Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
50 Jaar gelede in Die Burger | 9 Oktober 1969

Ramp op ramp: Die rampdorpe Ceres, Tulbagh en Wolseley, wat nege dae gelede deur ’n aardbewing op hul knieë gedwing is, is gistermiddag deur ’n geweldige haelstorm, kwaai rukwinde en gietende reën getref. Gisteraand het talle mense die nag met nat komberse tegemoetgegaan. Verslae inwoners het in motors geslaap of op ander dorpe gaan skuiling soek. Die reën en hael het uitgesak te midde van verskeie aardskuddings, en rotsstortings het in die passe van die omgewing voorgekom. Van die beskadigde huise se mure het verder ingetuimel en oral het tente omgewaai gelê in die gietende reën. Ook Saron en die Goudastasie, 22 myl buite Tulbagh, is swaar getref. ’n Hewige aardskudding het weer die plek geruk en van die meer as tweehonderd beskadigde huise het ’n hele paar ingestort. Op Ceres het dienspligtiges onophoudelik gewerk om paniekbevange inwoners te help om weer hul tente op te slaan. Ou spoorwegwaens gaan nou deur die Spoorweë aan hawelose mense beskikbaar gestel word as tydelike huisvesting by die ou stasie op Ceres. D. Herman Reinach, burgemeester van Ceres, het ’n dringende oproep op die mense van ander gebiede gedoen om woonwaens en opslaanhuise aan die mense in die rampgebied beskikbaar te stel.

Reën ook elders: Berigte van welkome reën is gister uit bykans alle dele van Kaapland ontvang. Die droogte is egter nog nie gebreek nie. ’n Verwoestende haelbui het eergister laat oor Philipstown getrek en tuine en boorde ernstig beskadig.

Pers se taak: Gemeenheid teenoor en doelbewuste aftakeling van Suid-Afrika in die pers is onvergeeflik, het dr. C.P. Mulder, Minister van Inligting, Volkswelsyn, Pensioene en Immigrasie, gister in Port Elizabeth gesê. Hy het die 68ste jaarlikse kongres van die Suid-Afrikaanse Persunie geopen. Dr. Mulder het gesê met die oog op die oningeligtheid van die mense in die buiteland, rus daar ’n belangrike taak op die pers. Laat elke koerant Suid-Afrika as ’n goeie vriend behandel.

Advertensie: Lag die hele pad bank toe by ons bank. UDC Bank Bpk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.