Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
50 Jaar gelede in Die Burger | 7 November 1969

Zogge skok: Skokkende propaganda vir hulleself word deur die Hertzog-party gemaak in ’n uitgawe van hul beleid. Die stuk, ’n hersiene weergawe van die ontwerp wat op hul inligtingskongres gedien het, word ingelei deur die volgende aanprysing: 1. Vir die eerste keer het ons nou ’n party wat gegrondves is op die onfeilbare woord van God. 2. Vir die eerste keer kry die Afrikaner nou ’n Christelik-Nasionale party. 3. Vir die eerste keer het ons nou ’n party wat onbeskaamd Afrikaans is. 4. Vir die eerste keer word die Afrikaanse taal nou aanvaar as die taal van die Republiek van Suid-Afrika. 5. Vir die eerste keer kom die Afrikaner nou eerste in sy eie land. Hierin word die historiese en prinsipiële ontwikkelingslyn van die nasionale strewe weerspieël waardeur die H.N.P. (die Hertzog-party) onderskei word van alle ander partye in Suid-Afrika, soos ook die geval was met sy egte voorgangers. Hierdie aansprake wat vir die Hertzog-party gemaak word, laat Nasionaliste se asem wegslaan van verwondering.

Laaste aardskokke: Die aardskuddings in die Boland was ’n buitengewone verskynsel. Geoloë verwag nie dat daar nog aardskuddings in die volgende paar miljoen jaar sal wees nie, het dr. A.O. Fuller, ’n senior lektor in Geologie aan die Universiteit van Kaapstad, gister in Kaapstad gesê. As in aanmerking geneem word dat daar jaarliks sowat 150 000 aardskuddings oor die wêreld heen voorkom, kan die mense in hierdie geteisterde gebiede hulleself gelukkig ag, het dr. Fuller gesê.

Christus-figuur in kuns: Die Christus-figuur in die hedendaagse kuns is een van die sekerste tekens van die tye. Twee moderne werke waarin hy optree, is Beckett se verhoogstuk waarin twee boemelaars by die Kruisboom wag op Godot (’n verkleinwoord van God?), wat nooit kom nie, en Pasolini se film The Gospel According to St. Matthew, “ ’n prent wat die heiligheid en durf van Christus met groot eerbied weergee”. Die voorstelling van Christus het ’n beeld geword van die mens se psigoses en neuroses, en die soeke van die waarom en waarheen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.