Wapenstorm: Te midde van ’n oplaaiende internasionale storm oor moontlike Britse wapenverskaffing aan Suid-Afrika, het die Britse premier, mnr. Edward Heath, gister in Nieu-Delhi weer sterk standpunt ingeneem teen lande wat ’n beleid van isolasie en geweld teen Suid-Afrika verkondig.
Klipmoord: Die geheimsinnige klipmoord op Worcester het gister ’n nuwe wending geneem deurdat ses nie-blankes in verband daarmee ondervra is. Die polisie is besig met ’n uitgebreide soektog na die moordenaars van die 64-jarige mnr. J. H. de la Rey Brits wie se lyk op 16 Desember langs die pad buite die dorp aangetref is. Sy kop was met ’n klip verbrysel.
Quo vadis, kuspad? Die Nasionale Vervoerkommissie het nog nie finaal afgesien van die plan om die nuwe kuspad deur Gordonsbaai te laat loop nie, het mnr. J. Driessen, Sekretaris van Vervoer en voorsitter van die Vervoerkommissie, gister in ’n telefoongesprek gesê.
Terro’s gedood: Portugese magte het verlede maand altesame 180 terroriste in Angola geskiet en 34 gewond, het die nuusagentskap Ani berig.
Aanwas bedreig Kleurlinge: Die ongekende bevolkingsaanwas (sowat 3½ persent per jaar) onder Kleurlinge hou ’n groot gevaar vir hul ekonomiese en maatskaplike welsyn in. Vooraanstaande sosioloë, medici en politici is dit eens dat gesinsreëling onder die Kleurlinge dringende aandag moet geniet.
Drie dae, twee motors: ’n Sewentienjarige meisie wat twee motors binne drie dae gesteel het, is gister in die kinderhof in Kaapstad na ’n nywerheidskool verwys.
Keenstraat? ’n Naamlose straat wat agter die Hotel Rotunda in Kampsbaai van Victoria-weg na The Drive loop, sal moontlik na mnr. A. F. Keen, voorsitter van die Kaapse stadsraad se geriewe- en gesondheidskomitee, genoem word.
Persoonlik: Adj.off. A. P. de Beer van die speurdiens in die Paarl is gekies tot voorsitter van die Paarlse Tuinbouvereniging in die plek van wyle mnr. J. J. (Koos) van der Merwe.
Advertensie: Edworks. Skoolskoene vir seuns. Swart/bruin nommers 7-9½: R2.99