Voorbladfoto-byskrif: “Dis lekker water, oom”, skree klein Francis le Roux vir haar oom, mnr. O.P. le Roux van die Hankey-distrik. Mnr. Le Roux het gister sterk water op die plaas van sy broer, mnr. Jannie le Roux, gekry. Mnr. Jannie le Roux se plaas, Rooivlakte, is buite Hankey, en lê volgens die mening van geoloë in ’n gebied waar dit geld- en tydmors is om water te soek. Die Le Rouxs het met die hulp van ’n plaaslike waterwyser die geleerde sleg in die skande gesteek. “Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg”, sê mnr. Le Roux.
Ruk u reg: ’n Nuwe “regmaker” sal binnekort te koop wees om mense “reg te maak” nadat hulle te diep in die bottel gekyk het. Dit sal die alkohol in die bloed binne 20 minute laat verminder. Dit is eintlik ’n poeier wat vir ’n geleentheiddrinker bedoel is. Sodra dat hy ’n drankie te veel gedrink het, kan hy ’n dosis neem, en binne 20 minute sal hy weer klopdisselboom wees.
Wil uitbrei: Die geldsakekomitee van Port Elizabeth se stadsraad sal ’n aanbeveling doen dat, onderhewig aan die goedkeuring van die Administrateur, die slangpark, museum en oseanarium ’n lening van R150 000 toegestaan word. Die lening, waarvan R140 00 vir die bou van ’n nuwe tropiese tenk en R10 000 vir verbeterings aan die oseanarium is, sal oor 20 jaar teen ’n rentekoers van 8 ½ persent per jaar terugbetaalbaar wees.
Ontploffing: WINDHOEK. – ’n Geheimsinnige ontploffing het gisteraand oor Aus in die suide van Suidwes voorgekom. Dit het gelyk soos ’n satelliet of ’n vliegtuig wat in die lug ontplof het. Hoewel rookwolke glo gesien is, is geen slag gehoor nie. Die eienaardige verskynsel is ook deur inwoners van die myndorpie Rosh Pinah en Oranjemund gesien. Daar bestaan ’n moontlikheid dat met ’n reuse soektog in die woestyn wes van Aus begin sal word om te probeer vasstel wat presies gebeur het. Volgens skatting moes die ontploffing sowat 10 000 m bokant die aarde voorgekom het en sowat 33 km wes van die dorp. Volgens een van die inwoners van Aus het dit byna soos ’n komeet gelyk.