Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
50 Jaar gelede in Die Burger | 17 Oktober 1970

Gereg slaan toe: Die polisie en die verkeersafdeling van die Kaapse Afdelingsraad het gisteraand en vanoggend vroeg hard op misdadigers en verkeersoortreders in die Skiereiland toegeslaan. Operasie Skoonmaak het om sewe-uur in Elsiesrivier, Athlone, en binne die grense van die Kaapse Afdelingsraad begin.

Kerk se besluit: Die samewerking van die owerheid moet verkry word vir bestryding van die onrusbarende gevolge van geboortebeperking in ons land, onder meer deur wetgewing wat die verspreiding van voorbehoedmiddels betref doeltreffender sal beheer. So lei ’n aanbeveling wat gister in Pretoria deur die Algemene Sinode van die N.G. Kerk op sy sitting goedgekeur is. Daar word ook gevra dat ondersoek ingestel moet word na watter stappe gedoen kan word om die euwel in die algemeen te bestry en kinderryke gesinne aan te moedig. Op ’n vraag of die aanbeveling alle rassegroepe geld, het die moderator, dr. J.D. Vorster, gesê: “Ons stel dit, broer, vir wie daarvan kennis wil neem.”

Twee ton: ’n Bantoe en twee Bantoevroue is gisteroggend vroeg op Kinkelbos in hegtenis geneem – met byna twee ton dagga in hul besit. Die arrestasie is gedoen nadat ’n rooi bakkie kort ná sesuur gisteroggend deur ’n padblokkade van die Spoorwegpolisie gejaag het en agternagesit is. Die waarde van die dagga word geraam op sowat R50 000.

Weer in warm water: Mnr. Douglas Mitchell, omstrede Natalse leier van die Verenigde Party, is gister oor die kole gehaal deur die Daily News oor ’n uitlating wat hy op ’n politieke vergadering gemaak het. Volgens hom het die regering ’n obsessie met die swartman, terwyl dit tyd is dat hy ook iets vir die witman doen.

Vasgebind en verbrand: Die erg verbrande lyk van ’n bejaarde weduwee van die plaas Quarrie, sowat 16 km van Napier, is gisteroggend vroeg in haar brandende huis aangetref. Haar voete en hande is vasgebind. Sy was die tagtigjarige mev. Hannie Fourie, wat lank alleen op die plaas geboer het. Mev. Fourie se handtas word vermis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.