SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Aktueel
50 Jaar gelede in Die Burger | 13 Januarie 1969

Suid-Afrika-Huis in Londen onder beleg: Suid-Afrika-Huis het gisteraand sleg deurgeloop toe groepe betogers wat verydel is in hul pogings om Rhodesië-Huis te beset, skielik daarheen gestorm het. Hulle het die polisie onverhoeds gevang en al die groot toonvensters en nog tientalle kleineres stukkend geslaan. In een stadium het hulle byna daarin geslaag om ’n sydeur oop te breek. Toe die betogers by Suid-Afrika-Huis opdaag, was daar geen polisiemanne nie. Die hele polisiemag was by Rhodesië-Huis saamgetrek.

Dolfyne verdrink by Vishoek: ’n Skare van sowat tweehonderd mense het gistermiddag by Vishoek ’n slagting onder ’n skool dolfyne aanskou. Vyf dolfyne van ’n skool wat in die baai gespeel het, het verdrink toe hulle in ’n net gelok is. Duikers en vrywilligers het in die see gespring en daarin geslaag om sowat vyftien van die dolfyne uit die net te bevry.

Noodvlug vir vrou en kind: ’n Polisiesersant van Beaufort-Wes is gistermiddag laat op slag dood toe die motor waarmee hy en sy gesin ná ’n naweek op Willowmore huis toe op pad was, in ’n ongeluk was. Sy vrou en een van sy seuntjies is ernstig beseer en twee ander seuntjies is lig beseer. ’n Dakota-ambulansvliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugmag het vanoggend omstreeks eenuur van Ysterplaat opgestyg om die beseerde vrou en seuntjie na die Karl Bremer-Hospitaal te gaan haal.

Lyk gruwelik vermink: Die gruwelike moord op mnr. F.J.L. (Fritz) Botha van Pretoria, wie se verminkte lyk Saterdag in ’n rivier in die Vrystaat gevind is, lewer in hierdie stadium twee tergende vrae op: Waarheen was hy op pad, en wat wou hy daar gaan doen?

Boeing moes omdraai: ’n Boeing 707 van die Suid-Afrikaanse Lugdiens op ’n vlug na Londen moes gisteraand na die lughawe Jan Smuts terugkeer kort nadat dit om sewe-uur opgestyg het. Die vliegtuig het wiel- en remmoeilikheid ontwikkel.

Masels kan haar nie keer nie: ’n Matriekmeisie van Bellville wat verlede jaar so siek was dat sy van haar vakke tuis onder spesiale toesig geskryf het, het in al ses haar vakke A’s gekry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.