Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
50 Jaar gelede in Die Burger | 14 Januarie 1970

Vlug na Portugal: Die Biafraanse leier, genl.-maj. Odumegwu Ojukwu, wat spoorloos uit sy verwoeste land verdwyn het, het gister in Lissabon skuiling kom soek. Portugese woordvoerders wou nie bevestig of hy in Lissabon is nie. Volgens Ojuwu het hy nie gevlug nie, maar om verdere bloedvergieting te voorkom en internasionale hulp te organiseer.

Muise oor droogte? Die droogte in die distrik Vredenburg is moontlik die oorsaak van die ernstige plaag nagmuise wat nou daar ondervind word. Die grond wat deur die droogte uitgedor word, is die ideale aanteelplek vir muise. Die distrik het altyd las van muise, maar volgens ’n boer van Vredenburg, mnr. A. Bester van die plaas Blomfontein, is die plaag vanjaar die ergste sedert 1963. In daardie jaar was ’n spesiale gifstof per vliegtuig van Duitsland gebring om die plaag te bestry. Stoppellande, feitlik al weiding wat nog vir vee in die distrik oor is, word deur die muise kaalgevreet. Hulle doen hul vernietigingswerk net snags. Bedags grawe hulle gate van selfs vyf voet diep in die sanderige grond. Op plekke is dit so erg dat daar nie met ’n bakkie oor die lande gery kan word nie.

In Groote Schuur: Mev. Ursula Zoellner, moeder van prof. dr. Barnard se verloofde, is Maandagoggend in die Groote Schuur-Hospitaal opgeneem. Haar dokter wou nie sê wat sy makeer nie, maar haar toestand is bevredigend. Die toestand van mnr. Pieter Smith, Suid-Afrika se langslewende hartoorplantingspasiënt, was gisteraand ook bevredigend. Hy is ’n week gelede weer in die hospitaal opgeneem.

Ondersteuners en betogers bots: Polisie wat die Springbokke by hul hotel in Limerick (Ierland) bewaak, het gisteraand uit onverwagte oord moeilikheid gekry toe ’n groep Ierse ondersteuners van die Springbokke en anti-apart­heids­­betogers voor die hotel slaags geraak het. Sowat dertig lede van ’n regsgesinde groep, die Ierse Nasionaliste, het nege myl van Limerick na die buitedistrik, waar die Springbokke se hotel is, gemarsjeer. Daar was geen ernstige beserings nie en niemand is sover bekend in hegtenis geneem nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.