Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
50 Jaar gelede in Die Burger | 8 Oktober 1969

Nuwe leier verkies: Mnr. Thomas Robert Swartz, hoofleier van die Federale Kleurling-Volksparty, is aangestel as voorsitter van die Uitvoerende Bestuur van die Verteenwoordigende Kleurlingraad. Dit beteken dat hy “hoofminister” van die Kleurling-parlement word.

Nuwe party gestig? Die toekomsplanne van die weerbarstiges sal na verwagting vanaand bekend word op die saamtrek wat hulle in die stadsaal van Pretoria-Noord beoog. Dit is feitlik ’n uitgemaakte saak dat hulle ’n nuwe politieke party teen die Nasionale Party gaan stig. Mnr. Jaap Marais, L.V. vir Innesdal, het gister in ’n verklaring bekend gemaak dat hy vanaand saam met die ander twee geskorste L.V.’s, dr. Albert Hertzog en mnr. Louis Stofberg, op die verhoog sal wees. Dit beteken dat mnr. Marais sy skorsing as ’n voldonge feit aanvaar.

Hoër salarisse: Aansienlike verhogings in salarisse vir verpleegsters en paramediese personeel van provinsiale hospitale is gister hier met die L.U.K. belas met hospitaaldienste, mnr. K. de Haas, aangekondig. Die verhogings wissel tussen 20 en 60 persent. Paramedici met ’n baccalaureusgraad se aanvangssalarisse is van R1680 na R2400 verhoog.

Klok stil: Die kerkklok het Sondag op Princ­e Alfred Hamlet nie gelui nie, want ook op hierdie dorpie is die kerktoring in verlede week se aard­bewing gekraak. Van die sowat 100 huise sal 19 op die dorp en 6 in die onmiddellike omgewing beslis gesloop word. Sowat 5 huise is ernstig beskadig.

Erika Theron skryf: Van iemand uit Bloemfontein het ek ’n brief ontvang wat so begin: “As Vrystater wat lief geword het vir die Boland en alles waarvoor Ceres, Tulbagh en Wolseley staan, moet ek vanaand vir iemand skryf. Wat ek wil of kan sê, weet ek nie . . .” Sy eindig die brief met: “Tog ken ek u mense goed genoeg om te weet hoe dapper hulle dié tyd sal deursien.”

Uitverkoop: Die eerste Afrikaanse oplaag van etlike duisende van prof. Chris Barnard se boek Christiaan Barnard – een Lewe, is reeds uitverkoop voordat dit op 20 Oktober op die mark verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.