ingeligte kommentators meen dat hulle nie eens weggegee kan word nie.

Ons wens vir ’n Eskom wat goed bestuur word, sodat verhogings in dubbelsyfers die uitsondering word en nie die reël is nie, en waar dieselfde waar is van kragonderbrekings en beurtkrag.

Ons wens vir ’n openbare uitsaaier wat nie deurgaans op die rand van bankrotskap is en permanent in krisisbestuur is nie.

Ons wens dat ons belastinggeld beter aangewend sal word as om gebruik te word om gebrekkige en wanbestuur te beloon deur voortdurende reddingsboeie.

Ons wens vir goed funksionerende staatsbeheerde ondernemings . . .

Rassepolarisasie en intimidasie van minderhede

Julius Malema, leier van die EFF, veroorsaak polarisasie tussen Suid-Afrika se rassegroepe. Foto: Argief

Die hoofdrywer van rassepolarisasie, Julius Malema, is tans besig om selfs sy eie vorige rekords van haatspraak en rassepolarisasie te oortref.

Die onlangs gepubliseerde konsepwet op Billike Indiensneming (praat van ’n anomalie!) gaan, as dit goedgekeur word, rassekwotas vir alle fasette van die Suid-Afrikaanse samelewing die norm maak.

Dit gaan rasseminderhede nog verder in die land van hul geboorte vervreem en intimideer. Ons wens dus vir ’n land waar rassepolarisasie met die minagting wat dit verdien, bejeën word. ’n Land waar Malema en diesulkes hulleself deur hul uitlatings as irrelevant as blote geraasmakers bewys.

Ons wens ook vir ’n land waar daar nie meer teen minderhede op grond van hul ras gediskrimineer word nie en waar hulle tuis voel om tot die land en al sy mense se welvaart by te dra.

Ons wens vir verdraagsaamheid en ’n verwelkoming van diversiteit. Ons wens vir gewone ordentlikheid in hoe Suid-Afrikaners met mekaar omgaan.

Ons wens vir goeie rasseverhoudinge en waardering van minderhede deur die meerderheid . . .

’n Op en wakker burgerlike samelewing

Burgerregte-organisasies soos die Ahmed Kathrada-stigting het ’n groot rol in die val van die Zuptas gespeel. Foto: Argief

Die burgerlike samelewing was instrumenteel om apartheid teen te staan. Dit het ook ’n beslissende rol in die val van die Zuptas gespeel. Dit speel steeds ’n belangrike rol om Suid-Afrika van Zupta-invloede vry te maak. Maar ná die eerste demokratiese verkiesing in 1994, het die burgerlike samelewing mettertyd spreekwoordelik op sy louere gaan rus en minder doeltreffend geword.

Dit is aangehelp deur die nuwe regering se aandrang dat buitelandse finansierders die geld wat histories aan burgerlike samelewingsorganisasies gegee is, eerder na die nuwe legitieme regering moet kanaliseer. Toe die kwynende kapasiteit van die staat op vele terreine in die vroeë 2000’s duidelik geword het, en veral toe die Zupta-regime ’n werklikheid geword het, het die burgerlike samelewing as’ t ware “opgestaan”. En vandag is die resultate duidelik. Die gevaar is dat met die nuwe daeraad van pres. Cyril Ramaphosa die burgerlike samelewing mettertyd weer sy waghondrol gaan laat verslap.

Ons wens is dat die burgerlike samelewing nie (weer) op sy louere gaan rus nie, maar waaksaam sal bly oor die Grondwet en grondwetlike waardes.

Ons wens vir ’n aktiewe en immerwaaksame burgerlike samelewing . . .

’n Gesamentlike poging

Theuns Eloff

Terug by die harde werklikheid van Desember 2018. Ons wense vir ’n nuwer Suid-Afrika gaan nie deur ’n mitiese Kersvader (miskien genaamd Cyril?) toegestaan word nie. Trouens, daar is geen enkeling wat dit kan doen nie. Hierdie vyf wense (en ander) sal slegs vervul word as alle Suid-Afrikaners hul rol speel en hul deel doen. Dit sal natuurlik help as ons leiers die voortou neem, maar uiteindelik sal dit ’n gesamentlike poging verg. En dit is moontlik.

Maak dus klaar met 2018 se werk en gaan rus. En begin dink aan jou rol in die verwesenliking van die groot vyf wense vir ’n beter Suid-Afrika.

* Dr. Theuns Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting.

Meer oor:  Julius Malema  |  Cyril Ramaphosa  |  Theuns Eloff  |  Kwotas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.