Haweplan vir Kaapstad: Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie het in beginsel besluit om ’n reuse-droogdok, wat skepe van tot 400 000 ton sal kan hanteer, in die Kaapse hawe te bou, het dr. G.S.J. Kuschke, voorsitter van die N.O.K., aangekondig. Die projek kan tot R20 miljoen kos.
Moenie so dig wees nie: Die Regering gaan wetgewing in die komende Parlementsitting indien om die digtheid van woonbuurte in stedelike gebiede te beheer, word verneem.
Daaglikse brood: Twee direkteure van Rieses Delicatessen in Hoofweg, Seepunt, het gister . . . in Kaapstad verskyn op vier aanklagte dat hulle brood op Sondae gebak, verkoop, verskaf en afgelewer het.
Droogte wurg: Die omgewing van Willowmore verkeer in die wurggreep van ’n droogte wat in hierdie eeu nog nie sy gelyke daar geken het nie. In sommige dele voer mens en dier al die afgelope ses jaar ’n stryd om te bestaan. Duisende diere is al dood en talle boere het al hul plase verlaat om elders ’n verdienste te soek.
Oliekrisis: Samesprekinge tussen die wêreld se vernaamste olieprodusente en die Westerse oliemaatskappye het op ’n dooiepunt uitgeloop. In ’n communiqué wat gister uitgereik is, word die moontlikheid genoem dat dit binne drie weke ’n afname van 85 persent in die wêreld se olievoorrade tot gevolg kan hê.
In die pad gesteek: Dertig munisipale Kleurlingarbeiders van Robertson wat oor ’n loongeskil ’n dag lank geweier het om te werk, is gister summier deur die stadsraad afgedank. Die raad het besluit dat hulle die “verkeerde metode” gebruik het om hoër lone te probeer kry.
Totsiens, tafeldruiwe: Die eerste tafeldruiwe van die seisoen is gister in die Tafelbaaise hawe na Brittanje verskeep. Bolandse wingerdboere verwag vanjaar rekord-oeste.
Persoonlik: Mnr. D.J. Kritzinger, hoof van die Laerskool Parow, sal vandag en môre van 9 vm. tot 12-uur op kantoor wees om ouers te spreek en nuwe leerlinge in te skryf.
Advertensie: OK: Simba skyfies – alle geure; 150 g pakkie – 19c.