Slagting gestaak: Die dertig maande oue burgeroorlog in Nigerië het gister dramaties tot ’n einde gekom. Biafra het hom ná hardnekkige verset waarin miljoene mense gesterf het, aan die federale regering oorgegee en versoek dat die “bloedvergieting onmiddellik beëindig word.” Kort voordat genl.maj. Philip Effiong – hy is deur genl.maj. Odumegwu Ojukwu in beheer van Biafra gelaat – sy volk versoek het om die wapens neer te lê, het ’n Biafraan oor die radio uitgeroep “Mag God ons help in hierdie uur van nood!” Biafra het glo die wapen opgeneem op grond van hul gevoel van onveiligheid wat veroorsaak is deur die gebeurde in 1966 toe duisende Ibo’s uitgemoor is.
Vliegtuig val op huis: Drie blankes is gister net ná 1:15 nm. op slag dood deurdat die twee-motorige vliegtuig waarin hulle was by Bethlehem neergestort het nadat dit teen die dak van ’n woonhuis op die hoewe van mnr. F.T. Edeling jr. gebots het. Die oorledenes was mnr. E. F. Laschinger, besturende direkteur van Dowson en Dobson van Johannesburg, mnr. P. Filmalter, ’n afdelingsbestuurder van die maatskappy, en mnr. Lui Marucchi van dieselfde maatskappy. Mnr. Edeling se buurman het ’n geweldige slag gehoor en die wrak van die sessitplek-Commanche in mnr. Edeling se tuin sien lê. Die Edeling-gesin is met vakansie langs die Natalse kus. Die insittendes van die vliegtuig is almal op slag dood. Ambulansmanne het gesukkel om die lyke uit die wrak te bevry. Al drie die mans is erg vermink.
Seldsame voël: Maande se toewyding en geduld is onlangs beloon toe amptenare van die afdeling fauna en flora van die Departement van Natuurbewaring in Jonkershoek daarin geslaag het om die seldsame Knysna-loerie vir die eerste keer in die geskiedenis in gevangenisskap te laat broei. In die meeste gevalle was die eiers geil of het die kuikens binne die eerste drie dae doodgegaan. Jonkershoek se kuiken is reeds twee maande oud en vorder goed.
Advertensie: Kleding gemaak van Spinlene polyester dra, was en lyk mooi.