Voorbladfoto-onderskrif: Met die oog op die Rio-wedvaart wat môre in Kaapstad begin, verskyn berigte oor die vaart vandag in Die Byvoegsel.
Sport kos geld: Dit is weer die tyd van die jaar wanneer oupa sy kleinseun na die winkel neem om vir hom die sterkste rugbytrui en die beste stewels uit te soek. Met die opening van die skole ondervind die winkels in Port Elizabeth ’n stormloop van al wat oupa, ouma, pa en ma is om kinders vir die komende skoolseisoen uit te rus. Sportuitrusting vir hul kinders kan nogal ’n aardige bedraggie uit ouers se sakke jaag. As die kind ’n sportliefhebber is speel seuns gewoonlik rugby of krieket en soms tennis. Om in al die behoeftes te voorsien kan dit ouers maklik in die omgewing van R100 kos.
Syfers styg: Die algemene styging in die getal kriminele sake, huwelike, dagvaardings wat uitgereik is en geregtelike ondersoeke wat in Port Elizabeth gehou is, is wat ’n mens in normale omstandighede van ’n stad van Port Elizabeth se grootte te wagte kan wees, het ’n woordvoerder van die landdroshof in Port Elizabeth vanoggend gesê.
Vis dra klere: Dis nie aldag dat ’n mens sonder aas aan die hoek ’n vangs maak nie, veral nie as dit ’n vangs van 96 pond is nie. Hierdie “geluk” het Deon Freemantle (10) van Murray-straat 8, Despatch te beurt geval toe hy op pad was om Kabeljou op Swartkops te gaan vang. In die straat voor hul huis het hy Saterdagaand gesukkel om sy handlyn, wat geknoop was, los te kry. Ten einde raad het hy besluit om sy lyn met gewig en hoek aan te swaai om so die knoop los te kry. Christo Welgemoed (13) van Murraystraat 9, was op die sypaadjie op pad na Deon, want die twee sou saam gaan visvang. Sommer met sy eerste swaai maak Deon toe sy “groot vangs”, want hy haak vir Christo so 2.5 cm bokant sy linkeroog. Was dit ’n bietjie laer, kon Christo sy linkeroog verloor het. Volgens Deon was dit die gouste wat hy nog ’n vangs by hom gehad het, want binne ’n sekonde of twee was Christo by hom.