Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
50 Jaar gelede in Die Burger | 25 Februarie 1970

Jaap Marais skok: ’n Skokkende onderhoud met mnr. Jaap Marais, L.V. en onderleier van die Hertzogparty, het gister in die Londense Times verskyn en is deur dié koerant gebruik om Suid-Afrika venynig aan te val. Die geval herinner Suid-Afrikaners in Londen aan die tyd ná 1948 toe die Verenigde Party die Britse pers nog openlik gebruik het om die gevoel teen die Nasionale regering in die buiteland op te sweep. Mnr. Marais het in sy onderhoud met The Times te velde getrek teen die “inmenging van politieke vryhede van enkelinge in Suid-Afrika”.

Sterftes in sneeu: Sneeustortings in die Europese Alpe het gister in Frankryk en Switserland nog 35 lewens geëis. Elf inwoners van Reckingen (Switserland) is lewend onder die sneeu begrawe deurdat ’n storting die slapende dorpie in die vroeë oggend gedeeltelik verwoes het. Baie van die slagoffers was offisiere in die Switserse leër wat by ’n lugafweerstasie op die dorpie gestasioneer was. Uit Grenoble (Frankryk) word berig dat ’n sneeustorting twee hotelle en die dorpie Lans-le-Villard in die Maurienne-vallei verwoes het. Ses mense is dood. Dit is nie ver van Val d’Isère, waar ’n seeustorting veertien dae gelede die lewe van 39 vakansiegangers geëis het nie.

Proefbuisbabas voorspel: ’n Toekomsbeeld van die grootskeepse produksie van babas is gister opgeroep deur die nuus dat ’n Britse vrou gereed is om die moeder van die wêreld se eerste proefbuisbaba te word. Bedenkinge is ge­opper teen ’n proef wat ’n ginekoloog, dr. Patrick Steptoe, sou neem. In die proef word die eiersel van ’n vrou verwyder, met die saadsel van haar man bevrug en dan in die baarmoeder geplaas. Vyftig vroue was nou vir soortgelyke operasies deur dr. Steptoe. Dr. Kit Pedler van die Universiteit van Londen het gesê as die metode algemeen gebruik sal word, sal jy ’n metode hê om grootskeeps mense sonder die heeltydse gebruik van ’n moeder te vervaardig. ’n Generaal kan gelas dat 100 000 soldate vervaardig word. Dit is ’n kwessie van ingenieurswese.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.