Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
7 sakke sout lê op SA se pad
Suid-Afrika het die toon in Afrika aangegee in die wêreldwye stryd om mense se soutinname te verminder, maar trap nou water daarmee, skryf Karen Charlton en Alta Schutte.
Grafika: Hanlie Malan, Grafika

Drie jaar nadat Suid-Afrika sy dapper kosbeleid bekend gestel het – en minder as ’n jaar voordat dit wet word – is daar steeds geen program om te monitor hoe doeltreffend die wetgewing sal wees nie.

Ideaal gesproke moes verwysingsopnames oor soutinname oor die land heen nou al gedoen gewees het. En wanneer die wetgewing in werking tree, kan opvolgstudies gedoen word om inligting te kry wat die wetgewing kan steun. Daar is nog geen sprake daarvan nie.

In 2012 was Suid-Afrika op die voorpunt met die ontwikkeling van wetgewing wat soutperke in verwerkte kos sal beheer.

Net ’n handjievol lande het die wetgewingsroete gevolg – waarskynlik omdat dit so moeilik is om dit toe te pas. Onder dié lande is Portugal, België en Finland.

Suid-Afrikaners gebruik gemiddeld tussen 7,8 g en 9,5 g sout per dag. Dit sluit in die sout wat reeds in kos is, asook dit wat aan tafel bygevoeg word. Dit is sowat 1½ teelepel sout per dag en is heelwat meer as die aanbevole 5 g (’n teelepel) per dag wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) aanbeveel word.

Die WGO raam dat die gemiddelde wêreldwye soutinname sowat 10 g per persoon per dag is.

’n Dieet met ’n hoë soutinname saam met vinnige verstedeliking, hoë vetinname, blootstelling aan chroniese stres, tabakgebruik, alkoholmisbruik en ’n lae aktiwiteitsvlak het gelei tot ’n kommerwekkende toename in nie-oordraagbare siektes, veral hiperten-sie. ’n Eeu gelede was dit moeilik om iemand met hoë bloeddruk in Afrika op te spoor. Vandag is Suid-Afrika die hoofsentrum van dié probleem. Tot 80% van alle mense bo 50 ly daaraan.

Wêreldwyd is nie-oordraagbare siektes, wat ook kardiovaskulêre siektes insluit, jaarliks verantwoordelik vir twee derdes van alle sterftes. Dit kom neer op 36 miljoen sterftes, en hartaanvalle en beroertes is boaan die lys van oorsake.

Tot 80% van hartaanvalle en beroertes by jonger mense kan voorkom word deur leefstylveranderings. Deur soutinname te verminder, verlaag jy bloeddruk.

Suid-Afrika se konsepwetgewing om soutinhoud in kos te beperk, was die gevolg van internasionale politieke druk en plaaslike navorsing.

Ingevolge die konsepwetgewing moet die soutinhoud van brood, die grootste bydraer tot soutinname, verminder word. Dit sal ook lei tot ’n laer soutinhoud in margarien, sop, aftreksels en ’n groot klomp ander verwerkte kos, soos vleisprodukte, beskuitjies, kitsnoedels en souse.

Verskeie sektore in die kosbedryf was gekant teen die konsepwetgewing. Hulle meen dit sal tegniese probleme veroorsaak, veral in broodbakkery.

Maar navorsing het bewys die voorgestelde 2016-vlak van 400 mg sout per 100 g brood is haalbaar sonder ’n groot verskil in smaak, voorkoms of verbruikersweerstand.

Die afname sal beteken dat daar minder as ’n kwart teelepel sout in elke drie snye brood is. Saam met ’n afname in sout in ander produkte sal die soutinname in Suid-Afrika met 0,85 g per persoon per dag daal. Dit klink dalk onbenullig, maar dit kan lei tot ’n wesenlike verbetering in die bevolking se gesondheid.

Uit ’n gesondheidsoogpunt word bereken dat só ’n afname sal lei tot 10% (7 000) minder sterftes per jaar weens hartaanvalle en 4 000 minder nie-dodelike beroertes.

Die gesondheidsdienste sal tot R300 miljoen bespaar as net die nie-noodlottige beroertes verminder kan word.

Suid-Afrika se konsepwetgewing word deur die WGO beskou as een van die beste benaderings van die voorkoming van kardiovaskulêre siektes.

In 2011 het invloedryke leiers op ’n VN-vergadering konsensus bereik dat ’n verlaging van sout­inname een van die vyf wêreldwye prioriteite moet wees om dié siektes te bekamp.

In daardie stadium het 32 lande, meestal in Europa, reeds inisiatiewe gehad om sout­inname te verminder. Dit sluit in herformulering, verbruikersbewusmaking en inligting op kos­etikette. Dié getal het intussen meer as verdubbel tot 75.

Net twee Afrikalande – Suid-Afrika en Mauritius – is op die lys en net Suid-Afrika gaan wet­gewing instel.

Brittanje is die suksesvolste voorbeeld van ’n land met vrywillige soutperke. Die doelwitte is in 2003 deur die Food Standards Agency ontwikkel en het die veldtog Sid the Slug behels. Die boodskap was dat sout slakke doodmaak en mense derhalwe ook kan benadeel.

Teen 2010 is die soutinhoud in verwerkte kos met tussen 20% en 30% verminder van die 2008-vlakke.

Die gevolg is dat die soutinname met 1 g per persoon verminder is en sodoende is 8 000 sterfgevalle voorkom. Daar was ook ’n afname in gevalle van hipertensie en sterftes weens beroerte.

Ons sal nog moet sien of Suid-Afrika se wetgewingsroete meer geslaag sal wees as die vrywillige vasstelling van perke in Brittanje. Daar is verskeie slaggate wat dinge moeilik kan maak.

Vir eers is daar die moontlikheid dat mense self meer sout by verwerkte kos kan voeg as die soutinhoud daarvan verlaag word. Om dit teen te werk, het die nasionale departement van gesondheid R5 miljoen bewillig vir ’n veldtog, Salt Watch, om gesonde koskeuses aan te moedig en mense in te lig oor die verband tussen sout en bloeddruk.

Tweedens sal die inwerkingstelling van die wetgewing gemonitor moet word. Gegewens oor soutinnames sal ingesamel moet word as deel van die huidige nasionale gesondheidsopnames.

As die staat, soos vermoed word, nie die nodige geld gee nie, sal daar ander maniere gevind moet word om dit te finansier.

Die wêreld hou Suid-Afrika dop. Maar om die impak van die sout-strategie te monitor, sal ’n geïntegreerde benadering deur die staat, akademici en nie-regeringsorganisasies verg. En dit moet aangedryf word deur ’n stryder met sy oog op ’n laer soutinname.

■ Prof. Charlton is verbonde aan die mediese skool van die Universiteit van Wollongong in Australië en prof. Schutte is direkteur van die navorsingspan oor hipertensie in Afrika aan die Noordwes-Universiteit.

Die artikel word gepubliseer met die vergunning van www.theconversation.com.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.