Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
50 Jaar gelede in Die Burger | 13 Februarie 1970

Olie op land: Ru-olie is by Colchester, 35 myl noordoos van Port Elizabeth, ontdek. Hoewel nog proewe geneem word om vas te stel in watter hoeveelhede die olie beskikbaar is, lyk dit in hierdie stadium nie of dit winsgewend ontgin kan word nie. Mnr. B. V. Olivier, waarnemende hoofbestuurder van Soekor, het gesê die ontdekking is baie bemoedigend. “Nou kan die net nouer getrek word. Ons weet nou waar ons kan soek en waar ons kan boor.”

Kiesers se wil: Die aanstaande verkiesing gaan nie oor skinderstories of klein dingetjies nie. Elke kieser moet weet dat hy op stemdag die lot van Suid-Afrika in sy hande hou. So het mnr. P. W. Botha, Minister van Verdediging en leier van die Kaaplandse Nasionale Party, gisteraand op ’n Nasionale vergadering in die Maitlandse stadsaal gesê. ’n Kenmerk van die vergadering was die groot en by tye uitbundige geesdrif van die sowat 500 aanwesiges.

M.C.C besluit: ’n Verkorte toer van twaalf wedstryde – vyf toetse en sewe wedstryde teen graafskappe – is die antwoord van die Engelse Krieketraad op die dreigemente van betogers wat die Springbokke se toer wil verongeluk.

Skilder herdenk: Sowat 140 skilderye en grafiese stukke deur Hugo Naudé is opgeneem in die oorsigtentoonstelling van sy werk in die Nasionale Kunsmuseum in die Kompanjiestuin wat deur Jean Welz geopen is. Die versameling is aanvanklik verlede jaar in Pretoria vertoon om saam te val met die 100ste geboortedag van Hugo Naudé.

Grondpryse styg skerp: Die groot sukses wat grondspekulante behaal het, het veroorsaak dat baie meer mense op hierdie manier probeer geld maak en dit het die pryse van woonerwe geweldig laat styg. So het mnr. H. de G. Laurie, hoofbestuurder van Sanlam, gister in Kaapstad getuig voor die kommissie van ondersoek na die hoë pryse van stedelike woonerwe. “As die aanbod van woonerwe groter word, behoort die pryse gestabiliseer te word,” het hy gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.