Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
50 Jaar gelede in Die Burger | 8 Augustus 1969

Ruilhart-pasiënt sieker: Dit gaan sleg met Dorothy Fisher, Suid-Afrika se vyfde hartoorplantingspasiënt. Die anti-limfosietserum wat aan haar toegedien is om as ’n immuno-suppressiewe middel te dien, het haar gewrigte en bene kwaai laat swel, en haar toestand het die laaste paar weke versleg. Sy is Vrydag na die Groote Schuur-hospitaal gebring vir ’n roetine-ondersoek nadat haar toestand ’n tyd lank nie bevredigend was nie. Daar is ontdek dat dit met haar slegter gaan as wat aanvanklik vermoed is, en sy is nou terug in die afdeling vir intensiewe behandeling.

Drifige teenstand: Gevoelens het gisteraand hoog geloop in Goodwood, waar sowat tagtig belastingbetalers in die stadsraadsaal vergader het om ’n “verduideliking” te vra vir die heruitlegplan van hul dorp, wat verlede week aangekondig is. Twee mans het mekaar ná die vergadering gegryp en ’n verslaggewer van Die Burger moes hom ná twee taai klappe uit die voete maak. Mnr. John Marshall, stadsingenieur van Goodwood, het gesê die probleem van Goodwood is deeglik aangepak. Die Administrateur het die heruitleg aangevra nadat Goodwood hom herhaaldelik met ontwikkeling vasgeloop het.

Lewe op Mars? Die ontdekking van tekens wat op ’n geringe mate van lewe op die rand van Mars se suidpoolstreek kan dui, is gister deur ’n skeikundige van die Universiteit van Kalifornië bekend gemaak. Instrumente van Mariner 7 het Maandag, toe die ruimtetuig naby die oppervlak van Mars verbybeweeg het, getoon dat daar metaan en ammonia op die planeet is. Dit is twee van die belangrikste bestanddele wat lewe moontlik maak.

Nuwe kompleks: Vanaand vind seker die belangrikste sosiale geleentheid van die jaar in Pretoria plaas wanneer die eerste drie van Ster-Films se tien nuwe teaters in ’n reuse-kompleks geopen word. Wie ook maar van belang is, sal daar wees, en nie net plaaslik nie – bekende rolprentsterre is vir die geleentheid uit die buiteland gebring, terwyl ook die groot filmmaatskappye hulle hoë verteenwoordigers gestuur het. Die kompleks het sowat R2 miljoen gekos.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.